Kersfees is vroeg vanjaar, want Afrikaanse kinders, ouers en die baie ouderdomlose aanhangers van die immer gewilde Dr. Seuss se tydlose boeke kan nou vier nuwes in hul moedertaal lees. Boonop treffend vertaal deur ons eie top-kinderboekskrywer Jaco Jacobs.
Dr. Seuss oftewel Theodor Seuss Geisel (1904 –1991) is een van die bekendste en geliefste kinderboekskrywers van alle tye. Hy het ongeveer 60 kinderboeke geskryf en geïllustreer, waarvan 600 miljoen eksemplare verkoop is en vertalings in 30 tale beskikbaar is. Jacobs is ’n bekroonde vertaler en outeur. Sy outeursloopbaan het al op skool begin toe van sy eerste kort stories in tydskrifte verskyn het. Hy het al meer as 170 boeke vir kinders en jongmense gepubliseer, waaronder prenteboeke, kinderverse en niefiksie. Met meer as eenmiljoen eksemplare van sy boeke verkoop, is hy een van ons topverkoperskrywers. Daarby het hy al meer as 300 kinderboeke in Afrikaans vertaal. Jaco glo humor is ‘n kernbestanddeel in enige kinderboek en sy boeke en vertalings word deur ’n sterk element van pret gekenmerk.
Hier kom die kat
Dr. Seuss (vertaal deur Jaco Jacobs)
Ons kyk …
By die deur is ’n harige voet!
Ons kyk …
Hier kom die kat met die hoed!
Toe die kat met die hoed by Sonja en haar boetie kom kuier, verander hul rustige, netjiese huis in ’n holderstebolder speelplek. Hier kom die kat (oftewel The Cat in the Hat) is een van Dr. Seuss se gewildste kinderboeke. Hierdie is ’n nuwe Afrikaanse uitgawe.
O, die dinke wat jy kan dink!
Dr. Seuss (vertaal deur Jaco Jacobs)
Jy kan dink aan voëls.
Begin sommer nou.
Jy kan dink aan geel.
Jy kan dink aan blou …
Dink links en dink regs,
dink heen en dink weer.
O, die DINKE wat jy kan
dink, as jy net wil probeer!
Leer om jou verbeelding te gebruik en ontdek al die dinge wat jy kan DINK met ’n bietjie hulp van Dr. Seuss. Lees Dr. Seuss se gewilde Oh, the Thinks You Can Think! vir die eerste keer in Afrikaans!
Die kat kom terug
Dr. Seuss (vertaal deur Jaco Jacobs)
Wel …
Ons werk dat dit klap.
Ons vorder heel goed.
Maar wie kom hier aan?
Dis die kat met die hoed!
Die kat met die hoed is terug met ’n span piepklein moeilikheidmakers, en daar wag nog ’n holderstebolder avontuur op Sonja en haar boetie. Hierdie is ’n nuwe Afrikaanse uitgawe van Dr. Seuss se The Cat in the Hat Comes Back.
Daar’s ’n grak in my sak!
Dr. Seuss (vertaal deur Jaco Jacobs)
Dink jy ook soms daar’s
’n graai in jou laai of ’n
flerefas in jou klerekas?
Kom saam met Dr. Seuss op ’n
onsinnige avontuur, van grakke
in sakke tot glipperjantjies
in snippermandjies!
Was daar al ooit ’n grak in jou sak? Of ’n benster in jou venster? Wat van ’n noeknak op jou boekrak? Met ’n kombinasie van skreeusnaakse stories, lawwe karakters en die raarste rympies maak Dr. Seuss lees prettig. Lees Dr. Seuss se gewilde There’s a Wocket in My Pocket vir die eerste keer in Afrikaans!
Dr. Seuss is n ou gunsteling uit my grootword jare, het my gehelp die “rooinek” taal bemeester op n prettige manier. Dit sal beslis n treffer wees in Afrikaans.