Skip to main content

Kan katswink-reënboogdroom herrys?

Laas maand was dit 27 jaar gelede dat Madiba, wat ewelank in die tronk was, saam met die Bokkaptein Francois Pienaar die Wêreldrugbybeker triomfantelik op Ellispark gelig het. Die landwye euforie daarna was deel van ons toe trotse reënboognasiedroom. Diė droom se vader, Desmond Tutu, asook Madiba is sedertdien dood. Ditto die patriotiese reënbooghoop. Boonop beleef die mensdom een van die mees uitdagende eras nog. Pandemie-grendels, vrese vir ‘n wêreldoorlog, grootskaalse korrupsie en onrus, politici-met-voete-van klei, werkloosheid en stygende lewenskoste het almal, ook hier, aan die strot. Met beurtkrag wat ons reeds lae moraal donkertoe moker. Sonnette Lombaard het by Suid-Afrikaners gehoor hoe hulle die krisistyd hanteer en nog hoop hou.

Onlangs was die Afriforum-teater in Pretoria se ooste volgepak, met opera-doyenne Mimi Coertse en haar dogter Mia in die voorste ry. In afwagting vir die spesiale Sondagkonsert vir onse Mimi ter viering van haar 90ste verjaarsdag. ‘n Breinkind van Mimi om ons agtergeblewe operasterre ‘n hupstoot te gee, was die gaskunstenaars. The Black Tie Ensemble wys ons land se diepgaande musiek- en spesifiek operatalent manjifiek af. Vir diė spogmiddag was die operagroep saamgestel uit 12 oudlede waarvan net drie blank was. Die swart lede se roerende uitvoering, in suiwer Afrikaans, van twee van Mimi se gunstelinge Boereplaas en Ramkiekie het almal moeiteloos meegevoer. Harte het onbeskaamd patrioties gebult en vergete volksversugtinge is wakkergeruk oor wat ons land met sy veelsydige talente kan bereik as ons verenig en saamstaan. Boonop het sakeman Louis Liebenberg, die konsert se hoofborg, aangekondig dat hy ‘n verdere R300 000 skenk vir die groep om hul unieke talent landwyd te neem.

Sulke sprankies van nasiehoop wil die landsvuur onder genoeg Suid-Afrikaners lewendig blaas. Al kry ons menswees en nasieskap hoe swaar tans onder aanslae uit alle windrigtings. Gemasker moes ons saam met die res van die wêreld die uit-die-bloute-pandemie en sterftes en gepaardgaande grendels trotseer. Dit het ongekende braafheid geëis, vanjaar aangevuur deur vrese vir ‘n Derde Wêreldoorlog nadat Rusland vir Oekraïne binnegeval het in ‘n durende oorlog. Met gevolglike kos- en brandstofskaarstes en stygende lewenskoste. Op die tuisfront is dit ewe beroerd met korrupte leiers en politici se vergrype nooit uit die nuus nie, en het die onrus, dood en verwoesting in KZN en Gauteng die land in 2021 lamgeruk. Voorts bly die werkloosheidsyfer klim en val al hoe meer Suid-Afrikaners vas – baie moedeloses vlug landuit soekend na “makker” weivelde elders. Binne diė oorleef-wurggreep worstel ons deur ‘n nagmerrie met min vooruitsigte. Die harde realteite wat deurlopend neerplof, verlam ook ons psiges en gees en nasieboupogings wat vir baie Suid-Afrikaners naby breekpunt is. Maar hoop skuil juis helder in donkertes …

In die middel 1990s het Vicky Samson se trefferlied My African Dream ons tydsgees toe perfek vernoot. Vir baie Afrikaanssprekendes het diė droom intussen geduik. ‘’Alles moes en sou verander na 1994. Dit het enigeen met ‘n oop kop gewéét. Maar hoe dit so ver kon gaan, terwyl ons bewus daarvan was, gaan my te bowe. Ek het my apaties begin oriënteer. My bakleifut het plek geruil vir oorlewing. Om sover doenlik daai ligpuntjies van hoop (ultimaties gesproke beskaafdheid) wat soms opflikker, toe te eien en weer momenteel te hoop,” bieg Charles Thompson, boer van buite Pretoria.

