Isaac Cloete
Senior burgers moes vandeesweek met ‘n skok uitvind dat hulle geliefde OTM op Garies nie ‘n kopersent aan hulle kon uitbetaal nie.
Die pensioentrekkers is die SASSA-kaarthouers in die Kamiesberg munisipale gebied met Garies as hoofsentrum. Toe hulle Maandag by die Garies Spar opdaag om oudergewoonte hulle SASSA-geld te onttrek, was die bankmasjien oopgemaak en buite werking. Vele staatspensioentrekkers moes toe ander planne maak om kontant te kan kry.
Hulle was almal onkant gevang omdat die slegte nuus dat die OTM buite werking is, nie almal betyds bereik het nie, is aan Die Waarheid Media vertel.
Serena Cloete, eienaar van die Garies Spar, vertel dat lede van Fidelity Sekuriteit al Vrydag
die OTM van EasyPay oopgemaak en al die geld uitgehaal het. Hulle het dit net so oop gelos.
Laasgenoemde huur ook ‘n kantoor by haar onderneming.
Sy vertel verder: “Pensionarisse van ongeveer 15 dorpies rondom Garies kom trek hulle maandelikse geld hier. Ek het al baie keer probeer om vir André Goodheart, hoof van EasyPay, te kontak oor die aangeleentheid. Sy foon was pal af.”
Baie ouer mense kom van die verskillende dorpies rondom Garies en moet ten duurste betaal vir
vervoer om daar geld te kan trek. Dis hier waar hulle dan ook inkopies en ander besigheid doen.
Wat die dilemma vererger, is dat baie van die senior burgers nou na Springbok sal moet reis om nuwe kaarte te laat maak. ‘n Private voertuig daarheen kan tot R1200 kos.
Petro Willemse, ‘n inwoner van die gebied, bevestig dat Maandag ‘n droewige en hartseerdag was toe baie mense in yskoue weer voor die leë OTM moes staan. “Hoe haal iemand geld uit die masjien net voor SASSA se betaaldag? Ons soek dringend antwoorde, want dis onaanvaarbaar hoe ons ons arm mense behandel.”
Daar is intussen verneem dat die OTM binnekort weer in werking gestel gaan word, aldus
‘n werker van EasyPay. Hy wil anoniem bly. “Blykbaar is die sekuriteit na ‘n verkeerde gebied gestuur om die OTM toe te maak. Dit moes nie die een op Garies wees nie. Die sekuriteit het dus die verkeerde OTM gaan toemaak, maar sal die fout regstel.”
Terwyl die algemene publiek baie dankbaar is oor die nuus, is ander meer skepties. Serena noem verder: “Ek het ‘n baie goeie verhouding met my kliënte opgebou. Ek help hulle waar ek kan, want dis ons mense. Vir hulle is die OTM in my onderneming baie gerieflik en toeganklik. Hulle
kan vreedsaam hier sit, hulle geldjies tel en hulle begrotings uitwerk.”
Goodheart van EasyPay kon nie vir kommentaar bereik word nie. Sy selfoon was af.
* Teen druktyd was die OTM steeds oop en sonder geld, het raad-op inwoners laat weet.
Dit is skokend dat Easypay so min voel vir Sassa pensioenarise.