Skip to main content

Tata buite-braai, kragvriendelike lugblits is hier  …

Elke paar jaar verower ‘n nuwe soort huishoudelike toestel die land. Van televisiestelle in die sewentigs, tot mikrogolfoonde in die tagtigs en tuisrekenaars in die negentigs. Die nuutste gier is lugbraaiers, of air fryers, soos dit in gewone straat-Afrikaans bekend staan. Dirk Lotriet het gaan uitvind waaroor al die lugbraai-bohaai gaan.

In die vroeg-sewentigs kon jy nie ‘n koerant of tydskrif oopslaan sonder om oor ‘n TV-ster te lees nie. Daar was gedurig debate oor swart-en-wit-beeldradiostelle teenoor kleur, hoe naby jy aan die toestel moet sit en die kassie het selfs nuwe meubelstukke, soos die afskuwelike TV-skinkbord, tot gevolg gehad.

Ons was die laaste mense in ons buurt wat ‘n televisiestel gekry het. My pa het gemeen dis ‘n foefie wat sal oorwaai. Nou, vyftig jaar later, kan mens seker aanvoer dat niemand meer of al minder mense TV kyk, maar niemand kan betwis dat die kleinkassie-toestel ‘n hengse invloed op ons almal se lewens gehad het nie.

Verskeie ander mode-toestelle het gevolg – mikrogolfoonde, DSTV-dekodeerders en –skottels, tuisrekenaars, videomasjiene … Deesdae is al wat leef en beef gaande oor hul lugbraaiers – of, soos almal wat ek ken dit noem, hulle air fryers.

‘n Lugbraaier werk baie soos ‘n oond, want dit kan bak en rooster.

Die verskil is egter dat die verhittingselemente net bo-op geleë is. Die hitte word deur ‘n groot, kragtige waaier deur die inhoudsbak verprei, wat daartoe lei dat kos nie net in ‘n japtrap gaar is nie, maar ook bros is – met weinig of geen olie, anders as toestelle wat diepbraai.

Lugbraaiers word blitsig warm en kook kos vinnig en eweredig, danksy die kombinasie van ’n gekonsentreerde hittebron en die grootte en plasing van die waaier.

Lydia Winchester, die doyenne van Afrikaanse musiek en oor die afgelope dekades skakelbeampte van al wat ‘n ster is, is versot op hare.

“Ek is mal daaroor. Ek moes hom lankal gekoop het,” het sy aan Die Waarheid vertel.

“Die eerste keer toe ek hom gekry het, toe maak ek engelvis daarin gaar. Te heerlik! Die ding staan vir niks terug nie. Knoffelrolletjies sommer so in die foelie, Russians … Ek het vir my lekker ribbetjies gekoop wat ek volgende week wil maak. Dis baie vinniger as tradisionele maniere van kook en gebruik veel minder krag.”

Sy sê sy het al selfs gehoor van mense wat koek in hulle lugkokers bak, maar sy het dit nog nie self probeer nie.

“Al my vriendinne wat een het, sê hulle kan nie daarsonder nie. My Indiese vriendin, byvoorbeeld, bak samoesas daarin. Heerlik bros!”

Yolanda Barnard-Lemmer, die skrywer van topverkoper-boeke soos Die Ponies Galop en Siener,  is net so gek oor hare.

Haar man, Rigard Lemmer – eintlik die kok in die huis – glo ‘n lugbraaier kan nie regtig ‘n oond vervang nie, maar “dis net omdat hy nie soveel souse en olies op die kos kan gooi nie. Ek dink dis wonderlik!”

Vir haar is daar nie meer ‘n ander manier om skaaptjops of aartappelskyfies te maak nie. “Dis baie gesonder en dit spaar krag. Dit is die ding van die toekoms.”

Sy vertel egter dat sy ‘n groter model sou koop as sy weer kon kies. “Ons moet soms in paaiemente kook. Ons het gisteraand byvoorbeeld pasteie en aartappelskyfies gemaak. Ons moes eers die tjips gaarmaak, en daarna die pasteie, want ons kon nie alles op een slag inkry nie.”

Janus Snyders van Pretoria dink baie prakties oor sy lugbraaier. “Mens hoef nie ‘n oond aan te sit vir net twee of drie mense nie. Ons kan duidelik sien dat ons baie krag spaar met ons s’n. Ons is ‘n gesin van twee en ons bespaar tot R1 000 per maand.”

Hy dink ook die feit dat die lugbraaier kos baie vining gaar maak, maak sake ook makliker met beurtkrag.

“Ons het al byna alles daarin gemaak – baie meer resepte het deesdae ‘n air fry-weergawe. Ons kon nog net nie die resep vir ribs heeltemal bemeester nie, maar verder was alles ‘n sukses – varktjops, hoendervlerkies, vis …”

Hy maan lugbraaier-kopers egter om in gedagte te hou dat nie alle lugbraaiers dieselfde is nie. “Mens moet bewus wees dat daar verskillende opsies is. ‘n Bak-opsie is belangrik. Ons gebruik die bak-opsie gereeld, want dit droog kos nie so erg uit nie. Ek sou voorstel dat mense ‘n multifunksie-airfryer oorweeg sodat hulle kan eksperimenteer met alles wat dit bied.”

In die meeste moderne kombuise is toonbankruimte ‘n warm kommoditeit. Selfs wanneer jy baie daarvan het, is dit maklik om toestelle op te gaar. ‘n Lugbraaier is egter een waarvoor jy net plek sal wil maak. Almal rondom jou doen dit immers.

Leave a Reply