Skip to main content

Lumé van Schalkwyk

Is dit die behandelingsdeur wat moes oopgaan, sodat kanker vorentoe sy wapens kan begrawe?

Navorsers in die veld van kolorektale kanker juig oor die uitslae van ‘n klein toetsloop in die VSA.
Die eksperiment wat deur die werêldbekende Memorial Sloan Kettering Cancer Center in Manhattan gelei is, het merkwaardige resultate getoon. Hoewel die proef klein was, is dit die eerste keer in die geskiedenis wat 100% van pasiënte wat deel van ‘n proef was, in volle remissie is.

Die New York Times berig dat al 18 kankerpasiënte wat deel daarvan was, se tumors verdwyn het. Die pasiënte het Dostarlimab ontvang vir ses maande, ‘n mediese middel wat ‘n anti-PD-1 monoklonale teenliggaambehandeling is. Dit word binneaars toegedien, elke drie weke vir ses maande in ‘n totaal van nege siklusse.

Volgens die NYT, het die toetsloop-pasiënte voorheen verskeie behandelings ontvang, insluitend chemoterapie, bestraling en chirurgie.

Na berig word, was geen verdere behandeling nodig na behandeling met die nuwe terapie nie en het die skanderings, biopsies en fisiese ondersoeke daarna geen tekens van kolon- of rektale kanker getoon nie.

Daar was ook geen newe-effekte aangemeld nie. Wetenskaplikes wêreldwyd meen dat dié baanbrekerontwikkeling na nuwe behandelings vir ander kankertipes kan lei.

Kenners in die veld het verduidelik dat die Dostarlimab-middel laboratorium-geproduseerde molekules insluit, wat dan as plaasvervangende teenliggaampies in die menslike liggaam optree.

Onkoloog, dr. Andrea Cercek, het die oomblik wat die pasiënte uitgevind het dat hulle kankervry is, aan die NYT so beskryf: “Daar was báíe trane van blydskap!”

Al toon hierdie studie opwindende resultate, is dit egter belangrik om te onthou dat daar ‘n paar beperkings was:

Terwyl die hoeveelheid proefpasiënte divers in ouderdom, ras en etnisiteit is, was die proefskaal klein. Die resultate het ook net betrekking tot diegene wat ‘n spesifieke abnormaliteit van hul rektale kanker het, bekend as MMrd (Mismatch repair-deficiency). Dít belemmer die liggaam se funksie om abnormaliteite te normaliseer of te herstel wanneer selle verdeel, en lei dan tot mutasies.

Hierdie tekort kom voor in rofweg 5% tot 10% van alle rektale kankerpasiënte en is geneig om chemoterapie te verwerp of te weerstaan.

Cercek, hoof van kolorektale kanker by die Memorial Sloan Ketting, het in ‘n mediaverklaring oor die deurbraak uitgebrei: “Chirurgie en bestraling kan permanente skade aanrig aan die vrugbaarheid, seksuele gesondheid, ingewande en blaasfunksie. Die implikasies vir lewenskwaliteit is dus wesenlik, veral in diegene waar standaardbehandeling vrugbaarheidspotensiaal sal beïnvloed.”

Aangesien die voorkoms van rektale kanker by jong volwassenes toeneem, kan hierdie benadering ‘n groot impak hê.

“Soos ons navorsing vorder, beoog ons dat PD-1-blokkades geëvalueer sal word in ander MMrd-gewasse, insluitend nie-metastatiese, pankreas-, maag- en prostaatkanker in die neoadjuvante omgewing. Dit kan die deur oopmaak vir ‘n pantumor-benadering, soortgelyk aan MMrd in die metastatiese siekte,” het dr. Luis Alberto Diaz, hoof van die afdeling van soliede tumoronkologie, by Memorial Sloan Kettering bygevoeg.

One Comment

  • Hendrina de Villiers says:

    Baie dankie vir die artikel oor kanker genesing. Voorwaar Baie goeie nuus!!!!

Leave a Reply