Skip to main content

SJS Beginners: Top stories

Opdrag 1

Die val deur Kobus Brits

Van generaal tot slaaf. Deesdae is ek niks meer as ’n “glorified” pilaar nie.

Ek onthou die goeie ou dae, moord en oorlog was ons lewe. Maar nou, nou is ek niks.

Die vroeë dae was die beste; bloed oral en karkaste van die sogenaamde gode onder my voete as ons mars. Hulle bene het gekraak en gebreek net soos die laer diere wat hulle so verweer.

Ons het verloor. En die era van die Titane is oor. Verskoon my gemompel, hier praat ek nou asof dit gister gebeur het, maar meer as ‘n eeu het al verbygesteek. En my nuwe troon sien alles.

Ek dink hy het dit so beplan, die wêreld op my skouers was nie genoeg nie. Ek moes sien hoe hulle voortgaan in hulle era. Waar hulle aanbid word. Asof hulle hierdie “gode” was.

Absolute kak. Die sterflikes glo dalk dat hulle iets spesiaal is, maar daar is niks anders aan hulle nie behalwe die kleur van hulle bloed.

“Kom grote, kom verwyder my kettings en na ‘n eeu sal ek nog steeds jou donnerse gat kan skop!”

Sien, niks. Hy weet. Hulle weet. Hulle is niks. Net soos ek hier geketting is, is hulle slawe aan hulle gebede.

Ons het dit nooit nodig gehad nie. Die gebede van sterflikes om ons sterker te maak nie.

Maar ek sien meer as wat hulle sien. In hulle kastele en met hulle feeste is hulle blind. Nie ek nie. Nie hier waar hy my geketting het nie.

Daai menslike diere waarvan hulle so hou, gaan hulle einde wees. Die groei van daai ape is vinnig. Dit was nie lank terug wat my broer hulle met vuur geskenk het nie en kyk waar trek hulle nou. Dit is die een ding wat ons en die gode in gemeen het, verandering kom moeilik.

Ons kan nie insien wat daai laer diere kan nie, juis omdat ons so lank lewe. Ons sterf nie, tensy ons mekaar uitmekaar skeur, gaan niks gebeur nie. Maar daar is wel ‘n verandering by Olympus.

Hulle sien die wat die meeste gebede kry as populêr en dit gee hulle krag. Maar ek wonder soms of sien hulle die swakheid van daai sisteem wat hulle geskep het?

Wat gaan gebeur as hulle nie meer aanbid word nie? Maar fok. In sy arrogansie sal hy nooit insien dat sy gebede kan opdroog nie. Hoekom sal die mense ooit die gode ophou aanbid?

Ek het die verandering gesien. Hulle groei te vinnig en daar gaan nie plek wees vir die sogenaamde gode nie. Net soos my tyd verby gegaan het en die tyd voor dit, so ook gaan hy onder gebring word deur die diertjies wat hy melk vir krag.

Ek haat hierdie plek, met die wêreld op my skouers kan ek niks doen nie. Maar ek sien wat gebeur. Hulle word swakker deur die gat wat hulle groot baas vir hulle geskep het. Die ironie.

En so word ek sterker. Kom mensies, verander met tyd. Verander genoeg dat julle net julle self aanbid, verander genoeg dat ek my kettings kan glip. Dan is dit weer bloed, daai weerlig gaan my nie keer nie. En so ook, sal julle bloed vloei.

Want ek is Atlas.

Opdrag 2

Die verdoemde vrou deur Estelle Toerien

Die brons deurklopper lê swaar in my hand. Moet ek of moet ek nie …. Met die ander hand vroetelvoel ek of die boonste knopie van my truitjie nog goed vasgeknoop is. ‘n Vrou kan nie verkeerd gaan met ‘n twin set en ‘n stringetjie pêrels nie. “Kom nou, Erna. Jy’t gehoor wat jy gehoor het,” por ek myself aan. Ek gee twee harde kloppe en ‘n treetjie terug.

Aan Sara se storie nou die dag – Sarah, soos sy haarself noem vandat sy met die buitelander getroud is en skielik allergies is vir melk en brood en beter weet oor alles as almal – het ek my eers nie gesteur nie. Maar gisteraand toe ek van die biduur af tuiskom het ek die uitgerekte gil self gehoor. Vreemd, want die huis staan al twee jaar leeg, vandat daai eienaardige skepsel, kunstenaar blykbaar, wat daar gewoon het dood is. ‘n Gestryery onder die kinders oor erfgoed, volgens Sara. Oftewel, Sarah.

Die deur bars oop en die jong vrou stamp my amper onderstebo toe sy my om die nek val. “Dankie, dankie tog, ek het gedog niemand gaan óóit kom nie!” Sy prop ‘n bos sleutels in my hand en voor ek ‘n woord kan uitkry hol haar kaalvoete en stukkende langbroek met haar die tuinpaadjie af en loods haar soos ‘n impala op vlug oor die heining. “Die bliksemse huis is nou joune!” gil sy oor haar skouer voordat sy onder ‘n bos gekoekte hare om die hoek verdwyn.

“He … hello? Is daar iemand hier?” roep ek boognek om die kosyn. ‘n Oorverdowende stilte fluit in my ore terug. Ek neem ‘n paar baba treetjies vorentoe. My neusvleuls spêr en ek hoes toe ek die skerp verf- en terpentyndampe inasem. Na ‘n wyle word my oë aan die donkerte agter die diggetrekte gordyne gewoond. In die andersins dolleë vertrek hang die twee skilderye soos ‘n uitdaging.

Vanuit die naaste raam hou ‘n bleskop mannetjie met ‘n uitgeteerde gesiggie my stip dop deur wydgerekte ogies. Ek loop nader. Die vertrek begin verkolk in rooi-oranje-geel-blou golwe soos toe ek as kind die plastiek lucky-packet kaleidoskoop voor een oog vasgedruk het. Die knapie lig sy armpies op en klem ‘n handpalm teen elke wang, soos daai ongeskikte kind wie se ouers hom by die huis vergeet het in daai Kersfees fliek. AAAAAAAAAAAAAAAA! Die krag van sy wydbek gil maak my agteruit steier en die doodsangs wat my oorval swik my bene onder my uit.

Genadige stilte.

Op die vloer tussen my en die skildery sien ek nou eers die dowwe rooi krytlyn met die woorde Munch – The Scream onderaan geskryf. Ek prewel ‘n skietgebed en strompel orent. Met opgehoude asem steek ek weer een voet vorentoe, oor die lyn. Hy gluur my uitdagend aan. Die oomblik toe ek my gewig verplaas op die voorste voet begin hy weer sy armpies oplig en sy bekkie oopmaak. Ek gee bes.

Voor die volgende skildery begin ek … vreemd voel. Op vreemde plekke. My gewete verloor die debat in my kop en ek trap oor die rooi lyn. Hier moet ek nou eers halt roep om een ding dééglik duidelik te maak. Ek sal vertel wat met die rooi kryt geskryf was. Maar niks – en ek bedoel níks, nie eers die mees makabere Middeleeuse marteltoestel – sal my óóit maak vertel wat toe gebeur het nie. Ek volstaan by die woorde onder die rooi streep: Tassaert – The Cursed Woman.

Wanneer ek weer tot verhaal kom sit-lê ek wydsbeen op die vloer, my rug teen die muur gestut. In die verte hoor ek die fabrieksfluit middagete aankondig. Genade, waar het die tyd heen gegaan? Ek sal moet huis toe voor my Bertie by dooiemansdeur aankom. In die hande-viervoet posisie van die opstaan proses kyk ek skramsweg gang-af. Daar hang drie skilderye teen die lang muur en ‘n grote, in ‘n vergulde raam, aan die onderpunt.

Terug in my kombuis druk ek met een hand die foon teen my oor vas. “Nee wat, Sara – Sarah – ek het gaan kyk. Jy kan maar bedaar. Daar gaan niks in daai huis aan nie.” My ander hand vroetel met die bos sleutels in my sak.

