Skip to main content

George April

Kabeldiefstal is besig om hand uit te ruk aan die Weskus, met skurke wat nie eers omgee nie om die plaaslike kliniek se bedrading te steel.

Gelukkig het die plaaslike buurtwag besluit om sonder enige kennisgewing die woonbuurt te fynkam, en het toe die skurk op heterdaad betrap.

Thyrone Williams, ‘n PR raadslid van die Good Party, het die volgende op Facebook geskryf:  “Vanaand het Laingville-buurtwag ‘n verdagte op die spot betrap, besig om kabels te steel, en dit nadat ons vir niemand gesê het dat ons gaan loop nie. Ons het ook uitgevind dat die verdagte ‘n selfoon het, en dat hy op die Laingville se Facebookblad is.”

Beurtkrag en kragdrade wat gesteel word, is deesdae hoofnuus op plaaslike sosiale en plaaslike nuusmedia-platforms. In ‘n telefoniese gesprek, het Williams die probleem met Die Waarheid gedeel.

“Die mense wat die gesteelde goed aankoop, moet ‘n slag vasgevat word. Dis tyd dat alle misdaadbestryders in gemeenskappe begin saamwerk,” het Williams gesê. 

“Daar moet meer aandag gegee word aan hierdie soort misdaad”.  Ons Laingville-gemeenskap het nou genoeg gehad van hierdie soort misdaad, en gaan die reg in eie hande neem as ons moet. Om te dink, hulle teiken selfs die kliniek – wat as hy of sy familie die plek vandag benodig?”

Die Waarheid het ook onlangs berig oor die Hopefield Rugbyklub se kleedkamers wat erg deurgeloop het.  Amptenare van die Hopefield Rugbyklub is steeds erg omgekrap omdat die Saldanhabaai Munisipaliteit nie hul verantwoordelik nakom nie, vir die regmaak van hul sportgeriewe.

Na die berig oor die Hopefield-kleedkamers, het verskeie mense Die Waarheid daaroor genader. “Die mense weet wie die krane, drade en alles wat afgebreek was, gekoop het, het ‘n vrou uitgevaar.

 “Ons mense moet minder bakhand staan en opstaan vir hierdie soort afbreek van ons gemeenskapsfasiliteite,” het die vrou van Hopefield bors skoongemaak. Sy wou egter nie haar naam genoem hê nie.

Williams het saamgestem. “Soos wat in alle dorpe aan die Weskus gebeur, weet gemeenskappe wie die scrap koop.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!