As die perdeby jou eers gebyt het …
Jy sien hulle by verkeersligte staan. Blink en ge-chrome. Ryers met bypassende baadjies en bybehore. Die Harley-manne knik hulle koppe in erkenning as hulle verbyry. Daar is bladsye op Instagram van skamele geklede dametjies wat poseer op hulle. Daar is die klassieke modelle en daar is die nuwes. Daar is klubs regoor die wêreld – van Indië tot Japan, asook plaaslik. Jy sien hulle in flieks, waar Henry Cavill en Idris Alba op sitplekke hul spiere bult. Dames en here – dié is nie Ferrari nie – dié is die Italiaanse legende – Piaggio Vespa. Gerald Eloff het gaan uitvind waaroor die blink bohaai gaan.
Ryk geskiedenis
Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog was Italië se ekonomie in flarde. Die paaie was onbegaanbaar en motorvervaardigers het noustrop getrek. Die Piaggio-familie was betrokke by die bou van vegvliegtuie gedurende die oorlog en nadat hul Pontedera bomwerperfabriek verwoes is, het hulle die behoefte vir bekostigbare vervoer vir die massas raakgesien. Enrico Piaggio, (seun van Piaggio se uitvinder Rinaldo Piaggio), kry toe die idee vir ʼn tweewielvoertuig wat goedkoop sal wees om te vervaardig, maar ook betroubaar is – perfek dus vir die toe sukkelende Italianers. Die eerste Vespa is ontwerp (nogals van ou onderdele van Mussolini se vliegtuie!) en die res is geskiedenis. As gevolg van die unieke ontwerp, veral die voorste handvatsels en die klank wat die enjin gemaak het, het Enrico Piaggio met die eerste oogopslag gesê: “Sembra una vespa!” (“It looks like a wasp!”) en so het dié uitvindsel ʼn naam gekry.
Die eerste 13 voorbeelde is aan die publiek in 1946 gewys en die aërodinamiese invloede was dadelik te bespeur, die tipiese vliegtuig-tegnologie (veral in die agterkant van die fiets) was opvallend. Dit was ook een van die eerste voertuie wat gebruik gemaak het van mono-kogniese tegnologie (waar die romp deel is van die enjin).
Die maatskappy se ideaal was om groot hoeveelhede te vervaardig en hulle bestaande industriële kennis het tot ʼn Ford-tipe produksielyn gelei. Die fiets was aan die media bekendgestel by die Rome Golf Klub en joernaliste was aanvanklik deur die vreemde, speelse voertuig uitgeboul. Nietemin was die padtoets suksesvol omdat die fiets meer gemaklik was om te hanteer as die tradisionele motorfietse gedurende daardie tyd. Daar is 2 500 fietse in 1947 verkoop, meer as 10 000 in 1984, 20 000 in 1949 en meer as 60 000 in 1950.
Die grootste bemarking vir Vespa was egter vanuit Hollywood! In 1952 het Audrey Hepburn in die sy-kar van Gregory Peck se Vespa vir ʼn rit deur Rome geklim, in die rolprent Roman Holiday. Toe verkoop hulle 100 000 fietse! Dit het egter nie daar gestop nie – in 1956 het John Wayne sy perd ְverruil vir ʼn Vespa om tussen tonele te ry. Toe word Marlon Brando en Dean Martin ook Vespa-eienaars. Die filmmaker William Wyler het gedurende die verfilming van Ben Hur in Rome in 1959, ook vir Charlton Heston afgeneem waar hy tussen tonele op sy Vespa rondrits. Die Italiaanse koeël was spreekwoordelik deur die kerk.
Gauteng se Vespisti
Tony Perreira van Krugersdorp is die eienaar van Movers Speedshop, waar hy Vespa’s restoureer en verkoop. Hyself besit 13 Vespa’s! Die res van sy familie wat ook betrokke is by sy besigheid, besit ʼn verdere nege. Sy SS180 is sy gunsteling. “Hy staan beslis vir my uit”, sê Tony.
