Isaac Cloete
Die Noord-Kaapse polisie het sommer gou drie dwelmhandelaars se wind uit hulle gewurg. En so is dwelms ter waarde van ‘n paar honderd duisend rand maklik onderskep.
In een voorval het die polisie van Springbok en van Upington ‘n 34-jarige jakkals vasgetrek vir die besit van 312 Boss Mandrax-tablette. Die waarde word bereken op R24 960, volgens polisiewoordvoerder, kapt. Olebogeng Tawana.
Die gesamentlike span van die polisie het gereageer op ‘n wenk van die publiek. Hulle het ‘n voertuig wat verdag gelyk het, dopgehou. Volgens vooraf inligting was daar ‘n besending dwelms in die voertuig. Die polisie het egter vinnig opgetree en die besending onderskep.
Hy sal na verwagting binnekort in die hof op Springbok verskyn.
In ‘n ander nie-verwante voorval het die snuffelhond Eddie dwelms ter waarde van ‘n paar duisend rand uitgewys. Dit nadat die polisie inligting gekry het dat ‘n vrou by die Hartswater Taxistaanplek uit haar rooi Range Rover met dwelms gesmous het.
Die polisie en hul snuffelhond, Eddie. kon niks in die voertuig vind nie. Later in haar huis in Taung het Eddie die polisie na die slaapkamer van die vrou gelei.
Hier het hulle Tik (12.7gr) ter waarde van R3 810, dagga (5.4kg) ter waarde van R21 600
heroïen (2.85kg) ter waarde van R1 289 850 in die slaapkamer versteek gekry.
Die vrou sal ook binnekort in die hof in Taung verskyn.
In die laaste voorval, het die polisie ook ‘n dwelmverdagte in Prieska se keel toegedruk. Volgens Tawana het die polisie eintlik ‘n verdagte gesoek vir huisbraak. Toe hulle by ‘n sekere huis kom, waar hy na bewering geskuil het, was hy nie daar te vinde nie.
By die huis was ‘n 32-jarige man egter gevind wat die polisie deursoek het. Hulle het op hom Tik(8.84gr) ter waarde van R2000 gevind. Ook is Mandrax-tablette ter waarde van R360, vyf pakke dagga ter waarde van R50 en R360 kontant gevind en afgevat.
Hy sal binnekort in die hof verskyn.
Die polisiebestuur het die polisielede geloof vir hulle uitstekende werk in die Namakwa-, Pixley Ka Seme- en Francis Baard-distrikte in die Noord-Kaap.
“Ons gaan die booswigte se wind uit hulle wurg totdat hulle onwettige bedrywighede versmoor is.”