Skip to main content

Isaac Cloete 

Namakwalanders juig omdat onwettige immigrante eindelik na hul lande van herkoms teruggestuur gaan word.

Die groep van 90 delwers vorm deel van verskeie mense wat onlangs by uitgewerkte diamantmyne by Nuttabooi, Oubeep, Bontekoe en Kleinzee gearresteer is vir onwettige delwery, volgens die polisie- woordvoerder, kol. Mashay Gamieldien.

Die betrokke diamantmyne is in Namakwaland en lê verwaarloos, terwyl daar ook nie toesig of omheinings is nie. Dis hier waar die delwers gereeld slaags raak met die owerhede en private sekuriteit.

Volgens Gamieldien is die verdagtes van Springbok onderweg na die Lindela-repatriasiesentrum in Gauteng, waar hulle sal bly totdat hulle gerepatrieer word.

Die 90 verdagtes is onder die 110 mense wat verlede week gearresteer is tydens ‘n operasie van die polisie en ander wetstoepassende owerhede.

Gamieldien het gesê 104 ongedokumenteerde mense het hierna in die Springbok-landdroshof verskyn, op klagtes wat verband hou met die immigrasiewet.

‘n Totaal van 90 verdagtes is skuldig bevind en met deportasie-lasbriewe gestraf. Sowat 300  onwettige mynwerkers is tydens die polisie-operasie by die verlate myne aangetref.

Die gesamentlike operasie was daarop gemik om onwettige mynaktiwiteite te staak, onwettige mynwerkers in hegtenis te neem, vir die identifikasie en verwerking van ongedokumenteerde persone en die konfiskering van mynwerktoerusting wat gebruik is, het Gamieldien verduidelik.

Volgens haar het die polisie tussen 2018 en 2021, ‘n totaal van 868 arrestasies gemaak vir onwettige mynbou en mynverwante oortredings in die Port Nolloth- en Kleinzee-omgewing.

Inwoners van Port Nolloth het egter vertel dat daar steeds hordes onwettige buitelanders, van byvoorbeeld Mosambiek en Zimbabwe, in die omgewing rondloop of skuil.

Blykbaar bly hulle in hokke in die agterplase van plaaslike inwoners in die Sizemele township van Port Nolloth.

“Hier is hulle betrokke by die verkoop van byvoorbeeld drank aan ons plaaslike jong meisies,” het een besorgde ouer anoniem vertel.

Volgens Edmund “Steyn” Crew, een van die leiers van die plaaslike delwers, vlug die buitelanders na die koppies wanneer die polisie toeslaan. Hierna keer hulle terug en gaan net voort met hulle bedrywighede.

“Ek soebat al so lank dat wetstoepassers die ongedokumenteerdes en onwettiges uit ons omgewing moet verwyder.”

Hy voel ook onstuimig oor die konfiskering van persoonlike eiendom en toerusting.

“Mense het hard gewerk om aan iets te kom, nou word hulle verder in armoede gedompel weens die beslagleggings. Intussen bevoordeel wetgewing net die groot mynhuise. Ons bly dus aan die kortste end trek.”

Verder hoop hy dat Namalandse leiers hulle vingers ‘n slag uit hulle agterente sal trek en vir die plaaslike inwoners gaan intree.

“Hulle beteken niks vir ons nie, want hulle is te swak en te verrot. Hulle lag eerder soos hiënas by die kostafels van hulle kapitalistiese base.”

Leave a Reply