Skip to main content

Karakters met kleurryke kishoue gemis

Met Wimbledon op volspoed, zoem miljoene sportliefhebbers in op tennis se heilige groen gras. Na grendeltyd is almal uitgehonger vir aksie en intrige, iets waarvan tennis eens ruimskoots kon opgedis. Die tafel is immers vroeg vanjaar gedek met Novak wat Doer Onder moles gaan maak het. Gevolg deur Boris se vergrype wat geboemerang het en hom tjoekie toe sou stuur en ons eie Kevin wat sy rakette bere. Skielik wil die tenniswêreld weer brand. Amper soos van ouds toe topspelers se manewales op en van die baan jonk en oud vasgenael bekoor het. Sonnette Lombaard onthou die glorieryke tennistye.

Niks spel tennis so kishou-korrek as Wimbledon nie. En met die hoogtepunt op die tenniskalender in volle swang, is aanhangers reggeskuif vir groot sportaksie! Wimbledon is die derde van vier Grand Slam-toernooie wat tennis definieer. Dit skop af met die Australiese Ope, koers dan na die Franse Ope op Roland Garros, gevolg deur Wimbledon en eindig met die Amerikaanse Ope op Flushing Meadows. Wimbledon is die oudste en het in 1877 gedebuteer. Oor 145 jaar het die grasbaantoernooi in die Britse hoofstad om meer as tennis bekend geraak. Aarbeie en room is ‘n tradisionele instelling daartydens en die koninklike losie langs die hoofbaan vir bloubloedgaste en BBPs trek eweveel aandag as die sportaksie. Hoewel die skouspel in die Engelse hoogsomer afspeel, is Wimbledon vir Suid-Afrikaners sinoniem met winterwenners.

Dis ‘n warm wenner, wat eens vir niks prysgegee sou word nie want so paar dekades gelede het tennis se deurlopende dramas aanhangers wêreldwyd vasgenael gehou met konstante aksie op en van die baan. Dit was voor vandag se meer, eenvormige en tegniese korrekte tennis met besadiger spelers wat dikwels verbeeldinglose en selfs vervelige tennis opdis. Die spesmaas is dat die kruitvat ontbreek wat destyds die tennisvure durend laat brand het. Waar is die dae van genoeg kleurryke raketswaaiers, veral ook onder die topspelers, wie se kaskenades die gewilde sportsoort tot ongekende hoogtes sou voer? Op die baan was onvergeetlike tennis opgedis met topspelers wie se wilde temperamente vir bykomende “pret” tydens titaniese stryde gesorg het. Dit het miljoene kleinkassiekykers vasgegom en is ingegrein in ‘n hele geslag of twee Suid-Afrikaners se grootwordjare.

Tennis se goue tydperk het vanaf die 1960s spoed opgetel en sou teen die 1970s tot met die draai van die eeu hoogty vier. Miljoene sportaanhangers het elke kriesel daarvan behaaglik opgeslurp en intens meegeleef. Die glorietydperk het gewentel om ‘n kader kleurryke karakters wat die kollig geannekseer het. Insluitende hul private doene en lates. Die middelpunt hiervan was die aan/af-sprokiesromanse tussen die wreld se beste mans- en vroulike speler. Wat ook in ons agterplaas uitgespeel het toe Jimmy Connors en Chris Evert in die middel 1970s hier kom verloofsteen soek het. Connors was die mededingende bad boy van manstennis en Evert die stylvolle kampioen met kort rokkies en onberispelike baanmaniere: in kort, tennis se liefling. Almal het asem opgehou vir The Lovebird Double. Ons inheemse knewel-diamant kon egter nie keer dat hulle toe niė die kanselpaadjie sou bereik nie. Connors het Evert gou vervang met ‘n eertydse Mej. Wêreld Marjorie Wallace maar dit het ook gesink. Daarna het Connors, wat langer as 20 jaar gespeel het, bedaar en is sedert 1979 met die Playboy-model Patti McGuire getroud. Hulle het twee kinders.  Daarteenoor bly Evert ongelukkig in liefde na mislukte huwelike met die Britse tennisspeler John Lloyd waartydens sy ‘n affair gehad het, die Olimpiese skiër Andy Mill saam met wie sy drie seuns het, en die Australiese gholflegende Greg Norman van wie sy na net 15 maande geskei is.

