Minstens 22 mense is Sondag dood gevind in ‘n nagklub in Oos-Londen. Die oorsaak van die sterftes is onduidelik, en geen duidelike tekens van besering aan die liggame is gevind nie.
Nooddienswerkers is Sondag in die vroeë oggendure na die Enyobeni Taverne ontbied, en het liggame wat “besaai oor tafels, stoele en op die vloer lê; met geen ooglopende tekens van beserings nie,” gevind, berig die Daily Dispatch.
Daar word bespiegel dat die oorledenes óf aan een of ander giftige stof blootgestel is, óf in ‘n stormloop beseer en gedood is.
Die polisie het aan verslaggewers buite die taverne gesê dat diegene wat gesterf het tussen 18 en 20 jaar oud was. Volgens Associated Press het hulle die einde van skooleksamens gevier.
“Ons gaan dadelik met lykskouings begin sodat ons die waarskynlike oorsaak van dood kan bepaal,” het ‘n woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van gesondheid aan Reuters gesê.
President Cyril Ramaphosa het in sy boodskap na die dooies as “tieners” verwys. Ramaphosa het op Twitter sy “diepste meegevoel” met die families van die oorledenes uitgespreek en opgemerk dat die “tragedie nog erger gemaak word deurdat dit in Jeugmaand gebeur het – ‘n tyd waartydens ons jongmense vier”