Die Bosveldse egpaar Martin en Reta Lombaard wys daarop dat ‘n reënboog ‘n illusie is, ditto die reënboognasie. ‘’Fundamentele verskille verklap die verskil tussen suksesvolle en mislukte samelewings. Suksesvolles vereis ’n sekere etos, die omvattende term vir wêreldbeskouing, kultuur en waardes, diep ingewortel en ontwikkel deur eeue. Die grootste meerderheid mense in ons land het nie diė eienskappe om in ’n moderne wêreld suksesvol te funksioneer nie. Wat die totale mislukking in byna elke Afrikastaat verklaar. ‘n Kunsmatige borrel het lewe in die reënboogidee geblaas, wat deur die realiteite gebars is.”

Prof. Anne-Marie Beukes, hoof-uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, meen dat die reënboogmetafoor ‘n doel gedien het in die eerste jare van ons nuwe demokrasie, maar nou behoort ons ons gemeenskaplikheid raak te sien en uit te leef in ‘n konstruktiewe naasbestaan. ”En hoewel gemoedens laagtepunte bereik, woon ons in ‘n lieflike land met lieflike mense.” Sy glo in ander lande gaan mense ook deur verskillende hoogte- en laagtepunte. “Ons is dus nie uniek nie. Hou die blink kant bo,” is haar raad.

Nog ‘n Pretorianer wat nie wil opgee nie, is sakeman-ontwikkelaar Eben Venter. “Die aanslae en uitdagings is geweldig groot, amper oorweldigend. Gelukkig is ek ‘n kind van die Afrikaner wat nie terugdeins vir sulke uitdagings nie. Ek glo ons is hier aan Afrika se suidpunt met ‘n doel geplaas. Ons kan in sulke tye ‘n verskil maak deur positief en kreatiewe oplossings vir die uitdagings te vind en te implimenteer.

“Dis belangrik is om buite die boks te dink en 120% toewyding te wys om planne te laat realiseer. Ek glo vas in ons nasie se potensiaal en wil om saam bo uit te kom. Die moraal is baie laag, maar kan omgedraai word as ons eerlik is oor dit wat ons kelder soos korrupsie, BEE en equity.” Hy is oortuig as ons leiers (polities- sake- en geestelike leiers) voorraadopname doen en die 100 beste leiers die geleentheid gee, draai ons die land in 10 jaar om. “Ons het die hulpbronne waarvan ons mense die belangrikste is.” Die teendeel is egter ook waar, gee Eben toe, want karring ons aan op die huidige trajek gaan ons die einde met pyn, lyding en hongersnood tegemoet.

Theresa Schoeler van Witbank meen ook daar is nog hoop vir ons land. Al bevind sy haar ook soms op ’n donker plek. “Dan dink ek weer hoe die mense moes gevoel het na die Eerste en Tweede Wêreldoorlog.“ Sy glo Suid-Afrika is redbaar ‘’mits ons as Suid Afrikaners meer op onsself staatmaak en nie luister na al die politieke propaganda wat mense uitmekaar probeer dryf nie.”Baie werk en samewerking oor die hele reënboogspektrum is egter nodig en baie skade moet reggestel word.” Steeds bly ons in ‘n land met so baie geleenthede en skoonheid. “Dinge raak altyd weer beter. Die grootste les wat ek geleer het is om in die nou te lewe … en elke dag ten volle want môre is nie altyd wat jy dink dit gaan wees nie.’’

Nadia Oberholzer, gekwalifiseerde lewensafrigter en stigter van die Bet-Seber Huis van Hoop in Pretoria, is ewe eerlik oor haar gemoed wat gereeld wipplank ry soos ‘n mallemele van opgewondenheid, opgevolg met ‘n golf van mismoedigheid. “Ek lees van leiers wat opstaan vir ons menseregte, die opgewondenheid klim. Dan spoel die aankondiging van beurtkrag fase 6 siniesheid in.” Sy volg in die gees van wawydwakkerwees deur trauma, wat lei tot ‘n nuwe bewusmaking van blydskap op mikrovlakke. ‘’My advies is om werklik die klein dingetjies in die lewe te geniet, die koppie koffie, ‘n warm stort, die reuk van jou badseep, ‘n positiewe WhatsApp.” Sy is nugter met die infrastrukture wat in duie stort. ‘’Ek berus daarby dat selfs al kies ek om die moontlike sinkende skip te verlaat, sal ek ooit so gelukkig kan wees op ‘n ander kontinent? Sal ek fisiese kwesbaarheid verruil vir moontlike fisiese veiligheid? Sal my siel altyd verlang en terughunker na Kameeldrift Boerewors, Jessica op die draadloos en koeksisters vir ontbyt? Al ry ek sigsag werk toe om slaggate te mis, en bid die krag hou totdat die ketel klaar gekook het, voel ek dis hier waar ek hoort, hierdie is my tuiste.”

