Skip to main content

George April

‘n Omstrede en eksklusiewe Jeugdagviering in Velddrif het daartoe gelei dat die opposisieparty nou ‘n klag by die Openbare Beskermer gaan indien vir die misbruik van openbare fondse deur die DA-beheerde Bergrivier Munisipaliteit.

Hoewel die DA-burgemeester intussen teruggekabbel het, bly die opposisieparty ongelukkig. Raadslid Rhime Laubscher van die Patriotic Alliance het bevestig dat sy party in die komende week ‘n amptelike klag gaan indien oor die spandering van publieke fondse deur die DA-beheerde raad vir die vorige en die huidige 2021/2022 boekjare.

Die Waarheid Media het onlangs berig oor ‘n omstrede Jeugdagviering van die Bergrivier Munisipaliteit waarvoor jeugdiges moes aansoek doen om dit te kon bywoon. Laubscher het ‘n pos hieroor op Facebook geplaas, wat ondersteuners van die opposisieparty rooi laat sien het. Die pos en berig het ook tot ongelukkigheid onder DA-bestuurslede en -ondersteuners gelei.

Ray van Rooy, uitvoerende burgemeester van die Bergrivier Munisipaliteit, het intussen ‘n mediaverklaring uitgereik om die omgekeerde te probeer bewys. “Dit was ‘n Jeugdag-geleentheid soos geen ander wat tevore in die Bergrivier munisipale gebied gehou is nie.

“Dis moeilik om die elektriese atmosfeer binne die Velddrif-stadsaal op 16 Junie 2022 te beskryf, waar ‘n verskeidenheid talentvolle plaaslike en streek-kunstenaars die skare op hul voete gehou het met vermaak van hoogstaande gehalte.

“Sowat 300 jongmense het van al die verskillende dorpe binne die Bergrivier munisipale gebied gekom om gratis ‘n boeiende vertoning te geniet. Die viering is ook regstreeks op die munisipaliteit se amptelike Facebook-blad uitgesaai, vir oud en jonk om vanuit die gemak van hul huise mee te maak.”

Die seremoniemeester was Ashley Pienaar, wat saam met die talentvolle jong kunstenaars vir die die dag se vermaak gesorg het. Dit sluit in Gabriel & ‘Lil Emo’, Monk, TessE, DJ Stiney, Annie & ‘Ek is Annie Fortuin’, Adam-John & Lil Willy, Violynn Sauls en die Motivational Rappers Group.

”Ek kon persoonlik sien hoe opgewonde die jongmense was om deel te wees van ‘n groot jol. Hulle het saam met hulle gunsteling kunstenaars se liedjies gesing en daarop gedans en die plaaslike verhoogtalent geniet”, sê Van Rooy. En bygevoeg: “hoewel diè dag een was om alle jongmense te laat vier, moet die verskriklike gebeure wat tot hierdie openbare vakansiedag in Suid-Afrika gelei het, nie vergeet word nie”.

“Op 16 Junie 1976 het skoliere die strate van Soweto ingevaar om te protesteer teen ongeregtighede in die onderwysstelsel. Dit het landwye onrus ontketen. Hierdie betogings het gelei tot die dood van baie jong kinders, insluitend Hector Pieterson.”

Die verduideliking van Bergrivier se burgermeester het egter nie die opposisie-raadslede beïndruk nie.

“Dit was ‘n dag waaraan alle jeugdiges moes deel hê, en waartydens die boodskap van Jeugdag duidelik aan die jeug oorgedra moes word”, het Laubscher gesê.

“Jeugdag moet gebruik word om die jeug in te lig, oor wat die verlede vir die toekoms bewerkstellig het. Daar het baie jeugdiges gesterf sodat die jeug van vandag in vryheid ‘n bestaan kan maak.

”Om die Jeugdagvieringe as ‘n groot jol te beskryf, is ‘n klap in die gesig van die struggle. En om publieke fondse te gebruik om ‘n beperkte hoeveelheid jeugdiges op uitnodiging te vermaak, is totaal onaanvaarbaar.”

Leave a Reply