Skip to main content

Sonnette Lombaard

Lees die omgekrapte Nick Kyrgios dalk Die Waarheid? Skaars het ons Vrydag (Gaap, gaap, is tennis gekaap?) berig oor hedendaagse tennis wat dringend die kleurryke raketkarakters van ouds kort, of die Aussie-tennisster maak moles op Wimbledon.

Kyrgios het Saterdag in sy wedstryd in die derde ronde by die gesogte All England Lawn Tennis and Croquet Club die vierde gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland in ‘n spannende wedstryd oor vyf spelle uitgeskakel. Die twee se vuuwarm-aksie het vir die mees opwindende tennis by vanjaar se toernooi gesorg. Wimbledon met sy groen grasbane is die jaarlikse vertoonvenster van tennis se sirkus wat deur die jaar regoor die Aardbol rondtrek.

Bekend vir sy mededingendheid op die baan, het Kyrgios tydens die intense tweestryd erge uitbarstings beleef voor hy homself onder beheer kon bring en sy teenstander se Wimbledon-drome beeīndig het. Teen die begin van die deurslaggewende derde stel het Kyrgios se emosies begin oorkook. Tsitsipas, gefrustreerd nadat hy die tweede kernstel verloor het, het toe met ‘n rughandhou die bal in die skare gemoker. Só aksie is strafbaar met ‘n dissiplinêre oortreding.

Skeidsregter Damien Dumusois se versuim om op te tree, het Kyrgios luidkeels laat beswaar maak. “Jy kan nie die bal tussen die skare inmoker en iemand tref en dan niė gestraf word nie, het ‘n verontwaardige Kyrgios ten aanskoue van die toeskouers vir Dumusois toegesnou. Hy het versoek om ‘n toesighouer summier te sien.

Kyrgios het voortgestoom en Dumusois hoorbaar verder uitgekryt: Jy is ‘n skande vir tennis.” Hy het al vroeër by vanjaar se toernooi ‘n oortredingkaart vir sy gevloekery gekry en is met $10 000 beboet nadat hy op ‘n oorywerige toeskouer gespoeg het. Die woedende Ozzer het gedreig dat hy nie die saak daar gaan laat nie en ‘n groot bohaai sal opskop.

In Die Waarheid se ‘n agtergrondartikel word die versugting uitgespreek dat tennis ‘n nuwe geslag spelers met kleurryke kishoue kort. Soos van ouds toe topspelers se manewales op ėn van die baan jonk en oud vasgenael bekoor het. Tydens diė glorieryke tennistye vanaf die laat 1960s tot met die draai van die eeu het tennis se deurlopende dramas aanhangers wêreldwyd vasgegom gehou met konstante aksie op en weg van die baan. Topspelers se titaniese tweedstryde en persoonlike kaskenades is opgeslurp en het tennis interessant en lewendig gehou. Boonop was dit veral die topspelers wat ook die voorkoor-stoutseuns was. Soos Jimmy Connors, John McEnroe, Andrė Agassi en Boris Becker wie se wilde temperamente en streke goed afgewissel is met die sjarmante spel en gedrag van Arthur Ashe, Bjorn Borg en Ivan Lendl. Daarteenoor speel vandag se besadiger spelers meer, eenvormige en tegniese korrekte tennis, wat dikwels verbeeldinglose en selfs vervelige stryde oplewer. Roger Federer het weliswaar sportmanskap tot nuwe hoogtes gevoer, maar die kleurryke raketswaaiers ontbreek wat eens die kruitvat was om tennisvure durend hoog te laat brand.

Kyrgios se gereelde uitbarstings op die baan, insluitende swetsery op skeidregters en toeskouers, stoelgooiery en raketverwoesting, haal hom gereeld boetes op die hals. Hoop flikker dus tog dat kleurryke tenniskarakters toe niė ‘n bedreigde spesie is nie en dat ‘n nuwe geslag astrante en pikante raketswaaiers saam met Kyrgios na vore sal tree.

Leave a Reply