Opdrag 3

Die Russiese inval deur Adele Snyders Els

My oom Karel was vir niks bang nie. Op sy plaas het geen slang of jakkals gekom nie, want hulle het geweet oom Karel duld nie gediertes op sy plaas nie. Die slange het eerder veertien kilometers met die grootpad langs geseil na die buurplaas as om deur sy draadheining te gaan.

Met sy lang swart baard en ses voet sewe gestalte het hy ‘n indrukwekkende figuur uitgemaak in sy khaki kortbroek en hemp, behalwe nou vir die blou tekkies wat sterk daarteen afgesteek het.

Hierdie tekkies het oom Karel afgevat by die bokslegende, Mohammed Ali, toe hy in Johannesburg was vir die groot “Rumble in the jungle” bokstoernooi.

Oom Karel het te vertelle gehad dat hy die bokslegende in ‘n kroeg ontmoet het. Hulle het glo saam ‘n bier gedrink en alte lekker gesels en die gesprek het by rugby ‘n draai gaan maak. Die Amerikanertjie vertel toe mos dat die Britse Leeus kringe om die bokke sal hardloop en dit het oom Karel se humeur skarlakenrooi laat opvlam.

Hy het daai Amerikaner met ‘n kort haakhou geslaan dat hy soos ‘n ou lap oor die kroeg toonbank trek. Net sy een blou tekkie het voor oom Karel op die vloer gelê. Oom het die ander tekkie later agter die toonbank loop haal. Dit was sy trofee van oorwinning.

Daardie betrokke Saterdagmiddag het hy rustig op sy stoep gesit en smaaklik aan ‘n stuk biltong gekou wat hy met sy knipmes gekerf het. Spiekeries Viviers het die wedstryd tussen die Vrystaat en Transvaal op die radio uitgesaai. Die wedstryd het in sy span se guns geloop.

Die werkers se kinders het naby die huis skool-skool gespeel en met bordkryt op die ou geroeste trekker se enjin kap so girts-girts geskryf. Hy kon klein Meraai se skril stem bo die koor van die ander kinders se stemme hoor.

Die volgende oomblik het die kinders opgewonde om die huis gestorm. Hulle het jillend na die lug gewys waar daar ‘n bloedrooi lugballon met geel strepe gesweef het.

Oom Karel het altyd daarop geroem dat hy na die nuus luister en sy koerante lees. Hy het geweet van die rooi gevaar wat op die land se grense dreig; en hier helder oordag, in die middel van ‘n wedstryd, val die Russe nogal met ballonne die land binne. Hulle was slu en het natuurlik gedink al die boere se ore is teen hul radio’s en sal nie weet hulle is besig met skelmstreke nie.

Maar geen Russiese rooi lugballon sou vir hom wat Karel is aan die slaap vang nie. Hy het sy haelgeweer gegryp, maar opeens besef hy het nie patrone nie.

“Meraai, bring daai bordkryt en maak gou!” het hy gebulder .

Binne sekondes was die haelgeweer gelaai. Oom Karel het in die rigting van die ballon geskiet. Met die derde sarsie skote het die ballon afgekom grond toe. Oom het op die ou bromponie gespring wat teen die stoep gestaan het en so vinnig as wat hy kon daarmee na die beeskamp gejaag waar die mandjie in die gras gesak het.

Hy was net betyds om die Rus uit die mandjie van die lugballon te sien klim. Die rooi ballon het soos ‘n gestorwe dier op die vaal gras gelê. Oom Karel het toe dadelik sy haelgeweer op die vyand gerig.

“Stick your paws in the light!” het hy in sy beste Engels beveel. Russe is ook mos rooinekke.

Die man was duidelik kwaad.

“Is jy blêddie mal, man?”

Tussen die man se oë was ‘n wit bordkryt-kring waar die bordkryt-patroon hom getref het.

Opdrag 4

W.E. de Villiers se storie deur Elmarie Louw

Kyk, Paasnaweek is en was nog altyd ons familie se gunsteling langnaweek, maar elke jaar eindig my en manlief se huwelik eers op die skeihof se stoep voor dié naweek bekoorlik raak.

Daardie spesifieke Donderdag gaan dinge weer woes verbaal in ons huishouding, want alles het gestaan en wag tot op nommer 99 en nou moet dinge gelyk gebeur in veelvoude van twee. Daar moet kreefpermitte uitgeneem word voor die poskantoor sluit, daar moet ‘n stoof gekoop en gekoppel word voor ons woonstel gaste 2-uur inboek en dan moet ons nog pak. Eers dan kan ons vertrek op ons jaarlikse familie-kamp teen die vlei.

Toe ons wil ry is Josias, my jongste, sonder sy broek en doek en ons weet hy het alweer iewers op die vlak gekak! Daar is nie tyd om die landmyn te soek nie, so na ‘n nuwe doek en broek is ons vir die tweede keer reg vir ry.

Eerste stop is die Poskantoor om die kreefpermitte te kry. Dinge loop glad en na ‘n rekordtyd van minder as15 minute is ons weer reg vir verder jaag. Tweede stop is by my ouers om die poef-ninja en sy suster af te laai. Hulle gaan solank kamp opslaan, dan sluit ons die agtermiddag by hulle en die res van die familie aan. Weer verloop alles seepglad sonder ‘n snot-en-trane gegroetery. Nou is dit nog net stop nommer finaal by OK Meubels vir die stoof. Ons het klaar betaal, so dis net ‘n vinnige laai en waai.

Daar gekom, sien ons dat die duurder, beter Defy nou op special is. Ons soek natuurlik nou nie meer die budget een wat klaar betaal is nie, ons wil liewers R600 meer betaal vir die beter een. Easy peasy lemon squeezy, sou mens dink, maar toe nou nie. Die winkel is besig en die verkoopsdame se tor val van sy tol af. Dit maak nie saak hoe mooi en gaaf en met hoeveel geduld ons verduidelik nie, die antwoord bly aikona! Ons moet vat waarvoor ons betaal het! My man het die temperament van ‘n huiskat, maar die takt van ‘n tafelpoot, en na die hoeveelste verduideliking, strip hy sy moer en begin hy onderhandel in sy moederstaal.

Nou moet ek eers die setup verduidelik. Die winkel se binnekant bestaan uit sulke verhogies waarop die witgoed en meubels uitgestal word en dan is daar smal gangetjies tussen die verhogies waarlangs mens stap. So terwyl my man nou staan en skel in sy moederstaal op die stowe se verhogie, trap hy terug en daar val hy lankuit in een van hierdie smal gangetjies. Hy lê daai gangetjie stofdig! Nou spartel hy met sy dun rystoel beentjies en T-Rex armpies vir al wat hy werd is, maar hy lê om môre nog te lê! Plaas ek help, maar ek lag so dat ek nie deur my trane kan sien waar om hom by te staan nie. Die arme verkoopsdame staan witgesig en waag nie om te lag nie, want sy herstel nog na die geskellery. Oral verdwyn mense uit die oog uit sodat hulle respekvol kan lekker lag…

Om die storie aan te jaag, ons is daar weg met die beter, duurder stoof agter op die bakkie, ek wat nog histeries lag en my man wat kan eiers kook op sy voorkop. But the show must go on!

Amper terug by die huis kry ek hond se gedagte van die kreefpermitte en ek loer sommer gou of alles reg is. Paasnaweke is die kreef vlakker en volopper as Desember, so dan het onfiks, oorgewig mense soos ons ook ‘n kans om ons kwotas vol te maak… Wragtag! Die permitte is uitgemaak vir ‘n W.E. de Villiers, wat ons van g’n kant af ken nie. My man maak ‘n 180 grade draai op twee bande dat die nuwe stoof drie duike kap en jaag terug Poskantoor toe. Natuurlik is ons te laat, want hulle het ook vroeg gesluit vir die langnaweek.

Kyk, nou is die gort gaar! My man se kieste staan 4 Bar gepomp en ek weet: Waar bly jy? Jy bly stil!

By die huis gekom, staan en wag die woonstel gaste ook al voor die deur. Hulle is uiters ontsteld, want iemand het op hulle woonstel se welkom-matjie gekak… Fok, Josias!

Die res van die naweek was weer absolute sielsgenot soos altyd. Ons het die kans gevat en onwettig kreef geduik sonder permitte. Gelukkig was die inspekteurs toe ook op langnaweek.

