Skip to main content

Lumé van Schalkwyk

Malesela Teffo het die finale streep getrek ná sy kliënt, Mthobisi Mncube (beskuldige nommer 3), die voorwaardes waaraan hy onderworpe is by die Kgosi Mampuru Korrektiewe Fasiliteit, in ‘n brief in die hof uitgelees het. Verskeie bewerings is deur Teffo gemaak sedert sy onttrekking van die Senzo Meyiwa moordsaak, wat ook pres. Cyril Ramaphosa insluit.

Teffo het dit ook vir die regter duidelik gemaak dat hy nie sy verdiende respek in die hof kry nie.

“Ek is ‘n mens, ek het emosies en gevoelens. Ek verdien en eis respek. As ek jou respekteer, eis ek van jou om my te respekteer, en dit is waar die eis vandaan kom, want dit is wederkerig. Die rede hiervoor is dat ek nie in die hof kan wees en jou in die gesig staar nie, hier is ernstige bewerings,” het Teffo gesê.

“Hiermee deel ek die agbare hof mee dat ek my onttrek as die advokaat van beskuldigdes een tot vier. Ek sal nie meer hiermee kan voortgaan op gronde van die teistering wat ek van die staat en die hof ontvang nie.”

Hy beweer dat die teistering wat hy in die hof moes verduur, deel van ‘n plan is wat agter die deure van pres, Ramaphosa se kantoor uitgebroei is.

Advokaat Teffo is ook in Mei met dramatiese effek in die hof gearresteer. Dit hou verband met ‘n betredingsvoorval, nadat hy versuim het om in die hof te verskyn.

Kort nadat hy die hof verlaat het ná sy onttrekking, het Teffo gesê dat alles bekend gemaak sal word in ‘n media-inligtingsessie wat deur hom gereël gaan word.

“Ek kan nie bekostig om ‘n advokaat te wees nie wat mense verteenwoordig wat van ‘n ernstige saak aangekla is en terselfdertyd ‘n misdadiger, wat ek is as gevolg van die staat, die DOV en die polisie. Dit alles is uit die hoogste kantoor uitgebroei. Ek is ‘n probleem en versteur hulle plan wat hulle oor hierdie ouens het. Ek is geld belowe en dit is nie ek nie.”

Ook staan Teffo tereg op agt aanklagte in die Johannesburgse streekhof wat volgens hom “getroef” is.

Om voorsiening te maak vir nuwe regsverteenwoordiging, is die saak tot 2 Augustus 2022 uitgestel.

 

Leave a Reply