Ruby B – Lied in My
Ruby B, ’n hoogstalentvolle sangeres en prediker van die Wes-Kaap, het vandeesmaand haar toetrede tot die Afrikaanse gospelmusiekbedryf gemaak met die uitreiking van haar debuutenkelsnit Daar’s ’n lied in my.
Dié titel van die enkelsnit is net so kragtig soos haar stem wat ewe suiwer en sterk is soos ’n volmaanaand op een van die Wes-Kaap se beeldskone, ongerepte strande.
Hoewel Daar’s ’n lied in my haar eerste kommersiële snit is, is Ruby nie ’n onbekende stem in die kerklike kringe nie. Sy tree gereeld by vrouedag-byeenkomste en kerkkonferensies op en is ook ’n lid van haar kerk se lof- en aanbiddingspan.
Sy vertel dat sy 25 jaar gelede haar eerste liedjie geskryf het en toe later begin het om nuwe liedjies as enkelsnitte uit te reik, hoewel die liedjies grotendeels beperk was tot predikingbegeleidings. Dis onder die handelsmerk van Revived Music Ministry uitgereik en versprei.
Maar Ruby B beskou haarself nie net as ’n gospelsangeres nie en het haar stem nooit tot net een genre beperk nie. Sy het al ook verskeie country-liedjies geskryf en gesing.
“Ek het nie beplan dat my eerste kommersiële snit ’n gospelliedjie moes wees nie. Daar’s ’n lied in my hart is iewers, diep in my siel gebore. Ek het geweet dat ek die liedjie graag vir die Here sou wou sing.”
Die liedjie wat ’n mengelmoes van Afrikaanse klanke en tradisionele Xhosa-gospel is, het uit haar eie pen verskyn. “Ek glo dat al my gospelliedjies deur die Heilige Gees geïnspireer word. Dit is die wonderlikste gevoel wanneer musiek en liriek net een word,” vertel sy. En voeg by: “Die grootste uitdaging is om die liedjies se woorde te leer.”
Daar’s ’n lied in my is ligweg gegrond op Psalm 150:5 en verkondig die boodskap dat “alles en almal wat asem haal, die Here kan prys en loof.” Sy glo dat selfs die diere hulde aan die Here bring. “Die liedjie het nie regtig ’n dieper betekenis nie en is ook nie ’n metafoor vir geloof nie. Ons moet egter net elke dag herinner word aan die feit dat ons gebore is om lof en prys aan die Here te bring, al gaan ons soms deur moeilike tye.”
Voorts het sy die stem van Athi, ’n bekende Xhosa-sanger in die lofsang- en aanbiddingskringe, ingespan om die Xhosa-gedeeltes te sing. “In die Wes-Kaap praat en verstaan baie mense Afrikaans en Xhosa. Ek wou beide kultuur- en taalgroepe met die liedjie bereik en ek glo en hoop die vermenging van die tradisionele Afrikaanse en Xhosa-klanke kan mense verenig.”
“Die Afrikaanse gedeelte is in Xhosa vertaal – dis is dus eintlik net ’n herhaling van die Afrikaanse lirieke.”
Sy verklap dat Jim Reeves haar musikale inspirasie is. “Sy musiek dra die Here se boodskap met soveel eerlikheid en opregtheid oor. Hy hou sy musiek eenvoudig en daarom raak dit ook mense se harte.”
Ruby B het ’n baie interessante lewensreis gehad; sy was vir ’n dekade ’n lugwaardin. “Ek dink nie my reise het ooit regtig ’n invloed op my musiek gehad nie. Jou huis is maar waar jou hart is. Suid-Afrika het so baie kulture en daarmee saam ook klanke. Ons land se musiek is baie uniek, want dit is ’n kombinasie van verskillende kleure, ritmes en genres.”
Ruby skop die winter met ’n hoogtepunt af en Daar’s ’n lied in my is een van dáái liedjies wat ons bitter nodig het – ons moet sing en juig en soos Filippense sê vergeet van al die seer en pyn wat aan die verlede behoort en uit strek na wat voorlê.