Skip to main content

Hannes se komeet tref tussen genres

’n Bildungsroman. Twee jeugboeke. Engelse vertalings én ’n krimi om dit te kroon. Als binne net drie jaar! Hannes Barnard se skryfpaadjie kronkel opwaarts, met die einde allermins in sig. Gerald Eloff het dié bedrywige skrywer van Johannesburg gepols oor hoe hy die baie hooi op sy vurk balanseer.

Baie water het in die see geloop sedert jou eerste roman, Halley se Komeet, verskyn het. Intussen het jy twee jeugboeke gepubliseer (met ʼn derde oppad), doen jy vertalings, en jou nuutste roman, Die Wet van Gauteng, het boekwinkels onlangs getref. Alles in net drie jaar. Waar kry jy die tyd, energie en inspirasie om só baie te kan skryf?

Soms wonder ek self! Nȧ ‘n tyd in die buiteland, het ek en my vrou vyf jaar gelede na Suid-Afrika teruggekeer. Ek het toe ʼn Sabbatsjaar geneem en geskryf dat dit bars. Toe Halley se Komeet afgerond en gereed vir publikasie gekry, en daarna Wolk geskryf. Intussen het ek voltyds begin werk en toe Roet en Die Wet van Gauteng geskryf. Laasgenoemde het ek gedurende vlak vyf van die pandemie-inperkings gepleeg – ek kon want ek was toe besig met kontrakwerk, kon glad nie werk nie en het by die huis rondgesit. En ek geniet dit om te skryf – dis ʼn manier om die stemme in my kop stil te maak en uiting te gee aan my kreatiwiteit. ʼn Mens moet maar tyd maak vir dit – ander mense studeer deeltyds en beoefen stokperdjies, ek skryf.

Hoe word jou tienerboeke Wolk en Roet deur die jeug ontvang? Is daar nog genoeg jong lesers wat in ’n paar jaar se tyd steeds die Afrikaanse boekemark aan die gang sal hou?

Ek het nog nie negatiewe terugvoer, veral vanaf jong lesers, ontvang nie. Hulle geniet veral die “filmiese” benadering, asook die kort hoofstukke. Dit vind ook byval dat ek gebruik maak van die gekombineerde seun- en meisie-perspektief. Ek is nie bekommerd oor die jeug nie. Met ʼn skoolbesoek om Wolk en Roet te bemark, was die leerders se vrae-sessie nȧ die gesprek langer as my gesprek self. En dit was nie by ʼn fancy skool nie, net ʼn gewone een – die belangstelling was oorweldigend. Ten spyte van aanlynspeletjies, sosiale media, selfone en ander stimuli, word baie jongmense nog deur boeke geïnspireer en vind ontvlugting deur te lees. As skrywer gee dit my hoop vir die toekoms want dié lesers sal eersdaags die volwasse-boekemark betree. Sodoende bly die mark lewendig.

Die krimi-genre is oorbodenstoe vol, maar verkoop steeds bittergoed, vanweȅ ʼn lojale Afrikaanse mark. Wat laat Die Wet van Gauteng uitstaan in ʼn genre wat soms resepmatig oorkom?

Resepmatigheid is daar wel. Maar ek dink tog nuwe temas en idees kom deurlopend by. Solank ʼn leser voel hy of sy kan saam met die karakters raaisels oplos, sal die krimi-genre bly voortbestaan. Wat Die Wet van Gauteng hierbinne laat uitstaan, is dat ek juis nié ʼn resep wou volg nie. Daar is tydspronge, politieke intriges en dinge wat gebeur, wat alles op die raaisels en intriges inspeel. My hoofstukke is kort om die tempo lekker vinnig te hou, sonder om inligting in te boet wat die lesers kan verwar.

Die skrywer P.G. du Plessis het beweer dat “literatuur nié gemaak word nie deur modegiere en aanvaarbaarhede-vir-die-oomblik of style-van-die-dag-nie”. Stem jy saam hiermee? Of bestaan tendense wel wat skrywers navolg om kanse vir publikasie en boekverkope te verbeter? Geld P.G. se stelling dalk net vir “hogere” literatuur?

Uitstekende vraag! Mens sien wel tendense wat gevolg word om munt daaruit te slaan. Boeke word geskryf wat nie meer relevant oor 10 of 20 jaar sal wees nie. So, jou storie moet die boek kan dra, afgesien van enige tendense tans. As jou storie steeds sterk staan oor 20 jaar, ondanks byvoorbeeld verouderde tegnologie, het jy iets spesiaals beet.

Wolk was benoem vir ʼn kykNetRapport-filmprys in 2021. Hoe voel jy oor literêre pryse?

Ek was uit die veld geslaan met Wolk se benoeming hiervoor, aangesien dit die enigste jeugboek op die lys was. Literêre pryse het definitief ʼn plek. Dit gee erkenning, maar dis ook nie die alfa en omega nie. Daar is baie boeke en kuns wat niks wen nie. Dink aan die jaar wat die fliek Forest Gump die Oscar gewen het. Pulp Fiction en Shawshank Redemption het toe niks gewen nie. Vra jy vandag vir mense wat hul gunsteling-fliek is, sal baie meer nou Shawshank Redemption of Pulp Fiction kies.

Hoe lyk jou skrywersroetine?

Eerstens, skrywersroetine is baie belangrik, want daarsonder gaan jy nie regkom nie. So, oorkom jou sg. writers block en behou die draad van jou storie en karakters. Ek skryf gewoonlik ʼn uur of drie ure in die aande nȧ werk en dalk ʼn dag oor naweke. Ek trek die deur toe sodat my vrou weet ek is besig om te skryf. Al skryf jy net ʼn paragraaf of twee ʼn dag, is dit genoeg.

Watter raad het jy aan voornemende skrywers? Jy kan immers vereenselwig met skrywers wat sukkel om ’n deurbraak tot ʼn groter mark te maak.

Dis moeilik. Kom ons wees eerlik met mekaar: baie min mense maak dadelik ʼn deurbraak en is suksesvol, hetsy dit kommersieȅl of in terme van positiewe resensies is. Jy moet maar hardegat wees. Moenie dat sulke aanvanklike terugslae jou van stryk bring nie. Die realiteit is jou manuskrip gaan deur iemand ȇrens afgekeur word. Dit bly egter net iemand se persoonlike opinie – dit beteken nié die manuskrip het nie literêre of kommersiële waarde nie. Dit beteken bloot daai persoon het nie daarvan gehou nie, of dit pas nie in op hul lys van die boeke wat hulle wil uitgee nie. Hou aan skryf – werk hard, kry mense om jou manuskrip te lees wat eerlike opinies kan gee, al moet jy iemand betaal. Vriende is geneig om te bang te wees om jou gevoelens seer te maak. Groei ʼn dik vel. Jy gaan afgekeur word. Jy gaan slegte resensies kry. Lees On Writing van Stephen King. Lees boeke oor redigering. Verfyn eers jou kuns, lê dan jou eindproduk voor.

Leave a Reply