Toe ek die Dinsdag oggend Poskantoor toe gaan om die W.E. de Villiers kwessie te gaan verder vat, was dit weer ek wat rooigevreet moes jammer sê, want daar staan nie W.E. de Villers op ons permitte nie, daar staan “We deliver”, die Departement van Visserye se slagspreuk. Fok!

Opdrag 5

Ralie se wraak deur Adele Snyders Els

“Die son kaats ‘n verblindende blink vanaf die kar. Statig en stadig kom dit met ‘n slakkepas die straat af terwyl die begrafnisgangers in eerbied hulle hoofde laat sak. Die meeste is in swart geklee. So swart soos die lykswa. So swart soos menige van ons harte. Die weduwee is die enigste een wat ‘n skel pienk noupassende broekpak aanhet. Om haar mond huiwer ‘n smalende glimlag. Die lipstiek en haar maskara is gotiese swart … ”

Maar kom ons begin voor met die storie van Lodewyk Venter se afsterwe. Lodewyk was nie net ‘n bedrewe sakeman nie, maar ook een van die suksesvolste boere in die distrik. Anders as ander rykes en bevoorregtes was hy ‘n ware steunpilaar vir sy gemeenskap en familie. Dit was net die ding met Ralie wat bitter min mense verstaan het.

Twee dae tevore het Lodewyk in sy kantoor inmekaar gesak. Skynbaar was dit massiewe hartaanval en was hy dood nog voor sy liggaam die vloer getref het.

Die nuus van sy afsterwe was ‘n vreeslike tyding vir Tant Maria, maar dit was Bettie, Lodewyk se gewese vrou, wat met rou snikke flou geval het met die aanhoor van die nuus. Die seuns wat op die plaas boer sedert hul ouers se egskeiding, moes die nuus aan die werkers oordra. Die werkers se weeklaag het saamgesmelt met die seuns se hartverskeurende verdriet.

Dit was gister duidelik dat Ralie, wat nou so heupswaaiend in haar stywe pienk broekpak en oordadige swart grimering die kerk instap met daardie smalende glimlag op haar swart lippe, die reëlings sou tref.

Dit het meer gelyk asof sy ‘n ekstravaganza orkestreer as die begrafnis van haar man. Die duur kis, die eksotiese blomme wat die hele kerk vul met oorheersende soet reuke – doedelsakspelers wat die kis in begelei tot by die blommeboog langs die lewensgrootte foto van Lodewyk voor die kansel, asook harp- en vioolspelers wat die gallery vol sit.

Gisteraand het sy ‘n nagwaak gereël vir die naasbestaandes – ‘n vreemde gebruik vir die eng gemeenskap. Daar is bitter gevoelens tussen Ralie en die res van Lodewyk se naasbestaandes wat nog steeds na haar kyk as fortuinsoekster – volgengs hulle ‘n verleidster van die onderdorp wat Lodewyk verlei het en sy gesin laat verbrokkel het.

Terwyl almal om die buffettafel saamgebondel het en kopskuddend met gedempte stemme die moontlike uitslag van die testament bespreek het, het sy alleen in Lodewyk se donker studeerkamer gesit, geklee in sy japon wat nog ruik na sy geliefde sigare. Met die smaak van sy gunsteling whisky op haar lippe, het haar trane in die lig van die volmaan silwer spoortjies op haar wange gelaat.

*******

Lappies Labuschagne vee die sweetdruppels met sy wit sakdoek van sy voorkop af. Die kerk is bedompig in die middaghitte. Hy is die vierde Labuschagne aan die stuur by Labuschagne Begrafnisdienste soos hul advertensie op die streeksradio verkondig.

“Labuschagne Begrafnisdienste laat begrafnisse al vir 45-jaar seepglad verloop. Ons hanteer die reëlings terwyl u op u verdriet konsentreer.”

Lappies is trots op daardie advertensie wat sý breinkind was. Hy stap vinnig na Ralie wat alleen in die voorste kerkbank plaasgeneem het.

“Mevrou Venter, alles is gereël soos u versoek het. Ek het dit alles self waargeneem soos u gevra het,” fluister hy sodat net sy hom kan hoor.

Vir ‘n toeskouer sou dit lyk asof hy haar aandag op iets in die begrafnisbrief vestig. Ralie se glimlag raak vir ‘n oomblik haar oë in dankbaarheid.

“Dankie, Meneer Labuschagne. Ek kan op u reken om alles vertroulik te hou?”

“Natuurlik, Mevrou, my woord is my eer. Alles is uiters vertroulik gehanteer soos u versoek het. U kan op my staatmaak.”

Ralie knik haar kop in erkenning. Die swaar gotiese grimering steek haar gebrokenheid weg. Sy kan voel hoe die ander begrafnisgangers se oë vol veragting en meerderwaardigheid teen haar rug brand. Die laaste treurige note van Pärt’s se Cantus sterf weg. Dominee kug effens.

“Die naaste familie kan na vore beweeg vir die laaste groet. “

Lappies open die swaar deksel. Vir ‘n oomblik vang sy blik Ralie sʼn vas. Die smalende glimlag krul weer om haar mondhoeke as die familie nader beweeg.

Dit is Lood, die oudste seun, wat eerste ontsteld met ‘n uitgestrekte vinger na die kis beduie.

“Dit is nie my pa nie! Dit is dronk Petrus wat langs die spoor bly,” roep hy geskok uit.

Bettie en Tant Maria sak langs mekaar in floute neer … die res van die familie praat almal gelyk. In al die chaos let niemand op dat Ralie opstaan, ‘n koper houer by Lappies Labuschagne neem en die kerk heupswaaiend verlaat nie. Sy druk die houer ‘n oomblik teen haar vas toe sy buite die kerk kom.

“Kom, my liefling. Ek sal jou na ons spesiale plek neem en jou daar groet soos jy begeer het. Soos jy gevra het, het ons die geldgierige aasvoëls die geleentheid gegun om hul sirkus te hê. Nou is dit net ek en jy.”

Die son skyn glimmend op die koper houer in haar arms.

SJS BEGAAFDES: Top stories

Opdrag 1

Met nuwe oë deur Ronél le Roux

Daar het iets van die ou wêreld oorgebly. Dis ’n indrukwekkende rots wat, as ’n mens mooi sou kyk, baie soos ’n makabere gesig lyk. Die gesig is nie vriendelik of kwaad nie. Dit is emosieloos, ietwat grou en eintlik nogal skrikwekkend.

Gou stroom die mense daarheen. Waaroor sou die bohaai gaan? Verbaas sien ek hoe hulle allerlei artikels voor die rots neersit en daarna eerbiedig neerbuig. Het hulle nou ’n nuwe god, ’n nuwe plek van aanbidding ontdek? Skaars word ons op die herskepte aarde geplaas of die mense dwing terug na ou gewoontes!

’n Ferm stem, mý stem, roep uit: “Mense, wat ek hier sien, is diep kommerwekkend. Ons het die geleentheid om oor te begin. Gaan julle hierdie lewelose stuk graniet aanbid net omdat dit van die ou wêreld is?”

“Maar dit was ons woonplek, ons geliefdes was daar! Nou is ons alleen en ons verlang terug! En wie gee jou die reg om ons aan te spreek?” Die mense mor onder mekaar.

“Onthou julle die haat en nyd? Die alewige strewe na meer? Kan julle onthou hoe min vreugde ons gehad het?” Hartseer brand my keel. Dit gaan meer verg om hulle te oortuig.

Wanneer die mense die volgende dag na Hector, die klipgod, gaan, vind hulle ’n asemrowende lushof ’n entjie daarvandaan. Blomme met malse kleure staan geil in die oggendson. Naby die lieflike tuin staan ek met blommekranse in my hare en om my nek.

Daar is ’n lig wat uit my straal, onmisbaar, helderder as die strale van die son. Die mense kom sit aan my voete, aangetrek soos motte na ’n kers.

“Kom hierheen, hierdie blomme is soveel mooier!” roep hulle diegene wat by Hector sit. Gou klink ’n vrolike gelag op, blomme word in die hare gesit en kinders begin mekaar oor die groen grasperke jaag.

