Solank Willem met sy hande kan werk
Willem Pretorius se skilderye is tans baie versamelbaar en gewild, en daar is self ’n boek waarin van die land se beste plaaslike skrywers sy skilderye “verwoord”. Gerald Eloff het met dié formidabele kunstenaar, pa van agt kinders en inwoner van Rosendal in die Vrystaat gaan gesels.
In die fotoboek Iewers êrens, uitgegee deur Protea Uitgewers in 2022, het bekende skrywers en mediapersoonlikhede soos Lien Botha, Dana Snyman en Deon Maas jou werke “verwoord”. Hoe was jou ervaring van dié proses? Voel jy dat die skrywers suksesvol in hul taak was?
Dit was lekker om te sien wat die deelnemers oor die spesifieke werk skryf, en interessant om te sien hoe mense daaroor voel. ʼn Voorbeeld: In die eerste storie wat Dana Snyman geskryf het, beskryf hy hoe ʼn bus sukkel om teen ʼn bult op te kom. Toe ek dit lees het daai beeld my teruggevat na my skooljare. ʼn Ander skildery van ʼn ou kar wrak het Gert Vlok Nel beskryf as “Die wit wrak van die agterplaas van sy lewe” – dit is verskriklik treffend. Ek het dit gesien en geskilder en toe hy dit sê, toe dink ek: “Presies! Dis presies wat ek voel oor die werk!”
Is daar ʼn tema wat jy nie sal aanpak nie, of eerder: ʼn toneel wat jy nie sal skilder nie, of wat jou koud laat?
Daar is soveel onderwerpe wat al “doodgeverf is”. Soos die Groot Vyf of vissershuisies. Ek het al ʼn seetoneel ʼn paar jaar gelede met ʼn geroeste Volkswagen Passat in ʼn parkeergebied in Ramsgate in Natal geskilder. Dit het vir my die storie van Ramsgate vertel, ʼn real vertelling van die gebied in daai stadium. Ek dink die landskap is baie meer wreed as wat ons besef. Dis hoekom ek slaggate in paaie, lemmetjiesdraad en plastieksakke in die veld skilder. Blomme het ek al probeer, maar dis nie my ding nie. Ek moet dit “voel”, en blomme het ek nie gevoel nie.
Voor jy ʼn toneel aanpak om te skilder, neem jy die “verkoopbaarheid” daarvan in ag? Kom ons sê as voorbeeld, jy sal besluit om die Hillbrow toring te skilder omdat so baie mense bekend is daarmee, en daarom sal dit die kans verhoog om dit te verkoop?
Ek skilder nie noodwendig vir die mark nie maar ek weet daar is werk wat meer verkoop, byvoorbeeld die swembad-reeks. Dis uiters versamelaar – daar is byvoorbeeld net een swembad op Trompsburg en een weergawe van daai swembad. Hoe meer bekend ek word, hoe meer vryheid het ek om te skilder wat ek wil. Ek skilder byvoorbeeld nie donkiekarre bloot net omdat dit verkoop nie. Dit is baie bevrydend om op daai punt te wees – om te skilder wat jy wil.
Jou vrou, Linda saam met wie jy op Rosendal woon, is ook ʼn ywerige kunstenaar. Hoe vul julle mekaar in die kreatiewe proses aan?
Ek dink nie daar is ʼn plek waar ons mekaar aanvul nie – ons style verskil hemelsbreed. Ons is wel nie in kompetisie met mekaar nie. Dit is vir my lekker om te sien hoe impressionisties en “dik” sy verf en, dink ek, vir haar om te sien hoe realisties my werk is. Wat tog lekker is, is dat ons deesdae baie saam uitstal – en ek dink tog dat haar rowwer en losser werk, in kontras met my meer realistiese benadering mekaar dalk komplimenteer.
ʼn Plattelandse dorpie soos Rosendal moet vir seker sy uitdagings vir ʼn kunstenaar van jou kaliber hê. Hoe oorkom jy dié uitdaging?
Dis eintlik vir my baie lekker om op ʼn klein dorpie te bly. Dis goedkoper as die stede en ek het baie tyd. Die feit dat jy ver van alles af is – hoewel jy gewoond raak daaraan – raak soms ʼn uitdaging. Ek moet twee kere ʼn week alles los om dorp toe te ry vir inkopies, of ons moet ver ry as ek uitstal. Genadiglik, het die internet ʼn helse verskil in ons lewens gemaak. Ek bestel byvoorbeeld my verf aanlyn en twee dae later lewer die koerier dit af. My kliëntebasis is ook aanlyn, op Facebook of Instagram. So ek het nie regtig kopers nodig wat hierheen kom om te koop nie.
