Skip to main content

 

Yolanda Lemmer

Hy was besig met ’n ritueel om na ’n hoër fase in die duiwelse hiërargie te beweeg toe Jesus in sy onvoorwaardelike glorie voor hom verskyn het. Dít was Riaan Swiegelaar, medestigter van die Suid-Afrikaanse Satanistiese Kerk (SASC), se Damaskus-oomblik waar hy net soos die Bybelse Paulus ’n openbaring oor God se liefde en genade gehad het.

Swiegelaar het reeds op 30 Mei vanjaar uit sy pos as voorsittende dominee by dié omstrede kerk bedank en uit die kerkraad getree, asook sy lidmaatskap by die organisasie ontbind. “Ek was dáárdie dag op soek na duiwelse openbarings; op soek na nog meer. Ek het opgekyk en daar het Jesus gestaan. Ek was arrogant en het beveel dat hy aan my moet bewys dat hy wel Jesus is. Ek is skielik toegevou met die mooiste energie en liefde. Dit was liefde wat ek gevoel het, onvoorwaardelike liefde,” het hy gister in ’n emosionele regstreekse video-uitsending op Facebook gesê.

“Ek het in my hele lewe net vier Christene ontmoet wat werklik Jesus se liefde onvoorwaardelik uitgestraal het. Omdat ek soortgelyke emosies en liefde by hulle gevind het, het ek dadelik geweet dat dit Jesus was.”

Swiegelaar het in trane uitgebars en ook ’n fel aanval op Christene geloods wat hom “nog altyd net vooroordeel het”.

“Ek is gay en beskik ook oor sekere psigiese vermoëns. Christene het altyd vir my gesê ek gaan hel toe en dat ek na God moet soek, dat hy nie na my gaan soek nie,” het hy vertel terwyl hy aanhoudend aan die gebedekrale om sy nek gevat het.

In Mei het Swiegelaar sy laaste onderhoud as lid van die SASC op die CapeTalk-radiostasie gevoer, sonder om te weet dat dit sy laaste radio-onderhoud as ‘n Satanis sal wees.

Swiegelaar het in die onderhoud gesê dat hy nie glo dat Jesus Christus bestaan nie. ’n Vroulike werknemer van die radiospan het ná die onderhoud na hom toe gestap en hom omhels op ’n manier wat hy nog nooit voorheen omhels is nie.

‘n Week later het hy op WhatsApp gesien dat die vrou ‘n Christen is. “Ek het nooit ervaar dat ‘n Christen soveel liefde teenoor ‘n selferkende Satanis toon nie. En dit het my by gebly.”

Swiegelaar, ‘n voormalige pastorale terapeut by die Apostoliese Geloofsending Kerk, het hom sowat vyf jaar gelede tot die Satanistiese “filosofie” bekeer. “Ek het aanvanklik by Satanisme betrokke geraak omdat ek baie hartseer en gebroke was, sonder om dit te besef.

“Ek dink dat baie mense aanklank vind by Satanisme wanneer hulle van ‘n baie gebroke plek af kom.”

Swiegelaar het bygevoeg dat hy nie navrae van die media sal beantwoord nie, en dat die video sy getuienis is.

‘n Mediaverklaring van die SASC, wie se ledetal volgens Swiegelaar by die dag groei, lui: “Ons, as die SASC-raad, wil Swiegelaar bedank vir sy bydra, beide as dominee en medestigter van die SA Satanistiese Kerk. Ons wens hom sukses toe met al sy toekomstige pogings.”

Leave a Reply