’n Opgewondenheid begin warm in my klop. Weer begin ek met die mense praat: “’n Greintjie vreugde is in julle gebore. Al wat nodig is, is ’n nuwe visie, ’n ander fokus. Elke dag sal daar iets wees waarin julle jul kan verlustig. Maak julle oë en harte daarvoor oop. Ek is die Godin van Vreugde.”

**

Die Meesters kyk neer op die laggende mense, maar is ook bewus van die enkeles wat nie van die ou wêreld wil afskeid neem nie.

“Almiskie moes julle van die begin af nooit die rots daar geplaas het nie.”

“Ja, maar dan was daar nie die geleentheid tot keuse nie.”

“Is keuse werklik so belangrik?” Dis ’n jong Meester wat duiwelsadvokaat speel. Almal bars uit van die lag, want keuse is een van die fundamentele reëls van die nuwe wêreld.

“Om te kan kies, is die mens se grootste voorreg. Hulle skep hulle lewens keuse na keuse, tog besef hulle nie dat hulle vreugde kan kies nie.”

Die jong Meester waag ’n verdere vraag. Onnutsigheid blink in sy oë. “En waarom moet hulle vreugde ervaar? Is mense nie veronderstel om ernstig die sin van die lewe te bedink nie?”

“Eintlik is vreugde die mens se ‘default’ posisie, maar dit is maklik om negatief te raak. Negatiwiteit is masels van die siel. Die volgende reeks inentings gaan daarteen wees.”

’n Ander Meester staan op. “Voor ons nou ook inentings nodig het, kom ons gaan vier die vreugde van mense!”

**

Jy hou jou eenkant op die gras. Jou skouers hang terwyl jou harde gesig boekdele spreek oor die tweestryd wat in jou woed. Daar is ’n sameraapsel van emosies wat toutrek in jou, want is jy tog nie geleer dat ’n mens vroom moet wees nie? Dúrf jy saam die malle spulletjie op die gras begin speel? Die ligsinnigheid van die mense kwel jou, en tog … hulle lyk waarlik gelukkig!

Jou oë rus vir ’n oomblik op Hector. Wat die Godin gesê het, is waar. Dit is ’n afskuwelike klip wat vrees by ’n mens inboesem, soos ’n tipe goue kalf wat geen gesmeek kan hoor nie. Jou oë verskuif na die Godin. Die vreugde wat deur haar bruis, laat ’n besef diep binne jou posvat. Al wat nodig is, is nuwe oë en die neem van ’n besluit. ’n Lewensveranderende besluit.

Jy voel hoe die opwinding in jou binnekant begin gloei. Dit straal uit in jou oë. Die ekstase wat in jou liggaam begin brand, laat jou opspring en jy sing uit volle bors:

“I see trees of green,

red roses too.

I see them bloom for me and you.

And I think to myself

what a wonderful world.”

Opdrag 2

Dankie Ma! deur Gideon Strydom

Dit is soos daardie oomblik wanneer jy in die donkerte met jou kaal voet in ’n bol vars hondestront trap. Jy wil dit nie glo nie, want jy het immers nie ‘n hond nie, maar die klewende stank en die koue ongemak bevestig dit tog as die waarheid. Hop-op-een-voet gevoel, die onaanvaarbare skokwoorde wat by Ma Katryn se bleek prewellippe uitrol.

“Jy het my gehoor. Jou pa-hulle kom ook oor vanaand. Dis tyd!”

Die stront wat pap tussen jou kaal tone deurforseer. En jy weet! Jy weet daai klank gaan kleef.

“Not a hell, Ma! Nie dit nie. Dit is my verjaardag. Myne! Is Ma nou heeltemal…”

“Elaine!”

“Lanie!”

Sy kyk my moerig aan. “Moenie vir my kom voorsê nie, Elaine. Ek het vir jou daardie bleddie naam gegee!” Dis nog altyd ‘n ding vir Ma, díe naamgeëry. Vader van Genade weet hoekom familiename ooit ‘n ding moes wees. Niemand noem my Elaine nie. En as iemand dit waag, help ek hulle spoedig reg. Ek kan maar net nie vatkry aan die naam nie. Dis nie ek nie. Dis Ouma. Ouma Elaine wat ook maar ‘n regte ou hondedrol was. En Ma weet presies hoe ek daaroor voel.

Ek stamp die bak aartappelslaai hardhandig langs die bak gemarineerde tjops in die yskas in. Nou verstaan ek ook waarom Ma vandag behoorlik die kospotte van Egipte hier uitruk. “Ma, ek…” Sy hou haar hand omhoog. Ek ken daai handjie wat jou so in jou spore stop. Dis haar nou-praat-ek-en-jy-luister handjie. “Fok, ma…”

“Jy praat nie vanaand so as jou familie hier is nie, Elaine. Jy weet hoe voel jou pa oor sulke goed.”

My pa. Ons twee sit nou maar eenmaal nie om dieselfde vuur nie. Wel, behalwe vir vanaand lyk dit vir my. Dis nie dat ons glad nie met mekaar praat nie. Hy bel my so af en toe en vra uit oor my studies. Is alles nog op koers? Het ek al besluit wat ek gaan doen na volgende jaar? Nog nie ‘n kêrel nie? Elke keer die verdomde ou flou grappie dat hy sy haelgeweer gelaai hou. En ek uhm en aah en sê dat ek nou weer moet gaan leer.

Pa en sy nuwe gesin bly skaars twee ure weg. Ek het hom meer as vyf maande laas gesien. Hy en Ma het lankal die strydbyl begrawe, maar ek kan net nie rustigheid kry oor die hele ding nie. Dit kleef soos ‘n strontreuk aan my. Mooi Lanie, alles in jou lewe is ‘n bol hondestront! Dis nou al amper dertien jaar.

“Ma weet wat ek dink van skynheiligheid.” Hy het ons gelos vir Sandra en haar drie kinders. Vreeslik vroom nou die vyf Van Aardes. Soos Pa nog maar altyd was. Die drie kinders, almal jonger as ek, noem hom ook pa. Ons het mekaar in al die jare nog net ‘n paar keer gesien. Okay, as ek moet eerlik wees, hulle was nog elke keer regtig nice. Ek kon sien hulle het daai ouer sussie sindroom. Maar ek kannie. Ek kan myself net nie sover kry om goody two shoes te speel nie.

“Ek wonder wie’s nogal skynheilig?” Ma knie die deeg met effe meer drif as wat nodig is.

“Ma weet ek praat van daai heilige vyf.” Daardie Van Aardes doen mos niks verkeerd nie. Regte voorgestoelte ou gesinnetjie. Dis net ek wat mos die pad kan byster raak.

“Elaine, stop nou jou nonsens.” Ma moes eintlik ‘stront’ gesê het. Dit sou meer gepas wees. “Jou pa is wie hy is. En Sandra en die kinders ook. Jy moet regtig nou begin vergewe en vergeet. Ek en jou pa het net nie gepas nie. Jy weet dit. Hy en Sandra pas en is gelukkig. Ek is gelukkig. En kyk hoe goed kom ons almal oor die weg. Dis nou tyd dat jy bietjie eerlik met jouself ook is. En met ons almal.”

“Gaan ek nou weer ‘n Katryn-katkisasie kry?” Sy mik met ‘n bol deeg na my kant, maar ek kan sien die ergste drif is uit haar oë. “Ma weet Ma is my regte familie. Ma en my vriende. Elkeen van die maltrappe wat vanaand kom is vir my nader aan die hart as bloedfamilie.”

“Maar bloed bly dikker as water, Elaine. En dis tyd dat jy die heilige vyf wys wie jy regtig is.” Ek mis nie haar skalkse glimlag nie. “So, vanaand is jou hele nuwe familie hier. Die malles en die heiliges.”

“Ma kan nou maar spot, maar ek dink nogsteeds dis ‘n absolute belaglike idee. Daai spul skynheiliges tussen my uitgesproke vriende…” Ek kan my net indink hoe ‘n stywe affêre dit gaan wees. Ek wil nie die hele spul saamgooi nie. Ek kan mos nie myself wees tussen my vriende, my ware familie, as my vervreemde familie hier is nie. Hier kom stront!

