Skip to main content

Yolanda Lemmer

Lucifer en al sy trawante is nou behoorlik losgelaat in die Suid-Afrikaanse Satanistiese Kerk (SASC) nadat ’n voormalige prediker en lid vroeër vanoggend gesê het dat Riaan Swiegelaar se bekering tot die Christelike geloof ‘n terugslag is vir en ongelooflike skokgolwe stuur deur Satanisme-kringe (en ander nie-Christen minderhede) in Suid-Afrika.

Tristán Kapp (25), ’n doktorale kandidaat in teologie en navorsingsvennoot aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies), het in 2020 lid van die Satanistiese kerk geword, maar het weens “onversoenbare verskille” nie meer bande met die omstrede kerk nie. Nogtans het hy steeds die grootste respek vir Swiegelaar.

“Ek het na sy biegvideo op Facebook gekyk en sy bekering was ’n reuse-verrassing. Ek moet sê ek het hom nog nooit so eerlik en emosioneel oor iets hoor praat nie – selfs nie eers oor Satanisme nie.”

Dit volg nadat Swiegelaar, medestigter van die SASC, in ’n regstreekse video-uitsending op Facebook gesê het dat hy tot bekering gekom het en dat “die man met die horings” nie meer deel van sy lewe is nie.

Sedert Kapp alle bande met die kerk oor onversoenbare verskille verbreek het, het die “raad” hom op alle sosiale media-platforms geblok en wou hom ook muilband om nie oor “kerklike” aangeleenthede uit te praat nie.

“Ek en Riaan het ander idees gehad oor waarheen die Satanistiese kerk oppad is. Ek wou hê die kerk moes deelneem aan intergelowige gesprekke. Riaan wou die kerk eksklusief hou. Hy het ook skoktaktieke gebruik om die kerk in die media te hou.”

Volgens Kapp het Swiegelaar byvoorbeeld “verkondig dat hoëprofiel-aanbidders deel is van die kerk en dit is waarom die publiek nie toegelaat is om enige dienste by te woon nie. Dit is die grootste bullsh*t. Daar was nie hoëprofiel-aanbidders nie. Trouens, die kerk het net vier lidmate gehad toe ek dit verlaat het.”

Kapp sê ook dat Satanisme niks met rituele te doen het nie. “Riaan beweer dat hy besig was om ’n ritueel uit te voer toe Jesus voor hom verskyn het. Ek beskou myself as ’n ‘vriendelike Satanis’ en het nog nooit ’n ritueel uitgevoer om na die volgende duiwelse vlak te beweeg nie.”

Kapp ontken ook Swiegelaar se stelling dat Sataniste gebroke mense is.“Ons kan ook heel wees (wat dit ookal mag beteken) en volwaardige mense bly, met geldige besware en skeptisme oor die bestaan van God, Satan en ander veelbesproke opperwesens of bonatuurlike kreature.“

Die Waarheid het ’n e-pos aan die SASC gestuur, maar die kerk het nog nie gereageer nie. Diė kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

One Comment

  • HUGO says:

    As die Bybel se Satan is n bedrieer en leuenaar, en het Jesus ons gewaarsku om versigtig te wees dat ons nie mislei word nie, sal ek maar skepties bly. “But, to give this man the benefit of the doubt” (soos die Engelsman se) sal ek nie oordeel nie, maar liewer net wag om te sien hoe die vrug van die boom lyk.
    n Slegte boom kan immers nie goeie vrugte dra nie.

Leave a Reply