Die langhaar Roemeen Ille Nastase was tennis se eerste stoutseun, wyl die ewe omgekrapte John McEnroe by Connors sou oorneem. Die vurige rooikop New Yorker was soos sportgrotes Shane Warne en Naas Botha “gehaat” en geliefd tegelyketyd. Hy het gelyk soos ‘n skoolseun wat sy kosblikkie tuis vergeet het en dus gereeld sy speelgoed op die baan wou uitgooi. Hierdie omgesukkelde tennistydgenote het die era ingelui van topspelers wat nie geweifel het om skeidsregsters rof en grof gas te gee nie. Later sou Andre Agassi volg met die Duitse rooikop-brat Boris Becker op sy hakke. Becker se wilde liefdeslewe het ook gereeld hoofopskrifte gehaal. Ditto sy uitspattige leestyl om sy prysgeldmiljoene te verkwis wat tot bankrotskap sou lei. Hy is vanjaar skuldig bevind aan belastingontduiking en tronk toe gestuur.

McEnroe was met die Oscar-bekroonde aktrise Tatum O’ Neal getroud, wie met dwelms sou vasval. Hulle is geskei met McEnroe wat toesig oor hul drie kinders gekry het. Hy is sedert 1997 met die rocksangeres Patty Smith getroud by wie hy twee dogters het. McEnroe kan self die kitaarsnare behendig tokkel. Ditto die Sweedse speler Mats Wilander. Die aansienlike Sweed het in 1987, toe naasbeste in die wêreld, in Durban met die Suid-Afrikaanse donkerkop-model Sonya Mulholland afgehaak. Hul huwelik het later stormwaters oorleef nadat sy affair op die lappe gekom het. Die aantreklike egpaar maak vier kinders in die VSA groot.

Die frisgeboude Argentyn Guillermo Vilas se vurige romanse met prinses Caroline van Monaco was eweneens glansgons. Dit sou vou.Tussen al diė wilde lote het die Sweed Björn Borg kommerkoel die rekordboeke herskryf met sy heerskappy op die baan vanaf die middel 1970s, wat vyf Wimbledon-seges agtereenvolgens insluit. As Abba Sweedse popmusiek op die kaart gesit het, het Borg dit vir sport in sy vaderland gedoen. Wilander en later Stefan Edberg sou oorvat om die Sweedse vlag in die tennisarena hoog te hou.

En voor The Fed het tennis reeds jintelmanne gehad. Arthur Ashe was nie net die eerste en enigste swart man wat op Wimbledon en in die Australiese en Amerikaanse Ope kon seevier nie, maar wyd geliefd vir sy sportmangees en hoflikheid. Hy het ons apartheidstelsel veroordeel maar nogtans hier kom speel en ons spelers gesteun. Hy het na sy uittrede tydens ‘n hartvatomleidingsoperasie Vigs opgedoen wat tot sy sterfte in 1993 sou lei.

In die destyse tennis mix wat vir soveel opwinding gesorg het, was ook ‘n “stugge’ maar skitterende speler van agter die Ystergordyn. Die uitdrukkinglose Ivan Lendl was van die toe nog Kommunisties-beheerde Tsjeggo-Slowakye en lank nr. 1 op die wereldranglys. Hy het later Amerikaanse burgerskap aanvaar.

Hoewel manstennis hoogs mededingend bly, was dit in oploop na die 21ste eeu al manker aan ware karakters. ‘n Insinking aan tennisvermaak met meer oemf as net sportvernuf het ingesypel. Topspelers is nou soetseuns wat korrek-briljante en te veel voorspelbare tennis uitrol. Soos Pete Sampras, wyl die gemanierde Roger Federer sportheerskap tot nuwe hoogtes voer. Hy krediteer hoeka sy Afrikaanse ma Lynette van Kemptonpark vir sy netjiese menswees. Federer se spogprestasies speel af binne ‘n titaniese triostryd met die ewe bedaarde Spanjaard Rafael Nadel. Al topspeler wat nou moles maak, is Novak Djokovic. Die uitgesproke Serbiër is vroeg vanjaar deur Australië uitgeskop nadat hy gelieg het oor sy Covid-status. Inmiddels het ons eie Kevin Anderson onlangs uitgetree. Die lenige speler was ewe bekend vir sy nederige maniere. Hy was die eerste Suid-Afrikaner sedert Kevin Curren om die top 5-lys van manlike spelers te haal.

