Skip to main content

Lumé van Schalkwyk

Die geheimsinnige omstandighede rondom die identiteit van die persoon wat die sneller in Vosloorus getrek het in die nag waarin die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa vermoor is, het versterk.

Dít blyk uit die omstrede moordverhoor in die hooggeregshof van Pretoria van die vyf mans wat van diė moord oos van Johannesburg op 26 Oktober 2014 beskuldig word. ‘n Advokaat het hom gister hieraan onttrek nadat hy beweer het pres. Cyril Ramaphosa is ook betrokke.

Terwyl hy nog namens van die verdagtes opgetree het, het advokaat Malesela Teffo ‘n voorstel aan regter Tshifhiwa Maumela aangebied. Teffo het gemeen die staat het in werklikheid die verkeerde verdagtes in hegtenis geneem, terwyl die werklike moordenaar byna agt jaar ná Meyiwa se dood steeds vryloop.

Díė inligting het opgeduik tydens die kruisondervraging van die eerste staatsgetuie en die polisie se forensiese kenner Thabo Mosia. Teffo het die stoel onder Mosia warmgemaak en bevraagteken of hy die korrekte prosedure gevolg het met die insameling van bewyse op die misdaadtoneel. Mosia werk al 14 jaar by die SA Polisiediens se forensiese vleuel in Springs en het aanvanklik verklaar dat die misdaadtoneel deurspek was met koeëls en bloed toe hy daar opgedaag het.

Tydens latere stadiums van Mosia se kruisondervraging is hy egter herinner aan ‘n beëdigde verklaring wat hy vroeër afgelê het, wat sy getuienis weerlê. Hy het daarin gesuggereer dat daar moontlik met die moordtoneel gepeuter is voor sy aankoms vier ure ná die voorval. Teffo, wat toe nog vier van die vyf beskuldigdes verteenwoordig het, het na die beëdigde verklaring verwys en aan die hof gesê dat ondersoekers van ‘n dossier wat in 2019 geopen is – vyf jaar ná Meyiwa se dood – verskillende verdagtes geïdentifiseer het as dié wat nou in die beskuldigdebank was.

Volgens Teffo moes al hierdie mense gearresteer en aangekla word van die moord, met voorbedagte rade op Meyiwa en van regsverydeling. Hy het bygevoeg dat sy getuie sal getuig dat, nadat die misdaadtoneel opgestel is, Meyiwa se lyk in sy BMW X6 geplaas is. Kelly Khumalo het toe die voertuig na die nabygeleë Botshelong Private Hospitaal gery onder die voorwendsel om Meyiwa se lewe te red.

“Ek stel dit aan jou dat ’n ooggetuie sal getuig dat Senzo Robert Meyiwa per ongeluk deur Nonhlanhla Kelly Khumalo geskiet is,” het Teffo dit aan Mosia gestel.

“Dieselfde ooggetuie sal verder getuig dat die vuurwapen wat gebruik is om Meyiwa te skiet, saam met Longwe Twala na die toneel gebring is – en daardie vuurwapen was ‘n rewolwer.

“Dieselfde ooggetuie sal getuig dat al die pogings om die liggaam van die toneel na die hospitaal te neem, gedoen is om die moord op Meyiwa te verdoesel.”

Mosia het gesê hy kan nie kommentaar lewer op Teffo se bewerings nie óf oor die ooggetuie wat die verdedigingsadvokaat gesê het hy sal bel.

Teffo het gister bekendgemaak dat hy uit die saak onttrek, as gevolg van die beweerde intimidasie wat hy van en in die hof moes verduur. Hy het voorts beweer dat die presidensie van pres. Cyril Ramaphosa agter die beplande disrespek teenoor hom sit en gelei het tot sy besluit aan die moordverhoor te onttrek.

“Die plan is in die presidensie bekook op 28 April, toe ek voor jou hof gearresteer is,” het Teffo verduidelik.

Teffo se brawade om groot name in die saak te impliseer het skokgolwe landwyd uitgestuur. Die kantoor van pres. Ramaphosa het intussen op sy bewerings gereageer. Daarvolgens is hierdie bewerings ongegrond en onakkuraat en ook reeds weerlê.

“As ‘n beampte van die hof en ‘n professionele persoon in die regsgemeenskap, moet advokaat Teffo die vlak van akkuraatheid waardeer wat nodig is om sulke eise te ondersteun. Die Presidensie neem nie deel aan kriminele ondersoeke of verhore nie en is nie betrokke by enige vermeende of werklike teistering van advokaat Teffo nie,” het woordvoerder Vincent Magwenya verduidelik.

Leave a Reply