Hoogste woon-wolkekrabber in Afrika het kultuur van sy eie
Vra die ouer garde oor Hillbrow, en jy gaan hoor van ’n boheemse kultuur met polsende klubs, koffiewinkels en boekwinkels. ’n Plek waar intellektueles, byderwetses en kreatiewes bymekaar kon kom en in die hoogty van apartheid kon tuisvoel. Na ‘n staptoer deur Hillbrow, herroep Gert Basson die glorieryke era waarin die Ponte-toring as landmerk geskitter het. Dit speel weer ‘n kernrol in die herlewing van die gebied.
Vandag is Hillbrow en omstreke ’n nes van dwelms, geweld en prostitusie. Jy ry liefs om die stad as wat jy dit waag om deur dié vervalle, eens beroemde buurt in die middestad van Johannesburg te ry. Selfs Uber-bestuurders waag dit nie om saans in Hillbrow besigheid te doen nie.
Al is die kanse skraal dat Hillbrow sal terugkeer na die gloriedae waarvan Johannes Kerkorrel so begeesterd sing, is daar ’n organisasie wat hoop het vir die nou gevreesde buurt. En nuwe lewe daarin probeer blaas met onder meer staptoere en ’n toer van die ikoniese Ponte-toring.
Dlala Nje is in 2012 deur twee Suid-Afrikaners, die TV-joernalis Nickolaus Bauer en die ouditeur Michal “Loopy” Luptak, begin toe albei self in die Ponte-toring gewoon het.
“Hulle het vriende en kennisse hierheen gebring om vir hulle te kom kuier en hulle het gou die nuuskierigheid en opgewondenheid in hul besoekers se oë gesien,” vertel Grant Ngcobo, ’n toergids vir Dlala Nje.
Nickolaus en Loopy het toe besluit dit help nie hulle bly op die boonste verdieping van die wolkekrabber en doen niks aan die uitkringende probleme nie. Hulle begin toe Dlala Nje. Dit beteken ‘Just Play‘ in Zoeloe.
Die organisasie bied selfs ’n “Ponte-wedloop” aan waarin waaghalsiges en fikses die 54 verdiepings kan uitdraf!
Benewens die toere en die wedloop, het die organisasie ook ’n gemeenskapsentrum met ‘n naskool vir die kinders in die omgewing waar hulle in ’n veilige gebied kan speel, huiswerk doen en ’n warm maaltyd kry.
Die 24 jarige Grant is self ’n produk van Dlala Nje. Sy ouers woon in die Ponte-toring en hy het op die ouderdom van 16 jaar by Dlala Nje aangesluit en by die naskoolsentrum ingeskakel.
“Dlala Nje het verhoed dat ek in die strate uithang en aan dwelms en drank blootgestel is. Vandag het ek ’n werk danksy die organisasie.”
Grant neem ons op ’n staptoer deur die buurt.
Die snerpende koue traak die inwoners van Hillbrow min. Af in die straat staan die Telkom-toring afgeëts teen ’n vleklose blou lug. Taxis toet en snel verby terwyl groentesmouse jou aandag probeer lok.
“Ons probeer mense wat op die staptoer kom, aanmoedig om by smouse te koop. Die vrugte en groente is altyd vars en dit help weer die klein besighede in ons omgewing. Ons probeer om almal hier op te beur en te help,” verduidelik Grant.
Vra jy hom oor die misdaad in die omgewing, ontwyk sy oë joune.
“Dit is maar ’n probleem. Dit is nie veilig om in die aand in die strate rond te loop nie, maar die gemeenskap is keelvol. Die gemeenskap het ’n stelsel. Daar is ’n hulpkreet. As ’n vrou se handsak byvoorbeeld gesteel word, sal sy ‘vula’ skree en die gemeenskap sal die tsotsi agterna sit en self in hegtenis neem.”
Hillbrow bly ’n misdaadgeteisterde buurt. Volgens Crime Stats SA was daar in 2019 nagenoeg 111 moorde, 873 gevalle van diefstal en 142 verkragtings in Hillbrow. In die aangrensende woongebied Berea was daar in die ooreenstemmende tydperk 7 moorde, 99 gevalle van diefstal en 5 verkragtings.
Grant neem ons na ’n plaaslike taverne in een van die systrate. Selfs op ’n weeksdag pomp gqom-musiek, gewilde elektroniese dansklanke, uit die luidsprekers.
’n Groepie mans sit in die hoek. Hulle is omring met ’n rookwolk en die handgerolde sigaret word in die rondte aangegee. ’n Soet reuk dryf ons kant toe.
Elkeen van die groep word ’n Black Label-quart gegee. Daar is nie iets soos glase nie en jy drink hom so van sy ma af.
’n Stuk brisket-vleis, pap met chakalaka en marog word vir ons bedien. Vergeet ook van eetgerei, hier eet jy met jou Godgegewe hande.
Met vol pense neem Grant ons terug na Dlala Nje se hoofkwartiere in die Ponte-toring.
Hy sluit een van die dakwoonstelle op die 54ste vloer oop.
“Dié woonstelle is gebou om twee verdiepings te hê, maar deesdae is hulle net een vloer.
“Mense kan hierdie woonstel uitboek vir funksies. Dit is toegerus met twee badkamers en ’n kroeg.”
Vandag kan Grant ons nie op ’n toer van die geskiedkundige gebou vat nie, maar stop vir ons elkeen ’n bier in die hand en gee ons ’n paar oomblikke om die uitsig van die hele Egoli in te neem voor hy ons die geskiedenis van die landmerk-gebou vertel.
“Besighede het uit die gebied onttrek en daarmee saam ook die beleggers. Inwoners van Ponte het hul woonstelle net so gelos en laat spaander. Selfs die eienaar van die gebou het alles net so gelos en oorsee gegaan. Dit is toe dat die slum-lords toegeslaan het.”
Gou was die gebou wat in 1975 gebou is vir die ryker middelklasvlakke, oorgeneem deur bendes, dwelmhandelaars en prostitute.
Grant vertel verder Ponte het in ’n stadium ook as die “selfmoordtoring” bekend gestaan. “Jy kan jou net indink hoe depressief mense hier geraak sonder water of elektrisiteit. Hulle het by die vensters uitgespring, maar weens al die rommel sou hulle ’n gebreekte been of rug opgedoen het. Dit moes ’n aaklige en stadige dood gewees het.”
In 2001 het nuwe bestuur die gebou oorgeneem en die bendes, misdadigers en prostitute is uitgegooi.
In die laaste twee dekades is die gebou weer herstel tot ’n volwaardige woonstelblok waar huurders elke maand hul huur moet betaal. Meeste eenhede is oorgedoen en die gebou het weer water en elektrisiteit.
“Hier is mense van verskeie agtergronde,” verklap Grant. “Hier woon onderwysers, prokureurs, studente en selfs ’n dokter of twee. Baie probeer net so hard soos ons om Ponte weer te herstel tot ’n leefbare omgewing vir almal.”