George April
Kort nadat Die Waarheid Media laas week navraag gedoen het oor klagtes van erge verwaarlosing by ‘n rugbyklub in Hopefield, het die wiele skielik begin rol.
Nadat die klagtes van die klub se bestuur aan die DA-beheerde Saldanhabaai munisipaliteit (SBM) in Vredenburg gerig is, is die klub dadelik gekontak. Dit het egter die teenoorgestelde reaksie ontlok, met Jacky September, sekretaris van die rugbyklub, wat so ontsteld reageer het: “Dis duidelik dat hulle ons nie ernstig opneem nie, want nou skielik kontak hulle ons omdat die media betrokke geraak het.”
Bestuurslede van die Hopefield Rugbyklub het Dinsdagaand Die Waarheid Media genooi om te kom kyk in watter gemors die kleedkamers by die klub is. Met die 2de ronde plaaslike rugbywedstryde wat op 23 Julie begin, is daar duidelik tans geen ordentlike en aanvaarbare geriewe vir sportkodes nie. Daar is byvoorbeeld geen toilet, wasbakke en krane wat heel is, of bedrading in mure wat werk nie.
Die Waarheid Media is in besit van verskeie WhatsApp-boodskappe en eposse wat September aan die onderbugemeester, Charmaine Laubscher, gestuur het. Volgens hom het sy nie een keer daarop reageer nie, daarom wend die bestuur hulle in nood na die media.
“Met alle respek, hoekom moet ons die saak opvolg? Hoekom bel hulle my nie en gee vir my die terugvoer nie?
“Ek is van mening dat dit deel van hulle verantwoordelikheid is om hul ‘betalende kliënte’ te kontak. Ons het op 29 Maart vergader en ons klagtes op skrif aan ons plaaslike DA-raadslid, Miranda Schrader, oorhandig . Ons het die afgelope week weer met haar vergader, en dis ‘n skande dat ons steeds al die opvolgingwerk moet doen.
“Hulle kan net ‘n foon kies en dan met ons praat, maar ons word van pilaar tot posbus gestoot.” Dit is hul eiendom en dus hulle verantwoordelikheid om eienaarskap na behore te kom.”
Volgens September het hulle oor die laaste drie maande die saak indringender onder die owerheid se aandag gebring en word groter aanspreeklikheid van die munisipaliteit verwag.
September het verder so stoom afgeblaas: “As ons antwoorde van die raadslid soek, trek sy haar skouers op, maar nadat ons Die Waarheid gekontak het, is hulle skielik in sig; dis mos nie reg nie?”
“Ek glo hulle dink ons is sagte teikens in ons dorp, en dat ons nie ons tot desperate maatreëls hoef te wend om ‘n reaksie te kry nie. Ons is respekvolle en wetsgehoorsame burgers maar ons word soos tweedeklas-burgers behandel. Wat dink die mense van ons?”
Die Waarheid Media het Woensdagoggend die burgemeesterskantoor in Vredenburg besoek, en onder andere die klagtes van die rugbyklub met die burgemeester se persoonlike assistent bespreek. Minder as ‘n halfuur na hierdie besoek, is September ingelig dat munisipale werkers oppad is om die probleme aan te spreek.
Daar is foto’s geneem en opmetings gedoen, en Donderdagoggend is die media ingelig dat nog munisipale werkers die veld besoek en dieselfde strategie gevolg het.