Skip to main content

Lumé van Schalkwyk

Die polisie het ‘n 44-jarige man in Bloemfontein gearresteer nadat gesteelde katalitiese omsetters ter waarde van R80 miljoen in sy besit gekry is. Hy is in polisie-aanhouding.

Die eenheid vir georganiseerde misdaad in die Vrystaat het inligting ontvang oor ‘n Bloemfonteinse pakhuis wat moontlik gebruik word om goedere van gekaapte trokke te stoor, sê die polisiewoordvoerder sersant Mahkomola Kareli.

Die polisie het 1 680 bokse gevind met katalitiese omsetters vir diesel-enjins daarbinne.

Kareli sê met die polisie se aankoms Woensdag by die industriële park in Bloemfontein het hulle beide die eienaar van die pakhuis en die verdagte wat sy eiendom daar geberg het, betrap.

Hy sê verdere ondersoeke het aan die lig gebring dat die gesteelde goedere afkomstig is van ‘n vragmotor wat in Mei vanjaar gekaap is. Die vragmotor was op pad na Gauteng vanaf die Oos-Kaap, toe die drywer naby Venterstad deur ‘n groep onbekende mans aangeval is.

Meer arrestasies word verwag soos die polisie die leidrade sal opvolg.

Leave a Reply