Isaac Cloete
Die optrede van wakker polisielede het daartoe gelei dat wielediewe hulle crank gesien het.
Volgens die polisiewoordvoerder, kapt. Olebogeng Tawana, het die eienaar van ‘n trok die naweek langs die N7 by Garies ontdek dat drie diewe besig was om sy trok se bande te steel.
Hy het onmiddellik vir sers. JH De Waal in kennis gestel. Omdat laasgenoemde van diens was, het hy op sy beurt sy manskappe in Garies verwittig.
Garies se polisielede het hulle gehaas na die toneel, ongeveer 20km suid van Garies. Op pad daarheen het hulle opgemerk dat die vermeende wielediewe die bande van die trok gestrip het.
Die verdagtes het in ‘n wit Ford Ranger probeer vlug toe hulle die polisie gewaar. ‘n Wilde jaagtog het gevolg terwyl die polisielede stadig maar seker die verdagtes ingehaal het.
Die verdagtes het beheer oor die bakkie verloor en teen ‘n paal gebots. Hierna het hulle uitgespring en probeer weghol. Die fikse polisielede het hulle per voet gejaag en in die veld gaan vastrek.
Die polisielede het toe vyf trokwiele ter waarde van R40 000 op die Ford Ranger-bakkie aangetref. Dit het verder aan die lig gekom dat die bakkie vals nommerplate, asook ‘n vals lisensieskyfie gehad het. Dit is vemoedelik gesteel.
Plaaslike inwoners het die polisielede geloof, wat die trok se wiele “gered” het. Volgens hulle sou die trok heeltemal gestrip gewees het as dit byvoorbeeld naby ‘n township gestaan het. Ander inwoners was bly omdat die plaaslike mense nie bekend daarvoor is om voertuie soos trokke te besteel en aan die brand te steek nie.