Skip to main content

Isaac Cloete

Die familie van ‘n bejaarde inwoner op Nababeep krap hard kop oor sy vreemde dood.

Willem “Dikkop” Cloete(74) is onlangs tuis dood nadat die polisie hom voorheen vir die verbreking van ‘n interdik gearresteer het.

Volgens polisiewoordvoerder, lt./kol. Segios Kock, het Willem op 30 Junie by sy huis gesterf. “Die polisie is besig met ‘n geregtelike doodsondersoek na sy dood. Hy het by sy huis gesterf. Die familie beweer egter dat vuilspel moontlik is, aangesien die oorledene na bewering aangerand is.”

Die familie beweer verder dat hy sy beserings opgedoen het tydens sy arrestasie en aanhouding in Nababeep se polisieselle, het Kock bygevoeg.

Volgens Janice Ann, ‘n familielid, het Willem aan dimensie (geheue- en gedagteverlies) gelei tydens sy dood. Volgens haar het haar oom ook op 29 Junie gesterf en nie op 30 Junie nie, soos die polisie aanvoer.

“Hy het die Woensdagaand om 23:10 by sy huis in Hospitaalheuwelstraat gesterf.”

Sy kleinseun Shane Cloete vertel dat sy oupa na sy arrestasie en aanhouding na Springbok se hospitaal geneem was. Hy moes ook hof toe gaan weens die interdiksaak.

Willem het hierna weer na sy huis teruggekeer. Shane wonder ook wat met sy oupa gebeur het. “By die hospitaal het hulle sy beserings gesien. My oupa het ons nie vertel wat gebeur het nie, voor hy gesterf het. Ons wag nou vir die forensiese verslag vir gemoedsrus.”

Willem sal nou eers op 16 Julie ter ruste gelê kan word, het Shane bygevoeg.

Volgens Kock is die polisie besig met ‘n outopsie om die aard van die man se beserings en dood te kan bepaal. Intussen duur die ondersoek na Willem se vreemde dood voort.

Baie inwoners was geskok oor sy dood en meen daar moet iewers ‘n slang in die gras wees. Hulle hoop egter dat die polisie nie betrokke is nie.

Enigiemand wat die polisie kan help, word versoek om dringend die ondersoekbeampte, speur./konst. Desiree Cloete, te skakel by 082 495 5305.

  • Kock het vanmiddag (8 Julie) laat weet die oorledene het aan natuurlike oorsake gesterf. Dis vandag met ‘n lykskouing bepaal.

Leave a Reply