“Die SS180 is baie skaars omdat daar nie baie van hulle vervaardig is nie. Die een wat ek tans het, is aangepas met ʼn 244 kit.” Tony raak liries as ons gesels oor wat die fietse spesiaal maak. “Eerstens, is dit die ‘egtheid’ van die fietse. Hulle bestaan uit staalrame, selfs die nuwe modelle, en nie soos baie van die nuwe motorfietse met al die plastiek nie. Tweedens, om aan hulle te werk, is ʼn kuns. Die ratkas is nogal ʼn uitdaging om reg te kry, en jy moet heelwat peuter om die tweeslagenjins perfek te kry – maar as jy dit eers hét, kry jy hierdie ongelooflike gevoel van genoegdoening.”
Dis egter nie nét die Vespa’s self wat vir Tony opgewonde maak nie – maar die eienaars ook. “Die mense wat Vespa’s ry, is van die beste mense wat ek al ontmoet het. Hulle is plat-op-die-aarde en nederig. Daar is ʼn groot verskeidenheid – mense met baie geld, mense wat hulle ry omdat dit hulle enigste vervoer is en mense wat net speel oor naweke. As jy ʼn klomp Vespa’s op die pad sien, sien jy nie die bestuurders nie – jy sien net Vespa’s – dit bring vir my gemeenskappe bymekaar. Almal vergeet waar hulle vandaan kom en wat hulle doen. Hulle wil net ry, ongeag van hoeveel geld jy het of wat jy doen.”
Restourasie lê vir Tony naby aan die hart. “Al hierdie fietse het ʼn storie om te vertel. Terwyl ek een uitmekaar haal vir restourasie, sien ek die verskillende lae verf wat eens op dit was deur die jare. Van die fietse is 50 tot 60 jaar oud en soos jy restoureer kan jy sien of dit professioneel gedoen is en of dit net ʼn ou was wat die fiets op die pad wou hou. Dis wat vir my lekker is – die stories wat aan hulle gekoppel is en die plesier om hulle weer na hul volle glorie te herstel.”
Bruno is tussen Italië en Pretoria
Bruno Gilla is Italiaans en oorspronklik van Kaapstad. Op die ouderdom van sewe jaar was hy al gewoond daaraan om agter op Vespa’s te ry. Die eerste fiets wat hy besit het, was ʼn 1971 Vespa 150 PX, oorspronklik ʼn afleweringsfiets van Arie Nel Apteek, met ʼn groot staalboks agterop. Bruno het steeds die fiets in sy oorspronklike glorie, staalboks en al. “Ek beweeg tussen Sorento in Italië waar ek Vespa Cullinary Tours Italia bedryf, en Pretoria. Met die besigheid neem ek 12 mense per toer op agt toere per jaar waar ons andere Naples, Salerno en Pompei besoek. Gedurende die dag ry almal op Vespa’s. My einddoel is om ʼn kookboek te publiseer, getiteld Vespa Chefs. Ek het 12 Vespa’s in Sorento wat ek ook uitverhuur, my persoonlike versameling bestaan uit drie klassieke Vespa’s en vier moderne, vierslag-modelle.”
So wat verkies hy, die klassieke modelle of die moderne weergawes? “Die verskille is groot,” sê Bruno. As jy ʼn regte Vespista is en ʼn passie vir restourasie het, dan is die tweeslagenjin jou ding. Die vierslagenjin ry baie gemakliker – ek weet van ouens wat hulle so aanpas dat hulle tot 180km/uur kan bereik.”
“Die groter Vespa’s is ideaal vir die toere wat ons doen na plekke soos Clarens en Mosambiek Die nuwe, moderne 300cc Vespa’s gaan deesdae vir R170 000, kompleet met branstofinspuiting en ABS-remme. Indien jy opsoek is na die klassieke-modelle kan jy wegkom met R30 000.”
