Skip to main content

Op vyftig vlieg sy vry en hoog

Twee van ons inheemse sangsterre van Pretoria vier vanjaar mylpaalverjaarsdae. Die sopraan Mimi Coertse het onlangs 90 geword en die pop-, country- en gospelkoningin Juanita du Plessis het in die herfs ‘n halfeeu bereik. As ontginner van diamante is die Waarheid Media se eienaar Forever Diamonds Gold (FDG) in ‘n perfekte posisie om die duo sanggoud na waarde te skat. Sondag borg Die Waarheid die huldigingskonsert vir Mimi in Pretoria, wyl Juanita en haar gesin ons pas in Kemptonpark kom ontmoet het. Waar sy met Sonnette Lombaard gesels het oor die pad vorentoe na ‘n taai tyd.

Die Franse het hul Mossie van Parys, oftewel Édith Piaf. Ditto die Portugese se Amália Rodrigues en die Grieke se Nana Moskouri. Ons eie singende volksgodin Juanita du Plessis is in dieselfde befaamde kategorie en ook saam met onse Mimi Coertse deel van ‘n gesogte klein klub van Suid-Afrikaners wat in Afrikaner-hartlande net op voornaamterme bekend is.

Onder Juanita wat op 26 April 50 jaar geword het, se vele toekennings pryk Die Diamant Toekenning vir die beste verkoper in die geskiedenis van Afrikaanse musiek, met ‘n verstommende totale verkoopsyfer van 1 897 171 CDs. Die gevierde blondekop-sangers het vandeesweek haar hele gesin bymekaar gehark en oor die Jukskei getrek na FDG se hoofkantoor neffens OR Tambo. Waar baas Louis Liebenberg en sy personeel gereed was om haar en manlief en hul ewe bekende kroos te ontmoet en te trakteer, gepas ook met ‘n uitstappie straataf na die maatskappy se diamantslypery.

Vir die Du Plessis is dit weer opkyk en doelgerig vorentoe mik na ‘n uitdagende tyd die laaste 2½ jaar. Soos elke ander kunstenaar regoor Moeder Aarde het die koms van Covid 19 onverwagte nuwe en swaar uitdagings gebring. “Dit het ons almal totaal onkant gevang,” bieg Juanita. Veral hoe lank grendeltyd sou duur. Haar loopbaan was in 2020 vuurwarm op dreef toe die pandemie alle opvoerings en optredes terstond gehalt het. Hulle moes opnuut besin omdat die hoofinkomstebron skielik opgedroog het.

Die talentryke gesin het egter nie gaan lê nie en vasgeklou aan hul geloof wat hulle nog altyd en ook deur die taai tydperk moes dra, vertel Juanita. Benewens manlief Doepie wat haar loopbaan reg van die begin bestuur, bestaan hul kroos uit ouboet Ruan (31) en die tweeling Mario en Franja (28). Ruan en die fraaie Franja is ook sangers in eie reg, wyl Junita se broer, Pieter Naude, ook nie skaam agter ‘n mikrofoon is nie.

Wyl die pandemie-nagmerrie voortgesleep het, het Juanita nog ‘n persoonlike laagtepunt beleef met die dood van haar gereelde sangmaat Theuns Jordaan, wat einde 2021 na ‘n bloedkankerstryd gegroet het. Benewens haar eie treffers, het sy saam met Theuns nog vele bekroonde treffers uitgerol en was hulle landwyd ons gewildste optree-paartjie. Juanita erken sy dood was ’n verdere terugslag in ‘n bitter hartseer en moeilike tyd.

Met grendels wat nou gelig het en in ‘n persoonlike mylpaaljaar vir haar, is Juanita saam met haar geliefdes nou weer vuur en vlam vir ‘n volgende fase in haar loopbaan en lewe. Die Namibiese boorling het ‘n ver pad gekom sedert sy haar sangtoekoms behoorlik aan die brand gesing het met die reuse-treffer Ska-Rumba in 2000. Die treffer het durende volksgenot geword en haar blitsig as ons top-sangeres van pop-, en later ook country- en gospelmusiek gevestig. En boonop pen en verwerk sy die meeste van haar liedjies self.