“Ek spot nie, Elaine. Dis tyd!” Sy is nou weer ernstig. “Ek vra weer, wie is nou eintlik skynheilig?”

Ek weet ek moet nou fyntrap. Ek ken vir Ma. Sy lei my nou weer baie slinks reguit na die volgende bol. “Ek sê maar net, Ma. Ma weet hoe ek voel.”

“Ek weet ja, maar jy sê nie regtig nie. Jy loop al jou lewe lank en tob en skans en jy baklei met die hele wêreld.” Dit het ek nie heeltemal verwag nie. “En vandag is jy vier-en-twintig. Vandag is die dag wat jy jou hele familie, bloed of nie bloed nie, wys wie jy is, Elaine Van Aarde!”

“Ag Ma, almal ken my en we….”

“Ma wil net hê jy moet wees wie jy is. Wees gelukkig. Wees vry van al hierdie stront wat jy so aan vasklou. Jy het mense wat vir jou lief is. Wat altyd vir jou lief gaan wees. En vanaand is elke een van hulle hier.”

“Ma?” Ek voel die pappery tussen my tone.

“Lanie, ek weet al vir meer as twee jaar van jou en Michelle. Ek is jou Ma! Ek is vir daardie meisiekind al net so lief soos vir jou. Sy is familie.”

Ek sak in die kombuisstoel neer. Ma se arms vou om my. Ek sien die pappery wat tussen haar vingers uitpeul. Maar dit is brooddeeg. En dit ruik lekker.

Dat my helse groot, nuwe familie, nog vir baie sports gaan sorg, is ‘n feit soos ‘n koei. Maar die wete dat my hart uiteindelik tuis voel na donkiejare se ongemak is die beste gevoel ooit.

Dankie, Ma!

Opdrag 3

Dennenaaldbos vol maanskyn deur Suzanne Volschenk-Walsh

Die wurms wriemel oor my arms en dit verg bo-natuurlike wilskrag om nie te beweeg nie. Ek beloer die omgewing deur skrefiesoë, maar gewaar niemand nie. My kop pyn ongenadiglik en ek begin opgooi. Waar is ek en hoekom is ek vasgebind?

Die oppervlakte onder my voel klam en die geur van verrotte dennenaalde kriewel my neusgate. Die reuk laat my terugverlang na tye toe ek en my verloofde onder soortgelyke ou majestueuse reuse verlief en verlore in mekaar se arms gelê het. Die ou koninklikes het ons liefdesspel geluidloos dopgehou en ons het onaantasbaar tussen hulle gevoel.

As die wurms net wil ophou krioel! Die gewriemel maak my mal! Waar kom die goed vandaan? Waar is ek?

Iemand kerm hier naby my en dan is daar ʼn dowwe plofgeluid – die gekerm word stil.

Fok!

Hier is iemand! Hier naby! Dalk het hy teruggekom om te kyk of ek dood is. Wie is die ander persoon wat so gekerm het?

“Ag Vader, red my.”

Ek probeer die hand wat oor my wang streel ignoreer, maar ek herken die soet duiwelasemreuk wat aan sy vingers kleef.

“Hou aan bid, Katryn. Dalk word jou gebede verhoor.” Hy lag lelik en ek ril vir die wreedheid in sy stem.

“Ek is bly om te sien jy is nog met ons. Daardie hou teen jou kop het al te aardig geklink. Eers het ek gedink ek het jou té hard geslaan. Sou ʼn jammerte gewees het as jy gesterf het, maar jy is taai.”

Ek voel, eerder as sien, hom van my af wegloop. Hy gaan sit op die boomstomp oorkant my en haal sy aaptwak uit. Asof die doodnatuurlikste ding op aarde; begin hy sy daggapyp stop en steek dit aan. Die maanligstrale speel onheilspellend met die rooksirkels wat hy stadig uitblaas. Die hele makabere toneel is met ʼn doodse kilheid omweef.

“Gedink ek sou jou toelaat om met daardie niksnuts te trou? Het jy regtig gedink ek het nie geweet van julle vryplek tussen daardie ou reuse nie? Ek mag dalk nie meer in jou lewe wees nie, my liefste Katryn, maar ek wéét alles van jou!”

Hy suig aan sy pyp. “Het jy ooit gewonder hoe dit gebeur het dat jou ma jou net so gelos het? Sommer net so? Julle was oortuig dat sy saam met haar nuwe kêrel weggeloop het, nè?” Hy lag skel.

“Nee, liefste. Sy het nie weggeloop nie – sy was die hele tyd net hier. Vier voet onder die grond in ʼn houtkis, netjies vasgebind. Sý was die rede hoekom jy van my af weg is – en sy moes daarvoor betaal. Saans het ek haar uitgegrawe en gebruik soos ek wou. Soggens het ek haar weer begrawe – met net genoeg suurstof vir die dag! Sy het gesmeek vir verlossing – elke dag!”

My liggaam ruk van vrees en ek voel hoe ek my natmaak. Here, asseblief, moet nie dat hy my lewendig begrawe nie!

Daar is weer ʼn kreungeluid en ek sien hoe hy vererg opstaan en die geweer saamvat. Die keer is die kapgeluide genadeloos hard en ek weet dat hy die persoon doodgeslaan het.

“Daardie niksnuts van ʼn verloofde van jou sal jou nooit weer pla nie, Katryn. Ek het hom gewaarsku – gesê hy moet jou uitlos, maar hy wou nie gehoor gee nie. Nou lê hy hier – kop verbrysel. Dit is sy eie skuld. Ek wou jou nooit seergemaak het nie, Katryn, maar ek kan jou nie weer laat gaan nie. Jy weet te veel.”

Ek prewel sag: “My ma? Waar is sy?”

“Jy lê op die presiese plek waar ek haar begrawe het. Dit is háár maaiers wat oor jou arms krioel, Katryn. Ek was een oggend laat en haar suurstof was te min …” Hy vee die bloed van die geweerkolf af en staan op.

“Jy het gedink dat jy te goed was vir my. Jy het my ontneem van jou lag, jou menswees – toe word jy my banvloek! Ek, wat jou net die beste wou gee, is weggegooi.”

Hy haal ʼn slagtersmes uit en druk dit teen my keel. Ek voel hoe die lem eers my vel en dan dieper sny. Die bloed loop teen my nek af – in my keel in en ek begin roggel. Die bloed voel warm op my yskoue vel.

Ek forseer my oë oop en kyk vas in dié voor my. Ek kyk vas in die oë van die man wat my soos sy eie kind grootgemaak het. Hy het my lewe gered toe hy met my ma getrou het. Nou is hulle geskei en hy gaan my óók vermoor! Ek verstaan nie …

Pikswart woorde meng met die stroom bloed wat uit my nek en keel vloei. Ek groet hom vir oulaas – soos altyd vantevore: “Nag, Pappa-lief.”

Opdrag 4

Uit die dagboek van Goliat die Gittiet deur Jan HJ van Staden

Soos ‘n mat lê die Vallei van die Terpentynboom voor my uitgestrek. Ongeskonde. Rein. Soos ‘n maagd. Tog weet ek dat dit ‘n illusie is. Binnekort gaan hierdie honger aarde die bloed opslurp van vele dapper krygers. Ook dié van minder dapperes. Dit is nie kieskeurig nie.

“Jy weet wat ek dink van jou teenwoordigheid hier.” Dit is meer van ‘n stelling as ‘n vraag en ek hoef nie om te kyk om die bron van sinisme agter my te identifiseer nie.

Sisera. Leerowerste van die Filistyne. Die een met die rotgesig. Die een wat my minag. Dit pla my nie. Hy is ‘n soldaat en ek is nie.

Nochalant kyk ek om. “Sisera, hoe jy oor my voel, pla my glad nie. Ek is hier op aandrang van die koning van Gat en daar is absoluut niks wat jy daaraan kan doen nie. Maak vrede daarmee en beweeg aan. Jy het ‘n veldslag wat wag.”

