Skip to main content

Isaac Cloete

Vele ouers is die josie in vir die swak sportreëlings van ‘n staatsdepartement.

Die ouers se kinders was Donderdagoggend uit Springbok op pad na Kimberley. Hier sou hulle aan verskeie winterkodes soos tennis, skaak, jukskei en netbal gaan deelneem.

Dit was ‘n toernooi gereël deur die  Noord-Kaapse departement van sport kuns en kultuur (DSKK).

Toe hulle die aand, na 800km, hier opdaag moes hulle verneem dat niemand akkommodasie vir hulle gereël het nie. Die sowat 160 leeders moes toe die aand in die bitter koue in die drie busse slaap, wat hulle vervoer het, volgens woedende ouers.

Jualiza Van Wyk(ouer) van Concordia het gesê:

“Die kinders was vrek van die hongerte. Baie het nie eens sakgeld gehad nie.Ook nie komberse nie, want die organiseerders het vooraf laat weet dat dit(komberse) nie nodig sou wees nie.”

Volgens die voorsitter van die EFF in Kimberley, Vusi Raphoto, was die leerders en busse by

‘n kafee, langs die Horsehoe motel, opgemerk. Toe hy hulle storie hoor het hy gehelp om akkommodasie, wi fi toegang,ens, te help reël.

“Ek het selfs n boodskap aan die premier, Zamani Saul gerig en my sterk teen die swak reëlings uitgespreek. Dit is ons kinders, ons toekomstige leiers.Wat gebeur het was baie verkeerd en ons moet dit duidelik stel.”

Luidens n sterk bewoorde verklaring het die EFF die DSKK as onbevoeg en onverskillig    beskryf:

“Die betrokke departement was al vroeg vooraf  bewus van die toernooi. Hulle het egter in gebreke gebly om voldoende reëlings te tref. Hierdeur wys hulle net die regering se selfsugtige arrogansie.”

Intussen was die leerders Vrydagaand na druk uit verskeie oorde na gastehuise regoor Kimberley geplaas. Ander leerders moes by die Sol Plaatjies-universiteit se woonplekke gehuisves word.

‘n Woordvoerder van die DSKK het wel later per stempos ‘n verskoning  uitgestuur. Dit lui onder andere soos volg:

“Hiermee vra die departement nederig om verskoning vir die swak akkommodasie-reëlings ten opsige van die leerders en onderwysers. Sommige dinge was buite ons beheer omdat daar ook tans ander programme in Kimberley plaasvind. Met die hulp van ons reis- en verblyf-agentskappe probeer ons hard om die huidige probleme aan te spreek.”

Intussen het die ouers laat blyk dat die aangeleentheid nie so gelos kan word nie. Hulle soek n formele skriftelike verskoning. Ook eis hulle dat die verantwoordelike beamptes se koppe moet rol.

Volgens Van Wyk sal sy Maandag begin om die DSKK op te skroef.

Baie Namakwalanders het later gekla dat Kimberley se reëlings oor die algemeen baie swak is.

“Hulle dink niks van ons mense nie en behandel ons soms soos honde as ons in Kimberley kom,” het een erg ontsteld vertel.

Die leerders het Sondagoggend terug na Springbok gereis.

Leave a Reply