Bring jou eie kragopwekker as jy wil sing
Sangers moet deesdae hulle eie kragopwekkers na kuierplekke neem as hulle ’n karige paar rand met hul stemme wil verdien. Yolanda Lemmer berig.
Boonop is die bedraggie wat kunstenaars tans vir hul optredes betaal word ook so skamel dat die aankoop van ’n kragopwekker nie die sous (of is dit nou die note?) werd is nie.
Byron Minnie, ’n gewilde Suid-Kaapse sanger wat pas sy enkelsnit Tienduisend Keer uitgereik het, vertel dat hy al ’n vertoning moes kanselleer omdat hy nie sy eie kragopwekker het nie.
Óf soms trek die kuierkroeg self so noustrop dat hulle ook nie ’n kragopwekker kan bekostig nie en dan moet die sanger maar stert tussen die bene huiswaarts keer as die ligte af is.
“Beurtkrag word gewoonlik tussen die ure wat ons moet sing ingestel en baie kleiner restaurante en kroeë beskik eenvoudig nie oor die finansies om die ligte aan te hou nie.
“In die Suid-Kaap word ’n sanger so tussen R1 500 en R2 500 per vertoning betaal. Ons sing gewoonlik dan so drie ure. Ons moet ook ons eie klank verskaf en self ons vervoer- en verblyfkoste betaal.”
’n Klein kragopwekker kos in die omgewing van R7 000 en dan moet sangers ook heel dikwels ’n bykomende versterker (UPS-supplier) koop wat ‘n verdere sowat R5 000 kos.
Die vermaak- en restaurantbedryf was ná die Covid 19-pandemie weer mooi op die herstelpad, maar toe slaan beurtkrag toe en die agterstand kan nou net nie ingehaal word nie, meen Minnie.
“Mense is uitgehonger vir musiek en ’n lekker kuier, maar nou hou die beurtkrag hulle nogeens tuis.”
Dié probleem, sê Hester Roos van HRL Produksies is nie nėt tot die Suid-Kaap beperk nie.
“Ek behartig die besprekings vir 17 kunstenaars en van hulle vertonings is ook al gekanselleer omdat die sangers nie hul eie kragopwekkers het nie, Daar is ’n kuierplek in Klerksdorp wat op ’n kragopwekker aandring. Dan moet die sanger ook sy eie reis- en verblyfkostes dek en ook klank verskaf. Die restaurant of kroeg bied so tussen R1 800 en R3 000 vir die optrede aan.”
Lezáhn van der Merwe, ’n sangeres van Pretoria, sê vier van haar vertonings is die afgelope maand gekanselleer omdat dié kuierplekke gewoon net nie genoeg krag kan opwek vir haar klankstelsel nie.
’n Kuierkroegeienaar van Pretoria, wat verkies om anoniem te bly, sê sy plek is bekend vir lewendige musiek en het ná die pandemie-grendels gelig het, weer drie keer ’n week kunstenaars bespreek. “Die mense het weer na ons plek toe begin stroom, maar toe tref beurtkrag ons weereens vol op die neus. Ons het wel een kragopwekker wat die ligte en sommige oonde aanhou, maar dit het nie genoeg kapasiteit vir sangers se klank nie. Ons moes ook van die optredes kanselleer.”