Skip to main content
 Uniek-Brits, was Boris vars bries

Die tweede omstrede rooikop-Boris het vanjaar sy rieme in Brittanje styfgeloop. Nadat tennisster Boris Becker onlangs weens belastingontduiking daar tronk toe gestuur is, het die Britse eerste minister Boris Johnson eindelik gister na ‘n reeks flaters bedank. Dis ‘n reuse-terugslag vir die huidige opkoms van populisme en konserwatisme in Europa en elders. Sonnette Lombaard berig.

Dit was ‘n mylpaal-veldtog wat ‘n toekomstige voorbok-hoofseun eindelik sy regmatige plek in die wȇreldpolitiek sou laat inneem. As bendeleier van die brawe Brexiteers wat die Britse volk in 2019 oortuig het om in ‘n geskiedkundige stap die Europese Unie te verlaat, was Boris Johnson geheil as ‘n tydige staatsman uit die tradisieryke geledere van sy groot voorgangers soos Churchill en Kie. Johnson, wat ‘n vars vaandel vir die Konserwatiewe Party oftewel Tories in sy tuisland gedra het, het by die gesogte private Eton College skoolgegaan en in Oxford studeer waar hy die gewilde president van die uitgelese Oxford-unie was. Hy was later politieke joernalis en redakteur van bekende Britse koerante voor hy voltyds die politiek betree het.

Die charismatiese politieke dier, wat laas maand 58 geword het, is in New York gebore waar sy Britse ouers gewoon het terwyl sy pa daar studeer het. Hy het vinnig die breȅr mensdom se oog begin vang in sy twee termyne as burgemeester van Londen van 2008-2016.  As die Britse hoofstad se eerste burger – waarskynlik die bekendste kettingdraer op ons planeet – was sy kenmerkende rooikop gereeld op sy fiets, geklee in sy pak, in die stadstrate gesien. Hy was gou geliefd.

Boonop was die effe ”verslonsde” en oorgewig man met die windverwaaide, wilde haredos en glinster in die oog ‘n welkome nuweling en toevoeging tussen toe meer vervelige, ouerwordende politieke wȇreldleiers. En was hy boonop perfek betyds vir ‘n nuwe politieke orde se opbloei, want kiesers oraloor was grensloos toenemend keelvol vir opgeblase en selfverrykte landsleiers wat veral uit pas met voetsoolvlak se behoeftes was. Weliswaar self eg-Brits privaat geskoold en opgevoed, was Johnson op die regte plek en regte tyd. Veral betyds om te skep uit en ook te lei in die golf van moderne konserwatisme en nasionalisme wat die laaste dekade wyd oor die Aardbol begin waai het. Dit sou nuwe populistiese leiers aan veral die regse politieke flank baar. Gewilde leiers wat kiesers oorgewen het met hul meer voete-op-die-grond-benaderings en indringender fokus en aksie op tuisbelange. Saam met die Yanks se omstrede populistiese president Donald Trump was Johnson die nuwetydse “hoofseuns met die ongetemde haredosse” wat die Weste in ‘n era van konserwatisme in die moderne millennium moes inlui. Beide sou eindelik skandale moes trotseer en met tanende gewildheid hul magposisies swaar moes prysgee en groet.

Nogtans het Johnson sy man eiesoortig gestaan en sy merk gelaat in die ongenaakbare internasionale politieke arena. In sy relatiewe kort, maar betekenisvolle drie jaar as Britse premier moes hy ‘n paar kernkrisisse tuis en elders hanteer en was ‘n gereelde en bekende gesig op kleinkassieskerms regoor Moeder Aarde. Dit sluit in die Brexit-stem, die wȇreldwye pandemie en Rusland se durende vergrype in Oekraȉnie. Dit was juis sy hantering van die pandemiegrendels wat die begin van sy ondergang sou wees. Nadat hy telkemale die Britse volk ernstig gemaan het om by sy regering se streng grendelreȅls te hou, het dit later geblyk dat hy en van sy partytrawante hulle nie in ewemaat daaraan gesteur het nie. Foto’s is aan die media gelek van te veel vrolike partytjies in Downingstraat 10 waar drank – toe nog verbode en strafbaar met tronkstraf – gevloei het. Dit sou tot ‘n verdoemende regeringverslag lei, wat ook die begin van die einde was.

Onthutsde kiesers en opposisie-politici het woedend hierop gereageer en Johnson se kop is weens sy “dubbele standaarde” geeȉs. Hy het egter dié fel aanslag, ook van binne sy eie party, oorleef en voort regeer.’n Week gelede het nog ‘n bom egter gebars. Een van sy senior parlementslede se seksvergrype met mans het vir hoofopskrifte gesorg. Hoewel Downingstraat herhaaldelik ontken het dat Johnson vooraf bewus hiervan was, moes hulle vandeesweek na bewyse geopenbaar is, vinnig terugkabbel en erken dat die premier wel  ingelig is voor hy vir parlementariȅr Chris Pincher as die Tories se adjunk-hoofsweep aangewys het. Pincher het intussen uit dié amp bedank.

Dít was die finale strooi vir selfs die eens mees lojale Borismanne en hulle het sedertdien op strepe begin bedank én terselfdertyd hul eens gewaardeerde leier versoek om die handdoek in te gooi. Hoewel Johnson eers adamant vasgeskop en geweier het om te bedank, het sy kabinet vinnig leeggeloop nadat meer as 50 Tories gegroet het. Hy het gister die Britse volk in die straat voor nr. 10 se bekende deur toegespeek en eindelik sy bedanking as Tory-leier en premier aangekondig.

In sy bedankingstoespraak, het Johnson gesȇ hy verstaan dat niemand onvervangbaar is nie. Hy het ook sy voorneme uitgespreek om eers ‘n nuwe, verenigde Tory-kabinet saam te stel voor hy in Oktober finaal sal groet. Johnson het die kiesers bedank vir hulle “ongelooflike” vertroue en mandaat in 2019 toe hy na die suksesvolle Brexit-stem ‘n reuse-oorwinning by die stembus behaal het. ‘n Goue toekoms wag op ons, het hy die Britse volk verseker.

Hy het ook sy familie vir hul ondersteuning bedank terwyl sy vrou, Carrie, en hul babadogter Romy toegekyk het. Hulle het ook ‘n jong seun Wilfred. Johnson se vurige liefdeslewe het hom dikwels in die sop gehad en in die nuus gehou. Hy het sewe kinders by verskillende vroue na drie huwelike en meer as een, welgedokumenteerde affairs. Die media het ‘n liefdeshaatverhouding met Carrie, ‘n voormalige PR-baas, gehad. Sy het na bewering vierkant op haar man se rooikop gesit en was glo ook nie skaam was om die volk se geld vir luukses en gemak tuis aan te wend nie.

Hou van hom, óf nie, Boris Johnson was ’n ware en welkome karakter waarmee die intense politieke kryt altyd kan doen. Met sy eiesoortige voorkoms en charisma was hy ‘n eietydse groot gees, wat ondanks die uitkoms van sy kort bewind nou, in sy toegelate tyd as hoofrolspeler ewe sjarmant statuur en wye aansien geniet het. Die fel kollig van ‘n moderne era waar niks en niemand ongesiens kan bestaan of aanhoudende foute geduld word nie, het hom eindelik ingehaal, uitgevang en gepos. Op die wȇreldverhoog sal hy gemis word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!