Skip to main content

Isaac Cloete

Woedende inwoners van Namakwaland was gestrand sonder aanlyn-kommunikasie weens kabeldiefstal.

Duisende inwoners van die Nama Khoi-munisipaliteit (NKM) kon die hele Dinsdag nie die internet gebruik nie. Gebruikers van die MTN- en Cell-verskaffer kon ook nie oproepe met hul selfone maak nie. Of chat nie.

Almal het egter besluit om eers geduldig te wag omdat aanvanklik geglo is dis ‘n landwye probleem weens die ongure weerstoestande.

Woensdag moes hulle egter tot hulle skok verneem dat vermeende kabeldiewe weer koperkabels gesteel het. Volgens die Valke het die diewe Sondag op Springbok die koperkabels wat krag aan die selfoontorings verskaf, gesteel.

Nadat die NKM die skade Maandag herstel het, het die diewe weer  Dinsdag toegeslaan. Dis nie bekend nie of dit dieselfde diewe was nie. Volgens die Valke was hulle Dinsdagoggend na seweuur by die torings betrap met die koperkabel. Dit is ‘n kabel wat krag aan die torings verskaf.

‘n Ingeligte na aan die ondersoek vertel dat die kabel ongeveer 85 meter lank is. Die geskatte waarde is ongeveer R1 miljoen werd. Hy het bygevoeg: “In Kaapstad word tot R180 per kg betaal vir ‘n kg koper en in Upington  R120 by die skrootwerf”.

Benewens die publiek, het besighede ook gesukkel om aan die gang te kom weens die kabeldiefstal. Selfs die rekenaar- en datatstelsel by  die NKM was hierdeur geraak.

Intussen moes MTN en Vodacom tydelike kragopwerkers by die torings installeer sodat internetkommunikasie in die omgewing normaal kan aangaan. Woensdag het sommige inwoners nog gekla dat hulle nie Cell C se netwerk kon gebruik nie.

Tans is daar nie sekerheid nie oor wie ‘n nuwe kragkabel moet voorsien nie. Verder is dit ook onseker  vir hoe lank die generators krag aan die torings kan verskaf weens die groot brandstofkoste.

Die publiek se woede was ongekend, veral omdat hulle verneem het dat van die verdagtes waarskynlik van Bergsig naby Springbok kom. Die algemene gevoel is egter dat die verdagtes saam met sindikate buite die Springbok-gebied werk.

Baie inwoners meen dit is terrorisme en sabotasie van essensiële eiendom. Die howe moet dus geen borgtog aan die verdagtes gee nie, eis hulle nou.

Raadslid Cyril Warne stem saam en vertel driftig: “Die regstelsel het ons mense gefaal toe vorige koperkabeldiewe van Buffelsrivier borgtog gekry het. Dit skep mos ‘n presedent vir ander diewe om dieselfde te doen.Die oortreders behoort in die tronk.”

Kol. Schalk Andrews het die polisie geloof vir hulle vinnige optrede en die publiek vir inligting.

Volgens lt-kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, is vyf verdagtes betrokke. Twee het gevlug en drie is gearresteer. Die polisie kon ook sowat 70m kabel terugvind.

Die verdagtes staan tereg op aanklagtes van peutering aan en die beskadiging of vernietiging van noodsaaklike infrastruktuur. Hulle sal binnekort in die Springbok-hof verskyn.

One Comment

Leave a Reply