So. dink Bruno die nuwe Vespa’s is die prys werd? “Persoonlik dink ek dis ʼn bietjie rof, veral as jy hom net oor naweke wil gebruik. Niks het regtig verander aan die fiets nie, dis net die elektroniese elemente wat bygekom het. Die pryse in Suid-Afrika is ook buitensporig, hier word dit bemark as ʼn leefstyl. Daar is heelwat tweedehandse modelle op die mark wat meer bekostigbaar is.”
As die eerste rat klap …
Julian van der Lith is ʼn meganiese ingenieur van Greenside in Johannesburg. Sy fassinasie met die fietse het begin na ʼn besoek in Italië. “Gedurende spitstyd het al die tweeslag-Vespa’s verby die motors gevleg en voor by die verkeersligte gestaan. Die klap-geluid soos die ouens hulle in eersterat sit en die geraas van die enjins was vir my wonderlik!
“Die restourasieproses lê my naby aan die hart. Feitlik die hele fiets is van staal, wat jy maklik kan buig en vervorm. Die algehele ontwerp is robuus wat dit lekker maak om aan te werk.” Julian besit ʼn 1979 125cc Primavera, ʼn 1970 drie-spoed 90cc, ’n 1961 VBB, en sy gunsteling, ’n 1965 VBA 125CC nog in sy oorspronklike toestand.
Die Jozi-ridders
Gauteng is vol Vespa-ridders, sommige Lone Riders, ander weer deel van klubs, soos die Vesperados en Pretoria Vespa Community onder leiding van Bruno Gila.
Johan Jack Smith, tydskrifredakteur, het sy 2008 250 GTS ie in 2021 gekoop.“Ek wou al een besit sedert ek ʼn student was – maar hulle was altyd net té duur. Ek sien toe een onder stof in ʼn ondergrondparkeerarea by ʼn woonstelblok in Parkwood staan, en niemand weet wie die eienaar is nie. Na bietjie speurwerk spoor ek toe die eienaar op, en eers heelwat later het sy ingegee om hom te verkoop.
“Ek het hom huis toe gesleep op ʼn sleepwa, ʼn nuwe battery ingesit en petrol ingegooi, die sleutel gedraai en toe vat hy. Ek het by myself gedink, ‘Magtig, die fiets het sewe jaar gestaan en hy vat dadelik!’ Ek het hom sommer Lazarus gedoop. Om dinge nog beter te maak, het hy net 512km op die spoedmeter gehad. Dit was die bargain van ʼn leeftyd. Ek het intussen al 2 000km gery, al selfs Bloemfontein toe. Mense wat dit hoor dink ek is stapelgek, minwetend dat die outjie tussen 100 en 130km/uur kan haal.”
Die Waarheid se redakteur, Dirk Lotriet, besit ook twee Vespa’s, Hy is besig om beide te restoureer. “Ek het ʼn geel ET 150. Ek was onlangs op die punt om ʼn LX 150 te koop maar dink ek gaan eerder kyk na ʼn PX – daar is goeie kopies daar buite …”
So waarvoor wag jy? Hetsy jy lus is om te restoureer en of jy die langpad wil aanpak, daar is êrens ʼn model net vir jou. Die ouer modelle raak egter al hoe skaarser, net die ander dag het ʼn 1966 model Vespa in Engeland vir 20 000 pond op ʼn veiling verkoop.
Die ysterperd (ek durf nie sê bromponie nie), val nie in almal se smaak nie. Maar indien jy lief is vir mooi lyne, stylvolle ontwerp, Italiaanse styl, betroubaarheid en ʼn vervoermiddel met ʼn ryk geskiedenis, is die outjie dalk net vir jou. En dink net hoeveel brandstof sal jy spaar, en dit terwyl jy boonop koppe by verkeersligte draai?
Moovers Speed Shop Home
https://www.facebook.com/VespaCulinaryToursEatalia/