Jy het in ʼn onderhoud met die joernalis Henry Cloete in 2017 gesê dat jy as kunstenaar nooit wil voel dat jy “arrive” het nie en dat jy wil aanhou groei. Hy voel jy het jou werk sedert toe verbeter? En is jy steeds as kunstenaar aan’t groei?
Dis moeilik. ʼn Mens verkoop goed, maar steeds wonder jy of die werk relevant is. Dis egter nie ʼn slegte plek om te wees nie – in jou my kop is daar altyd plek vir verbetering. Ek voel altyd, dat met die volgende kunswerk gaan ek dit bietjie verder vat. Ek hoop nie ek gaan ooit voel dat ek “arrive” het nie. Ek dink Rosendal help daarmee – dis feitlik net Linda wat my werk en prosesse sien.
Die swembaddens op die platteland wat jy geskilder het, was baie gewild. Is daar nog soortgelyke reekse soos dié in die pyplyn, en indien wel, watter reekse beoog jy om nog aan te pak?
Die swembaddens het toevallig gebeur. Ek het Senekal se swembad geverf. Nadat ek oor die muur geklim het, het ek foto’s geneem en toe besef dis wat ek nog altyd wou gesê het met my werk. Die agteruitgang, maar die natuur wat dit met tyd terugneem. Ek het al treine, graansilo’s en ou karre as ʼn reeks geverf, maar die swembaddens was vir my meer spesifiek. Wat lekker van die swembad-reeks is – as jy een besit, kan jy ry na die dorp toe waar dit geverf is en kyk hoe die swembad lyk. Ek is egter besig om aan ʼn tweede Anglo-Boere-oorlogboek saam met prof. Fransjohan Pretorius van Tukkies oor veldslae en gebeure te werk. Dit gaan chronologies wees – van die eerste skote wat geklap het tot die Vrede van Vereeniging. Dit gaan ʼn spesifieke reeks wees met genommerde skilderye waarmee jy die vordering van die oorlog kan volg. Dis egter nog in die beplanningsfase. Hopelik teen 2024.
Benader jy ʼn kommissie (as iemand jou opdrag gee om iets te skilder) anders as ʼn persoonlike werk waar jy self die onderwerp en tema kies?
Ek doen baie min kommissies. Ek het ʼn rukkie gelede vir ʼn boek van Karel Schoeman ʼn portret vir die voorblad geskilder. Ek vra maar eers vir die foto om te kyk of ek daarmee kan connect – dis net soveel makliker met my eie foto’s – ek was self daar, en onthou hoe warm dit was, ens. Ek kan die oomblik herleef, wat ek nie kan doen met ʼn verskafde foto nie.
Waaruit bestaan jou skilderroetine? Dit moet sekerlik soms ʼn uitdaging wees met ʼn kroos van agt wat julle boonop tuisonderrig, altyd in die omtrek?
In die verlede het ek net in die aand gewerk toe die kinders nog klein was. Ek bou my eie doeke, wat gewoonlik in die dag gebeur – dan skilder ek saans. Die afgelope tyd werk ek meer in die dag, die jongste een (kind) is darem al vyf. Deesdae sal ek die doek op die esel hê, die middag begin uitblok en na aandete aangaan. Ek gebruik oorfone wat geraas uitskakel en ek luister oudioboeke terwyl ek verf. As ek my oë uitvee, het drie ure verbygegaan.
Sal jy ʼn taal, of spesifieke kultuurgroep koppel aan jou werk? Of eerder – is jou werk onder spesifieke kultuurgroepe meer gewild?
My werk verkoop eksklusief net aan Suid-Afrikaners – expats in Noord Amerika, Kanada asook in Nederland en groot dele van Europa, maar glad nie in Australië en Nieu-Seeland nie. Ek dink dis die Suid-Afrikaanse landskap wat in my werk so erkenbaar is. Dis seker maar die verlange wat ʼn rol hierin speel. Baie stedelinge koop my werk, en snaaks genoeg, verskriklik baie Kapenaars.
Indien jy nie ʼn kunstenaar as beroep gekies het nie, wat anders sou jy wou doen?
Ek hou baie daarvan om met my hande te werk. Ek is ook lief vir Bonsai-bome en hengel. Dit sou my baie gelukkig gemaak het as ek ʼn werkswinkel gehad het om goed te bou. Maar vir nou, sal ek eers aanhou skilder.