Skip to main content

Visuele fees oor onbetwiste rockkoning

Elvis

Bio-musiekdrama

Sonnette Lombaard

Met Austin Butler, Tom Hanks, Olivia DeJonge, Richard Roxburgh, David Wenham en Natasha Bassett.

Lank voordat die Koning van Pop Michael Jackson se Moonwalk-dans die mensdom betower het, het ‘n armblanke seun uit die Amerikaanse suide se sensuele heupswaaiery en streelstem die heelal laat swymel. Sonder die hulp van die kuberruim wat eers dekades later die globale gemeenskap 24/7 sou verbind en celebdom sou sement.

Nou, 45 jaar na sy dood in 1977 is Elvis Presley steeds die solokunstenaar met die beste rekordverkope van alle tye. Elvis het sonder twyfel die era van supersterdom flambojant ingelui. En ruk en rol vir goed op die vermaakkaart geplaas. Nog meer, sy bydra om grense tussen musiekgenres te vermeng vir treffermusiek, maak van hom ‘n tydlose kultuurskat. Dis ewe waar dat hy die pronk-voorbok was vir die glans- en wilde leefstyl wat ‘n rockster geoorloof word en deur elke tweede tiener begeer word.

Uitbeeldings van die triomf en tragedie van Elvis se glorieryke lewe bly gewilde kykstof en word meermale op die groot en klein skerm, minder en meer suksesvol, belig. Die bekroonde Aussie Baz Luhrmann is die nuutste regisseur wat sy gesogte lense fyner ingezoem het op Elvismanie. Dit kom ‘n dekade na sy lou oomaak van The Great Gatsby (2012). Siende die Ozzer se gevierde aanslag met veral musiek- en dansflieks soos Moulin Rouge! (2001) en die skitterende Strictly Ballroom (1992), is sy weergee van Elvis afgewag. Uit daai hoek stel dit nie teleur nie want Luhrmann ken sy krag en kaats sy storie in oordaad. Hier is dit pure vertoonperd agter ėn voor die lens. Die showman-bewonderaar wat die ϋber-showman op die verhoog in glansoperastyl afwys. Dit werk omdat Elvis se plesier en patos diė prentjie perfek pas.

Luhrmann het gewaag met sy keuse van akteur om die groot skoene en weergalose kostuums van Elvis nommerpas te vul. Austin Butler se skoongesig was tot nou meer in die celeb-kaders bekend en as tienerakteur. Hy verras hier met sy aangryp van sy groot kans om millennium-asem in legende Elvis te blaas. En staan sy man enduit teen die lewende legende Tom Hanks, hier in die rol van Elvis se befaamde bestuurder kol. Tom Parker.

Luhrmann hou sy fliek eietyds vars met die hooffokus op die gekompliseerde verhouding tussen Elvis en die kolonel oor twee dekades. Dit was Parker wat die jong Elvis se sonderlinge talent geëien en hom uit obskuriteit na roem gepluk het. Lank voordat roem en rykdom deur ewe blink agente bedryf is, het Parker se omstrede hantering van Elvis se loopbaan tonge laat klap. Nogtans was hy ‘n krag in die skep van Elvis the Pelvis, wat vroue ouderdomloos uitgeknikker het.

Die tydsgees-aanslag is daar met Luhrmann se deurgaanse beklemtoning van die kernera waarteen die Elvis-fenomeen verrys het. Die winde van verandering het teen die einde van die 1950s deur die Amerikaanse suide begin spoed optel en sou ‘n dekade later landwyd stormagtig woed en eindelik lei tot die finale afgooi van onskuldige jukke in Yankland. Elvis se opkoms hierbinne, veral sy vroeë blootstelling aan en liefde vir verskillende musiekstyle oor alle rasgrense in sy tuisomgewing word tereg goed belig. Hy was op die regte tyd en plek en het met slim stylvermenging treffers uitgerol wat ryp op die rug van die veranderinge in sy vaderland en verder kon vlieg.

Benewens Butler se verdienstelike spel, word die fliek gedra deur ‘n byna onherkenbare Hanks in sy fat suit. Die res van die rolverdeling is ondergeskikte agtergrondkarakters. Dit sluit in die jong Aussie Olivia DeJonge as Elvis se tienerbruid Priscilla Presley. Die musiekkomponent is stewig met egte lewendige beeldmateriaal van Elvis in sy finale konserte in Las Vegas. Kodi Smit-McPhee vang ook die oog as Jimmie Rodgers Snow en Kelvin Harrison Jr. as B.B. King. Die sterk blues-en gospelstem van Shonka Dukureh as Willie Mae “Big Mama” Thornton is ‘n sensoriese fees.

Ondanks die fanfare van bykans drie ure, vat Luhrmann met sy weergee van ‘n groot gees sy grootste hap en oorspeel dalk sy ruim hand. Hy is al daarvan beskuldig dat hy die uiterlike flambojant vasvang maar die stories daaragter skraler inkleur. Regverdige kritiek, want dit kort hier. Sy ode oemf met hart maar glans en blink oorheers en na ‘n lang sit voel jou siel tog afgeskeep.

Leave a Reply