Eskom gaan steeds swaar gebuk onder werknemers se onwettige staking en het vanoggend bekend gemaak dat fase 4-beurtkrag vanaf 16:00 tot middernag sal geld.
Daarna sal fase 2-beurtkrag vanaf middernag tot Vrydagoggend 05:00 inskop.
“Terwyl sommige werkers vir diens by die kragstasies begin aanmeld het, is daar steeds ‘n hoë vlak van afwesigheid. As gevolg van die onwettige staking moes roetine-instandhoudingswerk uitgestel word. Hierdie agterstand sal dae tot weke neem om uit te wis,” lui ‘n verklaring van Eskom.
Weens die onwettige en onbeskermde arbeidsoptrede, wat wydverspreide ontwrigting van Eskom se kragsentrales veroorsaak het, is Eskom nie in staat om sommige kragopwekkers weer in gebruik te neem nie, het die kragvoorsiener bygevoeg.