Skip to main content

George April

Groot ongelukkigheid heers in Hopefield nadat twee taxibestuurders wat mynwerkers na en van hul werkplek vervoer het, na bewering deur die mynmaatskappy geskors is omdat werkers gekla het oor die bestuurders wat dagga rook.

Die ongelukkigheid gaan blykbaar ook oor die feit dat spesifiek ‘n pa en ‘n seun geskors is, terwyl daar bestuurders is wat glo erger op dwelms is.

In antwoord op die beweringe, het Michelle Lawrence, CEO by Trollope Mining Services (TMS), in ‘n sterk bewoorde brief ontken dat TMS by enige skorsing van taxibestuurders betrokke was.

“Op 14 Junie 2022, het TMS ‘n klagtebrief aan mnr. Quintin Julies, eienaar van Julies Vervoer, gestuur waarin ‘n aantal kwessies aangespreek word. Dit sluit in klagtes dat bestuurders dwelms misbruik, asook bestuurders wat onder die invloed van dwelms of alkohol bestuur.

“Die TMS-werknemers het by hul toesighouers gekla dat hulle nie veilig voel in die voertuie wat hulle van die mynterrein werk toe en huis toe vervoer nie.

“Geen spesifieke name van enige drywer is in die klagtebrief, wat aan Julies Vervoer gestuur is, genoem nie,” het die CEO beklemtoon.

“In reaksie daarop het Julies in ‘n brief aan TMS gesê dat hy die klagtes ondersoek het, en dat die bestuurders wat van dwelmmisbruik verdink word, getoets gaan word.”

Alle daaropvolgende aksies met betrekking tot enige bestuurders is deur die eienaar van die vervoermaatskappy geneem en nie deur Kropz Elandsfontein of TMS nie.

“Geen bestuurders is deur die mynbestuur geskors nie, en Kropz Elandsfontein dra geen kennis van die feit dat ‘n pa en seun geskors is nie.

“TMS  ontken dus ten sterkste enige bewering dat daar ‘n persoonlike vendetta van enige aard deur die myn of die werkers is.

“Taxibestuurders se gedrag is aangemeld deur personeel wat vervoer word, wat na bewering onveilig gevoel het”, het Lawrence voortgegaan.

Die bestuurders is deur die eienaar van die vervoermaatskappy getoets, en enige daaropvolgende optrede is nie deur Kropz Elandsfontein beïnvloed nie.

“Kropz Elandsfontein heg uiters hoë waarde aan veiligheid van alle persone wat op die terrein werk, en het ‘n zero-toleransie vir dwelm- en alkoholmisbruik, maar was nie betrokke by die aangeleentheid wat in navrae genoem word nie”.

Leave a Reply