Die spiere in sy kakebeen speel ritmies en ek sluk ‘n glimlag net betyds. Wat ‘n gesig. ‘n Rot wat herkou. Sy blik gly van my af en hy staar na die toneel voor hom. Uiteindelik wurg hy sy volgende woorde uit. “Aan wie se kant is jy nou eintlik?”

“Niemand. Ek is neutraal. Ek is net hier om die gebeure op skrif te sit. Buitendien, hierdie is nie my oorlog nie.”

“Hmmfff! Hierdie is almal se oorlog.”

Dit is op die punt van my tong om vir hom te sê dat volke kom en gaan en dat daar al gróter volke as die Israeliete en die Filistyne was, maar iets weerhou my. Ek is ‘n gas in die kamp van die Filistyne en Sisera is ‘n magtige man. ‘n Verdwaalde spies tussen my blaaie sal nie welkom wees nie.

Miskien moet ek vriendeliker wees. “Vertel my hoe die oggend gaan verloop.”

Nadenkend bekyk hy my. “Is dit die spioen wat praat of die versl…wat noem jy jouself nou weer?” Daar is ‘n spotklank in sy stem en ‘n halwe glimlag om sy rotlippe.

Ek sug. Wat sal dit tog help? Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie. “Ek is ‘n oorlogverslaggewer.”

“’n Oorlogverslaggewer.” Die spotklank in sy stem het verdiep en sy oë vertel my wat hy daarvan dink. “Met ander woorde – jy skryf oor gebeure wat tydens ‘n veldslag gebeur op ‘n stuk vrot diervel net sodat mense dit na die tyd kan lees.”

Vrot diervel. Weer sug ek. Ek gaan beslis nie my skryfoppervlaktes met hom bespreek nie. Nog minder die waarde van propaganda. Vir ‘n oomblik wonder ek of sy brein nie dalk regtig die grootte van ‘n rot is nie. Dalk selfs kleiner.

Gelukkig word ons interaksie onderbreek deur ‘n rumoer agter ons. Dit is onverwags en ek pluk my kop om. Die gesig voor my laat my bene wankel en yskoue rillings hardloop resies teen my rugstring op. ‘n Ent voor my staan die grootste mens wat ek nog gesien het. Nee, dit is ‘n oerdier wat trekke het van ‘n mens. Net-net.

Selfs op hierdie afstand kan ek sy asemhaling hoor en dit klink soos die gedruis van die Middellandse See. Miskien kan hy my gedagtes lees, want sy oë vernou en hy stap nader. Elke tree is soos ‘n brander wat breek.

Die oggendsonnetjie verduister toe hy voor my gaan staan. “Is jy die een wat hulle Ahiram noem?” Sy stem herinner sterk aan ‘n donderstorm oor die See van Galilea en al wat ek kan regkry is om my kop te skud.

Hy lyk geamuseerd. “Ek neem aan ou Agis het jou nie van my vertel nie.”

Hy slaan die spyker op die kop. Die opdrag van die koning van Gat was eenvoudig: Doen verslag oor die geveg tussen my manskappe en die vervloekte Israeliete, want ek wil hê die wêreld moet weet hoe groot ons is.

Hy het my nie vertel dat hy oerdiere aanhou nie.

“Goliat! Goliat! Goliat!” Sonder dat ek dit raakgesien het het hordes soldate agter hom begin versamel en hulle skreeu die gedrog se naam uit. Die klank dra oor die vallei en ek is oortuig daarvan dat verskeie Israeliete hulleself pas bevuil het.

Erkennend lig Goliat sy arms op en skud sy kop ritmies saam. Die rooi pluim op sy koperhelm wip ondersteunend en ek voel hoe iets die lug vul. Dit is tasbaar. Ek kan dit ruik – dit op my vel voel.

Die gevoel van ‘n dreigende veldslag.

Nog nooit het ek dit ervaar nie en die oomblik voer my mee. Ek was egter nie gereed vir wat volgende sou kom nie.

“Wie is ek!” Goliat het intussen omgedraai.

“Goliat die Grote!”

“Wie!”

“Goliat, die oorwinnaar!”

“Wie!”

“Goliat, die seun van Dagon!”

“Wie!”

“Goliat, die verslaner van Yahweh!”

Hierdie godslastering is een te veel vir ‘n gekaapte Israeliet wat, saam met ander slawe, onder ‘n massiewe Eikeboom sit. ‘n Bloeddorstige gil ontsnap sy lippe en hy spring ongemaklik op. Ongemaklik is dalk ‘n té sagte woord, want sy liggaam kan nie normaal funksioneer nie. ‘n Haak deur sy neus, waardeur ‘n ruwe tou geryg is, verbind hom aan die ander gevangenes. Hierdie tou is aan die Eikeboom vasgemaak. Behalwe hiervoor is sy arms agter sy rug vasgebind op so ‘n wyse dat sy elmboë aan mekaar raak. Al hoe hulle dit kon regkry was om sy skouers te ontwrig. ‘n Tegniek wat Ramses III, Farao van Egipte, ‘n honderd jaar gelede op die Filistyne toegepas het.

Die Israeliet storm nader en die haak ruk sonder seremonie met ‘n aaklige geluid uit sy neus.

Vinniger as wat ‘n adder kan pik, gryp Goliat die spies by sy skilddraer. ‘n Spies is dit nie eintlik nie. ‘n Werwersbalk is dalk ‘n beter beskrywing.

Soos ‘n vlieënde boom tref die spies die Israeliet voor die bors. Dit klink of sy rugstring ontplof toe die spies hom deurboor. Die impak lig hom op asof hy gewigloos is. Onsigbare hande dra hom terug en as die groot Eikeboom nie sy roete versper het nie, sou hy dalk agter die heuwel verdwyn het. Die spiespunt, wat so groot soos ‘n man se voorarm is, verdwyn in die stam en die boom sidder.

Net vir ‘n oomblik hang ‘n doodse stilte oor die vergadering en toe bars alle hel los.

“Dagon! Dagon! Dagon!”

Miskien hou hy daarvan om met hulle god vergelyk te word, want kopomhoog stap Goliat tot by die dooie Israeliet. Sonder moeite trek hy die spies uit die boom en die blare ritsel van die versteuring. Asof dit geen inspanning verg nie, gooi hy die spies oor sy skouer terwyl die Israeliet steeds daaraan hang. Die gesig maak my naar en ek keer die gal, wat in my keel opstoot, net betyds. My oog vang dié van Sisera en ek sidder.

Sy oë weerspieël die vensters van my siel.

Terwyl die soldate al skreeuende agter Goliat aanhuppel, stuur ek my oë in die rigting van die kamp van die Israeliete. As hulle maar weet wat kom. Vir hulle gaan dit te laat wees om my artikel te lees.

Hierdie oerdier is ‘n verskrikking.

‘n Monster.

Onstuitbaar.

Dit is dag nege-en-dertig.

-Die Beloofde Land, maandeliks. Vol. 2, no 6.

Opdrag 5

Hartsmense deur Stephan Uys

Die son kaats ʼn verblindende blink vanaf die kar. Statig en stadig kom dit met ʼn slakkepas die straat af terwyl die begrafnisgangers in eerbied hulle hoofde laat sak. Die meeste is in swart geklee. So swart soos die lykswa. So swart soos menige van ons harte.

Die weduwee is die enigste een wat ʼn skel pienk noupassende broekpak aanhet. Om haar mond huiwer ʼn smalende glimlag. Die lipstiek en haar maskara is gotiese swart.

Heila se rooigehuilde oë is in skelle kontras met haar uiterlike vertoon. Dis vier dae sedert Sybie en hulle tuinier Frans, verongeluk het. Sybie se dood was ʼn geweldige skok. Dit was egter die gekkespul wat vier-en-twintig uur vantevore begin het wat haar lewe werklik hel gemaak het…

Prokureur Servaas De Kok kug ongemaklik en lees verder: “Enigeen mag deelneem. My erfgenaam is die persoon wat die titelaktes vind. Die eerste leidraad is in die kis, maar die kis mag eers by die graf oopgemaak word. Daar is twee voorwaardes vir deelname. Eerstens, elke deelnemer moet by die kerkdiens én by die graf teenwoordig wees. Tweedens moet hulle te alle tye hulle soos waardige begrafnisgangers gedra. Enige verontagsaming sal onmiddellike diskwalifisering beteken.”

