Skip to main content

‘n Totaal van 51 onwettige migrante is gered uit ‘n plastiekfabriek in Alberton tydens ‘n groot wetstoepassingsoperasie deur die departement van binnelandse sake.

Die immigrante is op die perseel in hegtenis geneem, en aangekla volgens die immigrasiewet.

‘n Wenk deur ‘n fluitjieblaser het tot die operasie gelei.

Die inspekteurs van die departement van binnelandse sake is aanvanklik toegang tot die perseel geweier, maar hulle het twee dae later ‘n gesamentlike wetstoepassingsoperasie, wat die polisie, Ekurhuleni Metro, die departement van indiensneming en arbeid, asook private veiligheidsbeamptes ingesluit het, uitgevoer.

Die 51 onwettige migrante, wat na bewering gedwing was om binne die fabriek te slaap, eet en werk, kom van China, Zimbabwe en Malawi. Die fabriek word deur ‘n Chinese burger besit.

“Die 51 is onderwerp aan onmenslike en onuitspreeklike werk- en lewensomstandighede in ‘n fabriek wat deur ‘n Chinese burger besit word,” het die departement bevestig.

Die fabrieksbestuurder, wat ook ‘n onwettige immigrant is, is ook Woensdag gearresteer.

Die eienaar van die fabriek was tydens die klopjag nie in Suid-Afrika nie.

Leave a Reply