Die detydse topmans se prestasies het ook deure vir vrouetennis in hul tuislande geopen. Evas was deel van die glorietydperk in tennis met g’n gebrek gehad aan warm tweestryde en ander manewales nie. Lendl het ‘n era van topspelers uit die ou Tsjeggo-Slowakye ingelui waarvan die bekendste Martina Navratilova en later Martina Hingis, wat albei die nr. 1 posisie sou beklee. Hingis, ‘n Sloweense boorling, het vir Switserland gespeel. Navratilova se tweestryde met Evert om die topposissie het weergalose tennis gelewer. Die sterk Tsjeg het ook die seksuele rewolusie in vrouetennis gelei toe sy een van die eerste lesbiërs was om uit die kas te klim. Sy is getroud met ‘n voormalige Mej. Rusland Julia Lemigova.

Te midde van vroue se opkoms in tennis het ‘n man tennis help verfraai. Die Engelse ontwerper Teddy Tinling se kort rokkies en sjoebroekies vir vroue het tennisbane reg deur die 20ste eeu versier. Diė eerstyde oorlogspioen, self ‘n speler en skeidsregter, het al die top-evas op die baan geklee en ook baie se trourokke ontwerp.

Destyds was ook die begin van tennis se wunderkids, gelei deur veral vroulike topspelers soos die Yanks Tracy Austin, Jennifer Capriati en Andrea Jaeger. Nog vele nat-agter-die ore evas sou daarna die raket met mening swaai. Jaeger was naasbeste in die wêreld toe haar loopbaan deur beserings kortgeknip is. Sy het toe non geword en wy haar lewe aan liefdagigheid en filantropie.

Steffi Graff was nog ‘n langbeen-jongeling wat tennis omgedop het. Die millennium se Chrissie Evert, het diė koelkop Duitser nie net onder rekords gemaai nie, maar ‘n liefdeskishou geslaan toe sy en Andre Agassi, wat van aktrise Brooke Shields geskei was, ’n romanse begin het. Hulle is in 2001 getroud en woon saam met hul twee kinders in Agassi se tuisstad Las Vegas.

Lank voor die skone Russiese blondines Anna Kournikova en Maria Sharapova toptennis aanloklik gemaak het, het ‘n smeulende donkerkop Argentyn fotograwe se lense betower. Hoogs mededingend, het Gabriela Sabatini na haar uittrede ‘n reeks parfume ewe suksesvol geloods en is ‘n roos na haar vernoem. Teen die 1990s sou ons eie blonde buksie van Hoopstad, Amanda Coetzer, om dieselfde redes aandag trek. Coetzer, bekend as “The Little Assassin”, het tot by nr.3 op die ranglys gevorder. In 2007 trou sy met die stinkryk Hollywood-magnaat en Joodse spioen Arnon Milchan. Hulle het twee kinders.

Net voor die draai van die eeu is vrouetennis vir goed op die kop gekeer met die toetrede van die kragsusters Williams uit Yankland. Venus en veral Serena, beskou as die beste evaspeler nog, het nie net rekordboeke herskryf nie maar die spel in nuwe rigtings gestuur. Will Smith het vanjaar ‘n Oscar gewen vir sy spel as hul afrigterpa in die fliek King Richard.

Deel van veranderde tye en van die breër vermaakarena, moet tennis bly groei. Tog is dit verblydend dat genoeg vroulike spelers steeds hul vroulikheid op die baan vier. Soos die blonde Belg Kim Clijsters, eens die wêreld se beste enkel- en dubbelspelspeler, opmerk: “You don’t have to hate your opponents to beat them.” Die hoop beskaam ook nie dat raketkarakters g’n bedreigde spesie is nie.

 

 

 

2 Comments

  • Rika de Clercq says:

    Die artikel oor die tennis is so mooi geskryf. Regtig lekker leesstof. Nie net omdat ekself tennis love nie, maar die manier. Ai dit was nou lekker.

  • Stefan says:

    Wat ‘n genotbare, kleurryke en kreatiewe artikel wat mens herinner aan die moontlikhede wat in die Afrikaanse taal le. Ek het lanklaas ‘n artikel in Afrikaans so geniet – absoluut briljant.

Leave a Reply to Stefan Cancel Reply