ʼn Geskokte stilte volg sy woorde. Twee ekse, vyf volwasse kinders gebore uit gefaalde huwelike en Heila, die kinderlose weduwee, staar in ongeloof na die prokureur. Nóú verstaan hulle waarom Retief Sybrand Gericke die eerste gedeelte van sy testament voor sy begrafnis wou gelees hê. Die oorledene, alom bekend as RSG, se begrafnis is niks anders as ʼn skattejag nie!

Dis net die stilte voor die storm. Almal begin tegelyk praat.

“Wat? Het die suinige lummel niks vir sy kinders gelos nie?”

“Na jare van sy stront opvreet en ek kry niks!”

“Servaas, ek betwis hierdie testament. RSG sou nooit so iets aanvang nie!

Vergete is die hartseer van die dood, die seer van die heengaan. Dis hulle verlore erfporsies wat nou die trane laat vloei.

Niemand neem eers notisie toe Heila na haar kamer verdwyn nie.

Heila trek die kamerdeur snikkend agter haar toe. Haar hart is in skerwe. Sybie het vas geglo alle mense is emosioneel afgestomp en inherent geldhonger. Sy en hy het soms lelik daaroor gestry. Sy is hewig ontstel dat hy nou sy eie dood gebruik om klaarblyklik sy punt te bewys. Woedend gryp sy haar foon. “Sybie, jou swart adder, ek gaan nie toelaat dat jy more vir my bederf nie!” prewel sy terwyl sy ʼn nommer skakel. “Hallo Herman, ons moet dringend gesels…”

Sy skakel nog ʼn nommer: “Sawubona Maria. Ek moet jou ʼn makulu guns vra…”

Weer skakel sy: “Servaas, kom sien my!”

Tevrede sit sy die foon neer. Oomblikke later bars sy weer in trane uit. Haar Sybie is vir ewig weg!

Herman Haasbroek, die eienaar van HH Begrafnisondernemers, is slaggereed. Die oproep het ʼn paar dinge verander, maar hy het alles onder beheer. Om presies 09:55 stop hy en sy assistent met die blinkswart lykswa voor die kerk. Nog nooit het hy so ʼn groot en somber groep begrafnisgangers gesien nie. “Mens sou sweer hulle gaan geld verloor as hulle nie hartseer lyk nie,” fluister hy met ʼn knipoog aan sy assistent terwyl hy statig uitklim. Sy oog vang onmiddellik die vrou in skelpienk.

“More Mevrou Gericke. Ek sien jou man was voorwaar vreeslik geliefd. Kyk net, hier’s duisende treurendes!” sê hy met die erns van ʼn hartaanval terwyl hy die kis uitlaai.

Heila knik met saamgeperste lippe haar kop, bang die skielike proeslag glip by haar mond uit. Dan kyk sy weer na die skare skynheiliges en haar bitterheid is onmiddellik terug. Sybrand was reg!

Pastoor Wentzel het ʼn preek der preke voorberei, maar die kanse is skraal dat enigeen na een woord daarvan geluister het. Hy kon niemand daaroor verkwalik nie, sy eie gedagtes het ook telkens na daardie wagtende erfporsie afgedwaal.

Êrens gedurende die diens het die wolke begin saampak. Na die gedenkdiens is die dag net so grou soos Heila se gemoed.

By die begraafplaas neem Herman weer beheer.

“Staan asseblief terug, geliefdes. Daar word slegs een liggaam per graf toegelaat!” maan hy terwyl die draers steunend en kreunend die kis na die nuwe graf dra. Sy waarskuwing is nodig, want die treurendes is besig om mekaar om die graf te verdring. Oorle RSG was nooit so populêr in lewende lywe nie.

Voor Herman weer kan waarsku klief ʼn donderende bliksemstraal silwerblink deur die lug. Dit skeur ʼn Kareeboom sowat vyftig meter buite die begraafplaas in twee. Met die reuk van swael swaar in die lug besluit ʼn paar van die minder bedroefdes om eerder haastig die aftog te blaas. Heila mompel onderlangs: “Sien jy Sybie, nie almal is so geldgierig nie!”

Met walging sien sy hoe die oorblywende begrafnisgangers soos verhongerde aasvoëls rondom die kis saamdrom. Die reuk van vars grond word deur die briesie na haar aangewaai. Dis Sybie se reuk! Hy en Frans het altyd soos vars grond geruik. Sy besef eers sy huil toe sy haar sout trane proe. Deur die wind hoor sy Herman praat: “Pastoor Wentzel, Mevrou Gericke en Prokureur Servaas, kom staan asseblief hier by die kis.”

Die skare gee so traag pad soos vlieë van vars hondestront. Wanneer almal hulle plekke ingeneem het, skroef Herman die deksel los. Eers as Heila haar kop effe knip maak hy die deksel oop.

Soveel asems word tegelyk ingetrek dat daar amper ʼn laedrukstelsel om die graf ontstaan. Dit word gevolg deur ʼn stilte waarin jy ʼn speld kan hoor val.

Uiteindelik waag een dapper begrafnisganger sy erfreg: “Dis dan die verkeerde lyk! Wie de donder is dit dié?”

In die kis lê die liggaam van ʼn ouerige swartman.

“Jammer Mevrou Gericke, ek verstaan nie hoe dit gebeur het nie.” Herman lyk of hy ʼn spook gesien het.

“Dis Frans, RSG se oorlede tuinier, se liggaam daardie.” oordonder Servaas se stem die geldgieriges se gemor.

“Beteken dit dalk dat die titelaktes in RSG se tuin begrawe lê?” vra Herman so onskuldig soos ʼn pasgebore baba.

Jy hoor net voete klap soos die roubeklaers omdraai en na hulle motors storm. In die geharwar om eerste by die tuin te kom hoor nie eers Pastoor Wentzel, wat reg langs Servaas staan en dit self oorweeg om in die tuin te gaan grawe, sy fluistersagte opmerking nie: “Nee, dit beteken dat hierdie Frans se graf is. Sybrand se graf is daar anderkant.”

Nadat almal weg is stap Heila, Herman, Pastoor Wentzel en Servaas na ʼn groepie swartmense wat eenkant alleen by ʼn ander oop graf staan.

“Jy sê al die eiendomme is op jou naam, Heila?” vra Herman nuuskierig. Pastoor Wentzel val amper oor sy eie voete van verbasing.

Servaas antwoord: “Sybrand het jare gelede alles op Heila se naam oorgedra. Hy besit ʼn eenslaapkamerhuisie in Springbok en ʼn ou bakkie. Dis al wat daar te erf is.”

Die groepie stap verder in stilte na die ander oop graf.

“Sanibonani almal! Maria, is jy oukei?” groet Heila terwyl sy Frans se weduwee styf teen haar vasdruk.

“Ja Madam, maar onse harte is seer.” antwoord Maria met rooigehuilde oë.

“Dankie dat julle Oubaas Sybie opgepas het. Julle kan nou vir Frans gaan begrawe, hy wag daar by sy graf vir julle.

“Madam, Frans kan maar nog ʼn bietjie wag. Ons gaan eers saam met jou die Oubaas bêre. Frans sal dit so wil hê.”

Terwyl Pastoor Wentzel Psalm 23 lees begin die wolke saam met die groepie gebroke begrafnisgangers ween. Die reuk van vars reën en nat grond laat Heila opkyk. Sy lag deur haar trane: “Sybie, jy was toe al die tyd verkeerd. Hier is nog hartsmense op hierdie ou gebroke aarde.”

Diggroep – Beginners: Top verse

Opdrag 1

Ontbloting deur Peet Wessels

Op wit papier, met pikswart ink, skryf ek.

Letters van ‘n lewe, ‘n tweeling sonder sib.

Waar tweestryd en teëstryd,

bio-dormant baklei

op die slagveld van die antitese van wat ék is.

