Skip to main content

Meesterplan

Ammie Walters

Sy kyk na die muurhorlosie in die kombuis. Haar meesterplan begin oor ‘n uur. Sodra die kinders weg is. Sy stap uit en loer by die TV-kamer in. Stefaans sit-lê op sy gewone stoel. Sy maag bult onder sy hemp. Swart wolle steek tussen die knope by sy naeltjie uit. Die weerkaatsende lig van die TV teken blougrys mufkolle op sy gesig.

“Wil jy iets drink?” Sy dwing haar stem om neutraal te bly. Van jare se oefen klink dit selfs geduldig. Liefdevol.

Hy antwoord nie. Praat net as hy iets wil hê. Meestal kos of bier.

Dawid kom soos ‘n tolbos by die TV-kamer ingehardloop. “Ma! Ek kry nie my rugbytokse nie!”

“Kyk in die spens. Agter die deur. Ek het dit skoongemaak.”

“Hy gee haar ‘n klapsoen op die wang. “Wat sal ek tog sonder Mams doen?”

Sy hoor hom soek in die spens voor hy terugkom met die tokse in sy hand.

“Het jy nou alles vir die naweek? Die bus tel julle oor ‘n uur op.”

“Ek dink so.” Hy verdwyn met sy gespierde lyf in die gang af. Dawid – haar oudste, haar trots.

“Sara!”

Sy stap weer TV-kamer toe. “Ja, Pappa?”

“Bring vir my ‘n bier. Ek’s dors.”

“Dis reg, Pappa. Ek bring nou.”

Die biere staan in perfek netjiese rye op die boonste rak van die yskas. Sy hou nie van ‘n slordige besigheid nie. Sy sit ‘n glimmend koue bier op die tafeltjie langs hom neer. Vat die leë blikkie wat langs hom staan. Hy knor nie eens ‘n “dankie” nie.

Sy stap na Miemie se kamer. “Is als reg? Het jy al jou goed?”

Miemie tel op haar vingers af. “Netbalklere, tandeborsel, handdoek, badgoed, twee panties, ‘n ekstra bra, jeans, twee T-shirts en my Kway-baadjie vir as dit koud is. Dink Ma ek kort iets?”

Haar liefkind. So agtermekaar. Sy knik. “Klink reg. Dis darem net vir twee dae. Sondag is julle weer terug. ‘n Naweek gaan gou verby. As jy regtig iets kort, kan jou vriende jou seker uithelp?”

Miemie lag. “Seker, maar ek hou nie van leen nie.”

Klokslag vyfuur hou die skoolbus voor die huis stil. Haar kinders soen haar en elkeen gee haar ‘n stywe druk. “Baai, Ma! Dankie vir als! Liefe Ma!” Hulle drafstap oor die tuinpaadjie en sy kyk die bus agterna.

Uiteindelik. Dis tyd.

In die kombuis haal sy die filletsteak uit. Sy het ekstraduur vleis gekoop, versigtig uitgekies. Sy spoel die sampioene af. Meng dit met wat sy in die bos gepluk het. Haar pa het haar mooi geleer. So met sy bruingebrande hande vir haar gewys hoe jy nie ‘n sampioen se velletjie tot by die middel kan aftrek as hy giftig is nie. Hy het haar gewaarsku teen Stefaans. Sy wou nie luister nie.

Sy maak botter in die pan warm. Braai die steak soos Stefaans daarvan hou. Braai die bosgeplukte en winkelgekoopte sampioene saam in ‘n aparte pan. Haar mond water. Maar sy proe nie. Nie eens onwillekeurig nie. Sy wil môre nog hier wees. Haar kinders sal haar nodig hê. Al is Stefaans ‘n patetiese pa sal hulle hartseer wees. Maar hulle sal daaroor kom. Hulle lewens sal beter wees sonder hom.

Toe die kos klaar is, skep sy vir Stefaans op. Skep versigtig die sous bo-oor. Skep slaai in ‘n kleinbordjie. Met ‘n glimlag sit sy die bord op die tafeltjie langs hom neer. Skuif die bierblik eenkant toe.

“Hier’s jou aandete. Jou gunstelinggereg.”

Hy brom iets.

“Ek gaan ‘n bietjie lê. Ek is moeg.” Op pad kamer voel sy die kloppende aanmaning agter haar oë. Seker weer ‘n migraine wat aan die kom is. Seker die stres. Dis te veel. Maar wat kan tog skeefloop? Niks. Sy het alles fyn uitgewerk. Haar storie is agtermekaar. Niemand sal weet nie.

Sy gaan lê op haar bed. Raak amper onmiddellik aan die slaap.

Meteens sit sy verskrik regop. Wat het haar wakker gemaak? Sy vang ‘n glimp tussen die gordyne deur. Dis skemer buite. Sy kyk op haar horlosie. Sy het sowaar meer as twee ure lank geslaap.