‘n Trotse Doepie wat al 33 jaar aan haar sy is, vertel juis dat dít die feit is wat baie van haar bewonderaars dalk steeds nie wis nie: “Juanita is self verantwoordelik vir die hele proses van haar treffers. Sy skryf dit, verwerk dit musikaal, programmeer en sing dit”.

Juanita se weergalose gewildheid word bevestig in haar rekord-verkope. Die meeste van haar albums/DVDs bereik tot soveel as 4x platinumstatus. Haar totale verkope van al haar albums beloop reeds meer as 2 miljoen eenhede, wat ‘n reuse-prestasie in ons plaaslike musiekmark is. Ander hoogtepunte sluit in ‘n SAMA-toekenning in die kategorie beste Afrikaanse DVD vir haar 10 Jaar Platinum Treffers in 2010. Die DVD bevat al Juanita se suksesvolste treffers oor die eerste dekade van haar sangloopbaan. In 2018 het sy twee dekades in die musiekbedryf gevier met nog ‘n trefferalbum: 20 Jaar, Treffers van 2008 – 2018. Sy is ook talle maal bekroon as beste sangeres en/of liedjieskrywer hier en in haar geboorteland. Sy ontvang ook die Spesiale Presidentsverering vir musikale uitblinker.

Juanita spog nie net met gereelde toekennings as gewildste sangeres nie, maar is ook al meermale bekroon as Stylvolste Sangeres en as ‘n vrou wat ander evas inspireer. Dit sou help om nuwe deure oop te stoot. As uitgesproke gelowige, is Juanita se gospel songs ewe gewild en haar treffer gospelalbum, getiteld Vlieg hoog het juis toe sulke ongebaande weë moontlik gemaak. In die tyd stel Juanita haar eerste parfuum bekend, wat sy Vlieg hoog doop.

En sy het goeie nuus, verklap ‘n opgewonde Juanita. Haar tweede parfuum word in Julie geloods en is vernoem na nog ‘n topverkoper gospellabum, getiteld Wees lig. Dit is met ‘n Ghoema-toekenning as gunsteling en beste gospelalbum in 2012 bekroon. As alles goed gaan, hoop Juanita om haar parfuumreeks, wat ook lyfrome bevat, uit te brei met ander vroulike siermiddels, soos leer handsakke en klere.

Volgens Juanita is dit wonderlik vir haar as diep gelowige om ook die Here se naam op ander maniere as net deur haar musiek uit te dra. Soos met haar voorkoms waaraan sy gedissiplineerd werk. Sy oefen gereeld in die gim en het onlangs met intermittent fasting begin wat vrugte afwerp, deel die sprankelvrou. Op vyftig is sy fiks en gesond en glo aan aktief bly. Meer belangrik en sielsalig, is die gekoesterde wete dat sy het vrede binne haarself het en die ding van elke dag opnuut aangryp teen nou verstaan en lėėf.

Hoewel die pandemie ongekende eise gestel het, was dit ‘n bonus dat sy saam met haar gesin kon laer trek. As introvert is sy weg van die verhoog op haar gelukkigste saam met haar mense, tuis of in die bos. Hulle gesin is geheg aan mekaar en mind nie hul eie geselskap nie. En met ouboet Ruan wat nou verloof is, is sy reeds broeis, erken Juanita. “Ek kan nie wag om ‘n betrokke en liefdevolle ouma te wees nie.”

In grendeltyd moes hulle hul geliefde bosplasie buite die stad prysgee. Die groot droom vorentoe is om weer so boswegkruipplek te kan besit waar sy en haar Doepie hul oudag tegemoet kan gaan. Blymoedig so, want ondanks als staan sy en haar gliefdes nog en kan dankbaar met hul Godgegewe talente bly woeker.

One Comment

Leave a Reply