Want al die klawers in my gemoed,

die wit, die swart,

komponeer kompromieloos aan die soms stille simfonie

wat daagliks nuut spruit, van wortel tot blad,

totdat klanke ook beeld kry

op ‘n spektrum van groen tot koper-brons.

Skakerings uit elke seisoen.

Want ek bly steeds net halfpad ek,

‘n sirkel halfvoltooid, ‘n lewe half verby,

‘n bladsy nog in twee verdeel

deur ink wat tot die midrif vloei.

Voor my wag die naakte vel op die res van die verhaal.

Nie geskryf deur ink of pen of sleutelbord,

maar deur die stempel van egtheid endorseer,

gewaarmerk as rein, as goed…maar ook ‘n titsel sleg.

Opdrag 2

Stil deur Peet Wessels

Jou lewe uit vredesdraad gehekel,

toe kom sny die Seraf met sy sekel,

daardie lewe trou en ryk borduur

brand toe soos stoppels in ‘n vuur.

Stil is nou jou vadersraad.

Stil die silwer van jou stand.

Stil die uitreik van jou hand.

Stil die stem wat woordeloos kon praat.

Die dood dra mos maar altoos ‘n stekel,

brand en bruis soos ‘n see van suur,

wat vir laas ‘n letsel in my kom laat,

en brandmerk in my siel kom brand.

Maar saans, as my trane opwaarts vlug

praat jou sterrestem met myne t’rug.

Opdrag 3

Voël-griep deur Linda Brink

Sy: gepluim, gepluis, geparfumeer,

skerp-gesnawel, ryk van veer,

plesierig soos ‘n jong komkommer –

as jy haar pluk, verlep sy sommer.

Hy: tegnologies in beheer,

kuifkop, flaminkbeen, groot meneer

kredietkaart-ryk: hoe groter pronker,

maandeind, helaas … hoe kaler jonker.

Hulle: op ‘n tak voor in die kerk,

kraalogies, sing hulle soos gebek –

sedig, vroom, volgens die Boek,

maar na binne – raas en skel en vloek.

Ons: dra vere, duif of pou,

arend, mossie of makou,

maar ongeveer en on-geveer,

almal broos en bang vir seer.

Opdrag 4

ONTWAAK LENTEKIND deur Ronél le Roux

stille winter mym’ring wreed

     verwoes verniel vernietig

         winterslaap drome aarselend

             agtergelaat

doelloos slentering vervloek vir nou want

      nuwe geleenthede wag

          onwillige ontwaker 

             dis tyd om op te staan

soete betowering vul die lug

       bruisend opwelling maagd’lik gebore

           laat die sluier opnuut oor

              my brose bloeisels lig

om te groei soos lenteblomme wat

      vreesloos hulle malse kleure wys

          juigend my innerlik menswees

               wie dúrf slaap as jubelfees wag?

Opdrag 5

(Ewig’) Liefdesbrief deur Anna Ahlschlager

Laag en leeg flikker my fakkellig teen perkamentrol

Ineengevlegte brief gerig aan my, fyn fragment vol

Eros hiëroglief-argief wieg woord-sondes wat wil plak

Fynbesnaard is een papirus-riet inkblad, ek knak

Deurdring Sy hartskrif my etos, hier in ritmiese noot

En dwelmspreuke wat spriet, Sy passie-seng ontbloot

Swygend’ hartstog wat doldriftig my stafmaat ontlont

Bladsy na bladsy blaas Sy agape-asem die vonk

Roem letters deur my tempel soos fakkelvure gloei

In ʼn reis vanwaar gerwe uit hemelsrakke vloei

Enigmaties sag onthuld’ woorde in my ewig’ brief

Feillose flakker wetend Yeshua het my waarlik lief…

Diggroep – Begaafdes: Top verse

Opdrag 1

Geheue is my kompas deur Rialda Zeelie

kindsbeen-kopsmokkelary kniehalter soms

die ék wie ek kan wees, want denkbeeld-ouers

met koue skouers gebruik steeds skadu-hande

wat my bek-toom pluk en sywaarts ruk…

     my oë slaan op na helder heem’le vir hulp

         my oë slaan op na blou berge vir bystand

my oë slaan op na Hom wat my heelmaak

grootwordjare grynslag goedmoedig

en byt-byt my Achilleshakskene rou

want ek wil skryf en teken en verf

maar die verwagtingswurm wurg my keel

– hel is ‘n tienermeisie wat dwaal in donker gange –

die verlange na die regte ék word opgewek

wanneer dit stil raak in my kop; ‘n flop!

     want stil trane drup teen my siel se ruite

        want stil trane verdamp uit nikssiende oë

           want stil trane word droog, ‘n teken van betoog

teen my gevangenisskap, my muilband wat

soms loodswaar-denkbeeldig skaaf aan my.

maar op ‘n dag begin ek lag want hy … my gade

omarm my en nestel my styf teen sy hart

ons word een, ons een word twee, ons een word

weer een en die trane reën mildelik om ons heen

maar Jesus stuur nog twee babbelbekkies wat

sonder juk en bek-tome en muilband-vry leef

 – ek het sterre in my oë oor die geskenke van Bo –

     onthou maak dat my olke-bolke rigting kry

        onthou maak dat my kyke en woorde sag is

           onthou maak dat my verlede stil-stil vertrek

want mý sinkplaatpad ‘s nou in goud ‘n geteer…

Opdrag 2

F84.0 deur Paul Kloppers

die oggend bars presies in chaosrooi

ruik niemand hier die loeloeloeloeloeriesang

foksnou ek myselwers saggies toe en

wonder of my oogfikseer in onderhoud onopgelet

verby sal maskersluip deur CV-muur versteek

my loerie oggendson ruik rooi in bloeipomelo

is ons die juk in juksta teenoor

‘n gemeenskap buite spektrum al word ons

1onverdun 2liefgehê 3met 4skerwe 5moederhart

omgord deur pa’s se dun psigereste

hoor hoe die rooikim bloedhaal raak

DSM-V(rydag) my 1v2y3f4d5e vlugdag as die

wêreld nog ten dele spektrum snap

my vreugde spriet sinapties uit dié misverstand

en as in vyfvoud my dendriete dans

bars daeraadskorale los in rooigranaat volbring

Opdrag 3

Wintervingers deur Rialda Zeelie

vriespunt-vingers vly verveeld oor velde

en kug-kug tot kraakvars sneeuvlokkies val…

wintermeisie sien die prag, giggel sag, spelde

vriespunt-vingers vly verveeld oor velde,

witswart ryp begraaf steeks’ planthelde

en ‘n zephyr sleepvoet wasig deur die dal

vriespunt-vingers vly verveeld oor velde

en kug-kug tot kraakvars sneeuvlokkies val…

Opdrag 4

besoek aan ‘n kunsmuseum deur Paul Kloppers

(vier kopwerke)

werk 1 – le désir

met bundels vers en verre reise wou

ek stopwerk vir my binnegate bou

hoe anders kelder jy die fel verlang

wat pierneefblou aan heel die hemel hang

werk 2 – la passion

ek het jou hitsig oopgesoen

kaboekirooi jou nok laat gloei

en in matisse se bloedlemoen

het al ons drif ineen vervloei

werk 3 – l’intimité

as skemertyd gauguinoranje swig

dig ek in teerheid odes permanent

voorstedelik vir jou in nat sement

‘n laatkwatryn met huiwerson belig

werk 4 – la croissance

soms sien ek astigmaties nie die dood

wat fokusvry monet se hand ontglip

dit bly geënt op elke dag se loot

wat botweg groen sy vingers lugwaarts stoot

Opdrag 5

kuddemobiliteit deur Paul Kloppers

(net soos ’n digter uittrek met sy woorde)

‘n troppie woorde wei, so neffens bladwit splyt

my fokvee lam alleen, dis keiserkloofbeleid

geskei word elke skaap, van lammerblêrte pal

my skrede swak ten spyt: ek fnuik gereeld die dal!

en soos ‘n digter trek, na weivers onverstoord

en neerlê in poësie, ‘n milde kudde woord

wat wei en teel en groei, tot bundels ongekend

my fokvee kink en spring, oor blad en boekenend

Leave a Reply