Skip to main content

Beide kante van die Mike-muntstuk

As Suid-Afrika se voorste misdaadbestryder is Mike Bolhuis al byna vier dekades ‘n huishoudelike en gevreesde naam. Die suksesvolle misdaadbekamper laat boewe en korruptes se broeke bewe, maar diė rankerige Pretorianer beskerm nie net kwesbares soos vroue en kinders nie, maar ewe kranig ook die natuur en diereryk. Nadia Oberholzer het by hom en sy baie diere op sy hoewe naby Roodeplaatdam gaan kuier.

Elke held het ‘n swak plek en Mike Bolhuis s’n is ooglopend die mishandeling van diere. Die lang man se stem raak bewoë as hy passievol praat oor die slegte impak van vuurwerke op troeteldiere, asook uitbrei oor sy groot voëlversameling.

Sy liefde vir die diereryk is van jongs gekweek, op die plaas waar hy grootgeword het en nou op woon en werk. Hy vertel van sy eerste makouboerdery wat hy op vyfjarige ouderdom begin het. En hoe hy die makoue verkoop het teen 50 sent ‘n makou … hoe sy ouma hom met die boerdery gehelp het. Dit was die swaar jare na die Depressie en hy en sy agt broers en susters moes botter maak, tuinmaak, met die vurk spit en die graaf skoffel en daar is aanhoudend gebid vir reën. Die varkhokke moes ook daagliks skoongemaak word: “Ons het nie daarvan gehou nie, want dan stink ons! Maar gelukkig het al die maatjies by die skool ook na plaas geruik.”

Die post-depressie vormingsjare het ook ‘n sterk sin van geen vermorsing in die Bolhuisgesin gekweek. “Ons sou weekliks ‘n groot pot kos maak en die hele week daarvan eet.” Mike verklap hoe die saadjie vir misdaadbekamping gesaai is toe sy ma hom en sy sibbe ‘n bendefliek by die detydse Skyline-teater gaan wys het. Waar hy begin broei het oor “bendes” teen misdrywe. Sy eerste bende het Hillrunner geheet, en sy gunstelingspeletjie was cowboys & crooks. Op die draadloos het hulle getrou geluister na Die dans van die flamink wat ewe profeties sou wees.

Perdry was die vervoer skooltoe. Mike se kop het toe al oortyd gewerk. Teen sy laerskooldae het hy besef hy is “anders” aanmekaar geweef as sy skoolmaats. Hy kon nie terugstaan en net ‘n passiewe toeskouer wees vir onregmatighede teenoor die “kleiner” dele van God se skepping nie. Hy het sy skoolmaats slae gegee as hulle voëleiers uit neste geskop het en hy het flink slange bevry wat in ‘n skoolmaat se plastiek-kosblik gevangene gehou is.

Die diere se beskermvors het later oorgespoel na misdrywe teen vroue. Op die ouderdom van 16 jaar in matriek het hy sy rol as beskermer getoets, toe hy ‘n bende reggesien het omdat hulle met die matriekdogters “gelol” het.

Sy roeping is vasgelê in sy dienspligjare as ‘n parabat in die Charlie-eskadron in die destydse Bosoorlog. Hy gesels entoesiasties oor sy patriotskap by die kaplyn. Dit het sy loopbaan in die breër beskermingsveld ingelui. Hy het aanvanklik begin met misdaadvoorkoming by die Pretoria Mark en die Staatsteater en sou hom eindelik vestig as die Jakarandastad se bobaas-beskermer met outoriteit by die nagklubs.

“Ek gebruik nie geweld vir eie gewin nie, ek laat dit ook nie toe vir diegene wat vir my werk nie,” verklap Mike. Sy werk in die lewe se skadukante het hom ‘n binneblik gegee op die siel van ‘n krimineel en hy bepeins graag die stories agter die vorming van so ‘n mens. Deur al die hordes sake waartydens sy kunidigheid ingeroep is, besef hy telkens die waarde van ‘n gesinskern se impak op mense se doen en late later. Hy is oortuig die kweek van ‘n liefde vir die Skepping vanaf ‘n jong stadium lei tot positiewe uitkomste. Crime begets crime, is sy leuse. Ouers moet ‘n Christen-voorbeeld wees, eerder as ‘n Christen-diktator: “Moenie vir jou kind sê om eerder te doen wat pappa sê, pleks van wat hy doen nie, is ‘n groot taboe,” aldus Mike.

Voorts is sy raad om nie die jonger geslag te vroeg op die aggressie van jag te wys nie. “Sommige kinders, soos ek was, hou net bloot nie van jag nie. Leer die jong koring op die land eers die basiese beginsels van bewaring, voordat jag vir die pot gekweek word. Indien ‘n kind ‘n akkedis kan verniel, rippel diė geweld uit na mense,” maan Mike.

Sy toekenning as Internasionale Mediasensasie van die Bewaringsprojek vir Flaminke in 2019, is slegs ‘n gedeelte van Mike se lywige CV, ook as indrukwekkende dierebeskermer. Op sy plaas buite Pretoria spog hy met 10 verskillende voëlspesies. In sy kantoor skep die glasvissies wat met seekat se DNA ingekleur is, ‘n rustige atmosfeer waar hy besin en bepeins, mense kan help en self as mens bly groei. En vir ‘n wyle kan “vergeet” van die donker wêreld van te veel misdaadsindikate wat hy moet stormloop.

Hy vertel glimlaggend hoe die idee om die flaminke te red by die Kamfer-dam in Noord Kaapland posgevat het. Die flaminke daar het hom geïnspireer – hy het dit oordink terwyl hy gedraf het. In sy tuisomgewing is hy ook bekend as ‘n gereelde drawwer, of as die man gedurig op sy selfoon.

Die flaminkprojek het soos stroop gesypel, en die vrywilligers het ingestroom. Volgens Mike is dit een van die min projekte waarvan hy kan getuig dat Suid Afrikaners verteenwoordigend van die reënboognasie saamgestaan het.

“Wanneer mense die waarde van iets besef, sal die bewaring daarvan natuurlik daaruit vloei,” meen hy. Dis die natuurlike simbiotiese verhouding, of in Mike se woorde: Die munstuk se twee kante tussen die mensdom en diereryk. “Ons het mekaar nodig om te floreer.”

Sentimenteel mymer hy oor hoe diė wysheid by hom ingeplant is gedurende sy vormingsjare as plaaskind. Dit was ‘n omgewing ideaal om die Skepping se waarde vir voortbestaan te verstaan. Hy glo sy Boere-konserwatiewe grootwordjare is sy sukses se onderbou en is trots oor die ferm reëls, streng bedtye, ouderdomrespek en Sondagkerk wat deel van sy slypingsjare was.

Mike vertel ‘n staaltjie van ‘n familie wat met vakansie gegaan het, sonder om vir hul diere versorging te tref. Hy het ingetree en die gesin se hele groentetuin gestroop om hul watervoëls daarmee te voer. Hy het ‘n werker aangestel om na die diere te kyk en diė se loon van die eienaar met sy terugkoms verhaal. Deesdae hou swendelary met babahonde Mike druk besig.

By groetslag borrel sy passie as diereredder opnuut uit met diė vriendelike maar streng vermaning: “Indien jy ‘n dier mishandel, moet jy hoop ek kry jou nie, want dan is dit pakslaetyd! Indien ek jou sien ‘n renosterhoring sloop, sal ek jou doodmaak, en jy kan dit skryf!”

One Comment

  • Milydia Potgieter says:

    Dit was nou lekker om ń ander kant van Mike te leer ken. Dankie Nadia vir die insiggewende artikel.

Leave a Reply