George April
Die uurglas is besig om uit te loop vir ‘n tiener skopbokskampioen van die Weskus wat poog om betyds genoeg geld bymekaar te maak om haar staal teen die wêreld se bestes te gaan toets.
Die 17-jarige Skeigh-Lee Jenecker, ‘n graad 12-leerling aan die Hoërskool Vredenburg, is by die SA Skopbokstoernooi in Mei in Mosselbaai as kampioen in haar afdeling gekroon. Sy het benewens goud, ook silwer gewen en is daarna in die Suid-Afrikaanse span opgeneem. Die span sal aan die Junior Wêreld Skopboks Kampioenskappe van 30 September tot 9 Oktober in Venesië, Italië deelneem.
Daarmee het Skeigh-Lee se groot droom in visier gekom om vir die wêreld ons plaaslike skopbokstalent te gaan wys. Sy sit egter met haar hande in haar hare – haar ma is tans werkloos en slegs publieke donasies kan nou help om haar later vanjaar na die toernooi te stuur.
“Dit is vir my ‘n eer om die geleentheid te hê om Suid-Afrika op so ‘n groot internasionale platform te gaan verteenwoordig”, het Skeigh-Lee gesê.
Haar droom kan egter nou skipbreuk lei, indien sy nie baie vinnig geldelike ondersteuning kry nie. Volgens ma Natasha moet haar verblyf oorsee teen 10 Julie 2022 betaal wees. “Geld wat ek ongelukkig nie het nie,” het sy bygevoeg.
“Ek het briewe aan verskeie besighede, en selfs radiostasies gestuur, sonder enige reaksie. Dalk help ‘n radio-onderhoud, want daar buite is tog iemand wat omgee, maar niemand het nog op ons nood reageer nie, en ek weet nie meer wat om te doen nie”.
Die Waarheid Media het vir hulp by Radio Weskus aangeklop. Die plaaslike streekradio se omroeper, John Cloete, is gevra of hy nie kan help met ‘n onderhoud nie. Cloete het soos ander radiostasies se bestuurders geswyg.
Indien Suid Afrikaners nie hierdie jong sportkampioen gaan ondersteun en hul beursies oopmaak nie, sal Skeigh-Lee se droom net dit bly, wat baie hartseer is.