Skip to main content

Yolanda Lemmer

Sy slaan nie ’n dampie saam met party van haar skoolmaats nie en drink ook nie by die “rowwe” tienerpartytjies nie.

Só sê Zandri Botha, Afrikaans se nuustste tienerster wat vroeër vandeesmaand haar toetrede tot die musiekbedryf gemaak het met ’n enkelsnit Skildery. Die liedjie boer op radiostasies se trefferparades en is al deur bykans 3 000 mense afgelaai.

Zandri (17) is ’n graad 11-leerling aan die Hoërskool Pretoria-Noord en het grootgeword in Wolmer.

“Ek is nie skaam om vir mense te sê dat ek in Wolmer bly nie,” het sy aan Die Waarheid vertel. “Dit gaan ook soms rof hier – hier is inderdaad ’n paar swakker dele – maar my ouers probeer regtig baie hard om ons ’n goeie opvoeding te gee.

“Ek wil ook nie altyd al die partytjies bywoon nie, want party tieners drink verskriklik baie. Ons het ook ’n probleem by die skool gehad, waar kinders daar openlik gevape het.

“Die polisie moes ingryp om die vapery te keer.”

Zandri is ook nie bang dat die tieners haar sal uitskel as ’n “koek” nie. “My vriende weet dat ek nie hoef te rook en drink nie om tussen die “in”-kinders te kan beweeg.”

Die jong musiekster was eers bang om Skildery, wat uit haar eie pen verskyn het, op te neem. “Ek sing nooit by die skool nie, want die kinders kan ’n mens boelie. Tog, nadat die liedjie vrygstel is, het almal my gelukgewens. Ek het toe besef dat ek nie vir enige boelie bang hoef te wees nie.”

Musiekresensente loof Zandri vir die diepte en volwassenheid van die liedjie se lirieke. “Die liedjie is vir my ’n metafoor van vrouwees; ek wil hiermee ook vir tieners sê dat hulle uniek en mooi is. Daar is skoonheid in elkeen van ons.”

Zandri sê sy het al ’n paar skribbels vir nuwe liedjies, “maar die musiek en liriek wil net nie bymekaar kom nie. Ek dink ek het skrywersblok.”

Die opkomende ster tree teen die einde vandeesmaand by haar eerste liefdadigheidsgeleentheid op. “Ek het ’n repertoire van ses liedjies,” vertel sy en voeg by sy sien baie uit na die optrede.

Zandri beoog om na matriek eers “iets in ’n mediese rigting” te studeer voordat sy voluit op ’n musiekloopbaan wil fokus.

2 Comments

  • Isabel Steynberg says:

    Ek het nou regtig die artikels in die Waarheid koerant baie geniet. Baie dankie. Seënwense vir n puik koerant waar die waarheid seëvier.

  • Duncan Gill says:

    Ja dis tyd sulke mooi jong mense opstaan en n voorbeeld skep vir die ander jong mense wat eiendelik leiding nodig het!In die tye ons nou beleef is dit soms moeilik vir arm ouers hulle kinders direksie te kan handaf om rede hulle is voltyd besig om net kos op die tafel te sit.Dis hoekom n jong meise soos die sal wel kan hand uitsrek na die ander tienerjariges om vir hulle leiding te aanspreek, in hulle lewens, na die regte kant toe! Welgedaan Zandri jy is pragtig:-)

Leave a Reply to Duncan Gill Cancel Reply