Skip to main content

Isaac Cloete

Die polisie het onlangs met mening toegeslaan op veral onwettige buitelandse delwers in die Namakwa-distrik.

Tydens ‘n gesamentlike operasie (Phakiso) het die polisie die afgelope week toegeslaan op uitgewerkte diamantmyne in die Namakwa-distrik met Springbok as hoofsentrum. Hulle het veral die Kleinzee-, Nuttaboy-, Oubeep- en Bontekoe-myne naby Kleinzee geteiken.

Verskeie polisie-afdelings was betrokke by die gesamentlike operasie onder leiding van brig. Hennie van Rensburg. Op die myntoneel was ‘n miernes van bedrywigheid terwyl ongeveer 300 onwettige delwers by Nuttaboy die grond omgedolwe het.

Hier het die polisie 95 buitelanders gearresteer wat sonder wettige paspoorte of dokumente was.

Altesame 14 mense is aangekeer vir onwettige diamantdelwery. Een persoon is ook gearresteer vir die besit van dwelms, volgens kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder.

Verder is beslag gelê op vyf voertuie, 130 kragopwekkers, 121 boormasjiene, verskeie sluipmasjiene, beitels, pikke, grawe, ens. Die waarde hiervan word op R3.5 miljoen geraam. Die polisie het ook beslag gelê op ‘n vuurwapen en dagga.

Die verdagtes behoort in die week in die hof op Springbok te verskyn, volgens Gamieldien.

Baie inwoners is bly dat die polisie die buitelanders hier probeer verwyder het. Hulle wys daarop dat daar egter nog baie is wat onwettig in die distrik werk.

Ouers op Port Nolloth vertel voorts dat van die buitelanders drank en dwelms aan veral jong meisies verskaf het.

Edmund Steyn Crew, een van die delwerleiers,  het hom intussen sterk uitgespreek oor beslagleggings op persoonlike eiendom. Volgens hom het die plaaslike delwers hard gewerk vir die gekonfiskeerde gereedskap. Dis persoonlike eiendom wat aan die inwoners behoort, het een van die inwoners egter heftig beswaar gemaak.

“Ek is baie dankbaar vir die operasie. Ek het al baie keer gevra dat die polisie die onwettige buitelanders moet kom verwyder. Hier is nog hordes van hulle wat in die berge gaan skuil wanneer die polisie opdaag.”

Hy meen die polisie moet hulself voortaan beter organiseer sodat almal verwyder kan word.

Crew voel ook dat die polisie vinnig spring as die mynbase die myne se sekuriteit opdragte gee. Maar die vrae rondom delwer Ronaldo Joseph, wat in 2020 deur die myn se sekuriteit doodgeskiet is, bly onbeantwoord.”

Hy meen dat die regering permitte aan die plaaslike delwers moet uitreik, want die myne lê op hulle grond.

“Ons plaaslike leiers, soos die regering,  draai weg van ons. Intussen sit ons met wetgewing wat net die groot mynhuise bevoordeel. Dit alles verarm ons mense van Namaland net verder en verder.”

Volgens hom kan hulle gereedskap maar afgevat word, maar dit sal nie hulle weerstand breek nie om brood op die tafel vir hul gesinne te sit.

Die waarnemende provinsiale kommissaris, maj-genl. Koliswa Otola, het die polisielede geloof vir uitstekende werk.

Die polisie van Namakwa is ondersteun deur die departemente van binnelandse sake en minerale hulpbronne, polisie-sekretariaat, staatsveiligheidsagentskap en die direktoraat van prioriteits misdaadondersoeke.

Leave a Reply