En Stefaans? Sy sluk, voel skielik swaar op die maag. Is haar meesterplan voltrek? Sal sy daarmee wegkom? Vir die eerste keer bekommer sy haar daaroor. So bekommerd dat haar maag daarvan pyn. Met ‘n skud van die kop tel sy haar selfoon van die bedkassie af op en maak haar keel skoon terwyl sy met die gang langs na die TV-kamer stap. Haar stem moet reg klink, oortuigend – wanneer sy die ambulans bel.

In die TV-kamer steek sy vas. Teleurstelling spoel oor haar. Stefaans se onaangeraakte bord kos staan langs hom, nou vetterig en koud. Wat ís dit met die man? Hoe kon hy daardie steak weerstaan?

“Bring vir my nog ‘n bier.”

Sy stap kombuis toe. Gereed om in trane uit te bars. En tog ook, vreemd genoeg, verlig. Vrek verlig, as sy eerlik moet wees. Want wat as sy nié daarmee weggekom het nie? Wat as hy wel dood was of kreunend oor die mat gerol het. Hoe sou sy dit hanteer het? In watter stadium sou sy die ambulans gebel het?

En die polisie, besef sy eensklaps. Die polisie moet ontbied word as iemand doodgaan. Wat sou sy vir die speurder gesê het? ‘n Rilling gaan deur haar. Nee. Dis beter so. Eintlik ‘n genade, dankie, Heer.

In die kombuisdeur stop sy meteens.

Dawid en Miemie sit oorkant mekaar by die kombuistafel. Twee leeggeskraapte borde staan tussen hulle op die tafelblad.

“Hallo, Ma!” Dawid lag vrolik, vryf sy maag. “Surprise!”

Sy kan nie praat nie.

“Ma lyk nie juis bly nie.”

Miemie staan op. Loop stoof toe. “Is hier nog van daardie jammie mushroomsous? Vrek lekker, Ma.”

Dawid kom orent en stamp sy suster speels uit die pad met sy elmboog. “Hei, jy’s nie die enigste kind in die huis nie, los vir my ‘n paar skeppe!”

Sy wurg die woorde uit. “Die bus … die naweek …”

Miemie kyk oor haar skouer, haar gesig grou in die skemerlig wat deur die venster val. “Die bus het gebreek. Kan Ma dit glo? Die nuwe bus tel ons môre vyfuur op. Coach sê ons sal betyds wees vir die eerste wedstryd.” Haar linkerbeen swik effens toe sy terugstap na die tafel.

“Nog ‘n bier, vrou!”

Die uitroep uit die TV-kamer koggel haar: Nog ‘n bier! Nog ‘n bier! Nog ‘n bier!

Gedwee stap sy na die yskas en maak die deur oop. Sy sit die yskoue bier langs hom op die tafeltjie neer.

“Maak my kos warm. Ek wil nou eet.”

Sy tel die bord op. Loop kombuis toe. Bly staan met die bord kos in haar hand. Kyk na Dawid en Miemie wat by die kombuistafel sit. Hulle lag oor iets wat by die skool gebeur het.

Sy wil skree. “Nee!  Dis nie hoe my meesterplan moes uitdraai nie!” Sy het dit maande lank beplan. Alles oor en oor in haar kop laat afspeel. Moet sy die ambulans bel? Hoe gaan sy aan hulle verduidelik dat Miemie en Dawid giftige sampioene geëet het? Wat as die polisie haar in die tronk stop? Hoe sal die kinders sonder haar regkom alleen by hulle gewelddadige pa?

Sy stap na die mikrogolfoond. Druk Stefaans se bord kos in die oondjie. Kyk toe terwyl dit in die rondte draai. Om en om. Soos haar gedagtes.

Die “pieng” van die mikrogolf bring haar terug na die werklikheid. Sy haal die kos uit die oondjie. Twyfel ‘n oomblik. Begin dan om TV-kamer toe te loop. Gaan staan. Draai om. Gaan sit met bewende hande langs die kinders. Alles is vreemd dof. Sy kan amper niks deur die trane sien nie.

“Ma?”

Haar kinders kyk verbaas na haar. Sy het nog nooit voor hulle gehuil nie. Vies vee sy die trane weg.

“Is Ma okay?”

Sy probeer glimlag. Trek die warm bord kos nader. Sny ’n stuk steak af en druk die vurk in die sampioensous. Haal diep asem en neem die eerste hap. Dit smaak lekker. Vrek lekker.

Sy eet alles op en glimlag vir haar kinders. Steek haar hande uit na hulle. “Ek is okay. Alles gaan okay wees. Kom gee vir Ma ‘n druk.”


Leave a Reply

error: Content is protected !!