Die Pretoriase egpaar Andrė Lombaard en Liesl van der Sandt Graham kies ook optimisme en praat uit een mond: “Ek het my kinders Saterdag vir die eerste keer na die Voortrekker Monument geneem, wat my opnuut laat besef hoe moeilik die Voortrekkers dit gehad en wat hulle moes opoffer vir hul geloof en waardes. Ons kan daaruit leer oor hoe baie ons het om voor dankbaar te wees. Dit gaan oor perspektief en om jouself in ander mense of volke se posisie te plaas. Dan sien jy jou eie plek is glad nie so sleg nie, vertel ingenieur Andrė. Gesins- en kindertraumaterapeut Liesl voeg by die waarde van vryheid van geloof en ons wonderlike klimaat. “’Mense wat emigreer gaan terug na waar ons vandaan gekom het en daar vergaan geloof en die weer is goor. Jy kan ander en jou eie moraal verbeter deur nie heeltyd negatief te praat nie en ook steeds die mooi in ander en in die natuur te sien en te waardeer.”

Barry Viljoen, kliniese sielkundige van Johannesburg, bevestig baie mense is tans desperaat en wil tou opgooi omdat niks wil uitwerk nie. Dis dan vir die meeste landgenote wat oorweldig voel, maklik om op ou slegte patrone uit ons verlede wat in ons gegrein is, te wil terugval. ‘’Die geskiedenisboeke wys dit werk ook nie. Beter oplossings vir gemeenskaplike probleme moet opnuut gevind word deur met vars oë na mekaar te kyk.’’

Volgens Barry moet vrede gemaak word met sekere gegewes waaraan min salf te smeer is. Die fokus moet wees op waar ons wel iets kan aanpas of verander. Die ou wysheid van ‘n olifant stuk vir stuk hap, geld nou. Suid-Afrikaners moet ook onthou dat ondanks als, het ons dit tot hier gemaak. En wyl sulke taai oorleeftye  radikale kopskuiwe en veral veerkragtigheid verg, is sy raad om daagliks iets te vind om voor dankaar te wees, stresvlakke met oefening en meditasie te beheer en nie die klein vreugdes en pluspunte onderweg te mis nie.

Laastens herinner bekende mode-ontwerper Simon Rademan dat verandering die enigste sekerheid is. ”Die antwoord is voor ons neuse maar ala my ouma ‘sit die duiwel met sy g@t daarop’.” Boonop, sê Simon, het die Sri Lankese dit erger, ‘’maar swem nogtans in die paleis vir vermaak en die mense in Oekraïne koes vir bomme, so ons mag nie kla met die witbrood onder die arm nie nie”. Die onregverdigheid van plek-plek se loadshedding en parlementslede wat dit vryspring, vang hom want die naaimasjiene kan nie naai nie en die werkers kan nie werk nie. “Ek oorweeg dit om skêrre neer te lê vir ‘n wyle, puzzles te bou en te brei, wyn te geniet en seepkoekies te maak, maar dan lees ek in die Bybel: ‘ … en dit was aand en dit was môre, die volgende dag’ so dalk MOET ons maar hoop en trourokke begin hekel … dink hoe stunning!”

3 Comments

  • YC Coetzee says:

    Baie goeie artikel met baie stof tot nadenke. Die reënboog is n eenheid maar opgebreek in duidelik afgebakende lig kleure, so ook is ons in die land verskillende kleure met elk sy eie unieke kultuur, taal en gebruike. Die probleem kom wanneer politici ons almal in een pot wil gooi en verklaar ons is een “reënboog nasie”.

  • Danie Kruger says:

    Alles waar en stof tot nadenke…

  • Eloise says:

    Ons gaan nêrens nie. Maak ons kinders trots Afrikaans groot.

Leave a Reply