Skip to main content

Dit gons oor duur ‘arm’-skoene

Dis ou nuus dat elke tydsgees vir eietydse modegiere sorg. Met die pandemiegrendels wat wêreldwyd al meer versag word, was dit net ‘n kwessie van tyd voor die modewêreld weer op alle silinders sou vuur. Die nuutste moet hê-item is peperduur en gehawende ontwerperskoene wat, wel, by werkloses afgeloer is, skryf Sonnette Lombaard.

Swaarder tydperke bestuif dikwels eietydse modes. Van oorlogkleure tot geskeurde jeans en nou gehawende ontwerperskoene wat eweneens by armes afgekyk is. Die lys van mode-items – klere, skoene en byeenkomstige – wat oor eeue deur ‘n spesifieke tydsgees, kuns en/of gebeurtenis geīnspireer is, is ellelang.

Die nuutste modegier wat op diė golf ry, het onlangs gedebuteer. In modemekka Parys waar Balenciaga sy nuwe Paris Sneaker skoenversameling bekendgestel het. Wat die oog gevang en tonge laat klap het, was die ulta-distressed limited edition stewels. Met eerste opslag het dit gelyk na net nog ‘n weergawe van die grensloosgewilde Coverse-tekkies, hoewel baie meer gehawend. Wel, dis die idee want dis inderdaad by werkloses afgeloer! Net sowat 100 pare van diė beperkte reeks is vir die publiek beskikbaar gestel teen ‘n allemintige $1,850 per paar!

Sedertdien gons sosiale media en modekringe hieroor. Dit sluit ‘n stroom negatiewe kritiek in – baie mense is ontstig met die welaf Spaanse modehuis se “minagting” van armoede en gebrek aan deernis met behoeftigheid. Hoewel die ontwerpersreus eers laag gelê het, het dit intussen gereageer. Volgens ‘n verklaring ondersteun die nuwe reeks gehawende skoene die gedagte “dat Paris Sneakers bedoel is om ‘n leeftyd lank gedra te word”.

Dis ook in lyn met Balenciaga se kreatiewe direkteur, Demna Gvasali, se taak as “kreatiewe aktivis”. Dit het gelei tot eietydse modereekse wat die boodskap “fuel capitalism by scorning capitalism” uitdra. In Maart het Balenciaga juis gebreekte iPhones ingespan as amptelik uitnodiging na Parys se Modeweek.

Die modetydskrif Muse berig ander bedrywe was gou op die wa om die nuwe giergolf bloots te ry. In Nederland was die Salvation Army blitsig uit die blokke en het saam met die kreatiewe agenskap Cloudfactory Amsterdam, gespan om sy eie versameling gehawende skoenreeks die lig te laat sien. Dit heet Truly Destroyed, waarvan Fleur’s truly destroyed heels jou $1,500 armer sal maak. Dit kom ook met ‘n paar prettige aanwysings soos “Af hak, bloedspatsels, merke, nie geskik vir loop nie”, ens.

Vir stapdoeleindes is daar ook net die regte paar, naamlik Sam’s truly destroyed winter boots. Waarvan die skoenmateriaal “gebrand is, die binneste ‘n klankie het en waarin jy altyd sal koud kry”, volgens gepaardgaande “instruksies”.

Soos Balenciaga is bogenoemde reeks ook ‘n beperkte uitgawe. Maar anders as Paris Sneaker s’n, heil dit rêrig uit armoedige kringe waar werkloosheid aan die orde van die dag is. Al die skoene in diė reeks het eens behoort aan werk- en huisloses wat dit vir jare gedra het. Meer outentiek kan jy nie kry nie, aldus Thamar Keuning, hoof van bemarking en kommunikasie by die Salvation Army.

Volgens hom het Nederland tans sowat 32 000 haweloses. Die organisasie samel al langer as ‘n honderd jaar ou klere en tekstiele vir herwinningsdoeleindes in. Dit word by tien afsetpunte regoor Nederland verkoop.

Keuning het ook ‘n hou gemik na die modewreld se “uitbuiting” van armoede. “Verstaanbaar draai die modebedryf om voorkoms en kreatiwiteit maar dit verloor soms sig en aansien, soos met die nuwe gier – vir die meeste mense is klere en skoene funksionele items en het dit dus die teenoorgestelde betekenis van wat die modebedryf nou verkondig.

“Die ontwerp van gehawende skoene, geskoei op arm mense s’n, belig letterlik en figuurlik die groot ongelykhede in die samelewing.”

Ook Cloudfactory het krities gekap na Balenciaga. Volgens bestuurshoof Sandeep Chawla ontstel die Spaanse reus se distopiese kommentaar met sy gehawende trappers. “As jy ons s’n koop wat rêrig gehawend is en nie so ontwerp nie, weet jy minstens elke sent daarvan gaan na die Salvation Army se strewe om behoeftige mense in nood te help.

Kreatiewe direkteur César Garc stem: “Die uitgelewerdheid van haweloses is nie trendy of ‘n modegier en ook nie nuuswaardig nie. Vir hulle is dit ‘n nare feit en hardse realiteit.

“Toe ons dus Balenciaga se nuwe duur, ‘gehawende’ skoenreeks sien, het ons dit as ideale kans aangegryp om hierdie kerngesprek te kaap en met ‘n moeitewerd-boodskap met ons soortgelyke reeks te vervang.”

One Comment

  • Nadia says:

    Hierdie artikel voel vir my soos ‘n goeie Oscar film. Wanneer die storie kragtig is, asook maklike taal gebruik en mooi sinsnedes. Die leser kry die ervaring van ‘n Titanic film, wat nie net aanskoulike visuele stimulasie ontvang nie, maar ook die strelende musiek wat daarby pas.

    Dit verryk jou lewe, want ewe skielik kyk ek nie meer na my gunsteling uitgetrapte, aanmekaar gegom Prinses-“Warrior” bootse as ‘n teiken van spottery nie, nee nou dra ek dit met trots. Ek volg nou Europese-modes!

    Dankie vir Die Waarheid wat ligte vermaak ook aanbied! Modes is mos altyd aangenaam om van meer te leer.

    Ek geniet ook immers die dieper boodskap wat hierin verskuil: “fuel capitalism by scorning capitalism” – verseker ‘n universele probleem wat byna strategies ge-addresseer word!

Leave a Reply