Skip to main content

Die voormalige president van Amerika, Donald Trump, het sosiale media gebruik om sy hartseer te deel nadat sy eerste vrou, Ivana Trump, in New York oorlede is.

Die Tsjeggies-gebore Ivana was ‘n model toe sy Donald leer ken het. Sy is die ma van sy drie oudste kinders, Donald jnr., Ivanka en Eric en was aan haar man se sy in die 1980s tydens sy opkoms wat tot magnaat-roem sou lei. Blondekop Ivana het gou voorste sosiale vlinder-status geniet en was net so bekend as haar man.

Die glanspaartjie is in 1992 geskei. Ivana het tydens die peperduur egskeiding nog meer beroemd geraak met haar pikante raad aan ander evas: “Don’t get mad, get everything.” Dit het vir baie vroue in egskeidingsake ‘n soort credo geword, veral as hul met ryk mans getroud was. Dis ook as basis van die gewilde fliek The First Wives Club gebruik.

Daarna het Ivana besluit om haar eie reekse klere, mode-juweliersware en skoonheidsprodukte te begin. Sy het ook boeke geskryf, sowel as die outobiografie Raising Trump.

Volgens mediaberigte is Ivana oorlede op 14 Julie by haar huis in Manhattan. Sy is bewusteloos op die trappe in haar spogtuiste in Central Park  gevind. Die kantoor van die mediese ondersoekers in New York het probeer vasstel of die val van die trappe af haar dood veroorsaak het. Intussen is bevestig en berig dat haar dood ‘n ongeluk was.

Oud-pres. Trump het die nuus van haar dood só op sosiale media gebreek: “Ek is baie hartseer om almal wat haar liefgehad het, waarvan daar baie is, in te lig dat Ivana Trump in haar huis in New York oorlede is.

“Sy was ‘n wonderlike en pragtige vrou, wat ‘n inspirerende lewe gelei het. Haar trots en vreugde was haar drie kinders. Sy was so trots op hulle, soos ons almal so trots op haar is. Rus in vrede, Ivana!”

Leave a Reply