Skip to main content

Suid-Afrikaners jubel maskerloos

Uitbundige ekstase heers onder die meerderheid Suid-Afrikaners na die nuus dat ons eindelik, na ‘n volle 817 dae, van verpligte masker dra bevry is. Wyl mense weer vry asemhaal, vroue hul brandweerrooi-lipstif nader trek en hardhorendes lippe kan lees, is daar ook diegene wat, wel, nie hul maskers wil weggooi nie. Sonnette Lombaard berig.

Met die wêreld op sy kop, het Kersfees vanjaar vroeg kom draai – nogals in die winter met die regering se aankondiging gisteraand dat die verpligte dra van maskers afgeskaf word. Die besluit om weg te doen met die oorblywende Covid 19-beperkings word wyd verwelkom. Dit behels die ophef van die dra van maskers binnenshuis en die beperkinge op openbare saamtrekke en funksies.

Dit is warm nuus vir die meeste Suid-Afrikaners in die hart van die winter om na langer as twee jaar van maskers bevry te wees. Dis veral anti-vaxxers en dowes wat hard juig. Sedert die pandemie en grendels deel van ons bestaan geword het, was maskers verpligtend oor alle grense en deel van ons winkelmandjie en oggendroetine na tande borsel.

“Die ‘beheer’ is vir eers verby.” Die bondige kommentaar van die Afrikaanse sanger en akteur en uitgesproke anti-vaxxer, Matt Stern van Pretoria. “Hiep-hiep-hoera! Ek kon die masker nié verdrá!,” laat weet oudsielkundige en skrywer van die boek Gulpflerrie, Annemarie Koen van Worcester. Sy het dadelik ‘n vieringsappie gaan koop want “skielik is jy vry! Maskervry!”

Aktrise Elma Potgieter stem. “Vryheid en dapperheid loop hand aan hand. Ek wil vir myself besluit oor alles teen die agtergrond van doen aan ‘n ander soos wat jy graag aan jou gedoen wil hê. Ek beskou geen menslike owerheid as my rigtingwyser nie.”

Geen maskers is veral ook welkome nuus vir dowes en ander met gehoorprobleme. “As hardhorende is ek absoluut verheug! Behalwe vir die klankversperring wat maskers veroorsaak, maak mense soos ek, staat op liplees. Dis groot verligting vir my,” verduidelik Alet van Rensburg van Johannesburg. Chrisna Venter, ma van drie tienerseuns van Pretoria, wys daarop dat hoërskoolseuns weer meer gereeld moet skeer. “Self, is ek bitter dankbaar, maar moet nou net onthou om lipstiffie aan te sit.”

Vir meeste vroue het maskers en lipstiffie dra nie lekker gejel nie. Om nie te praat nie van oorbelle verloor met die masker inhaak agter ore. “Sonder bek-lappies gaan die verkope van lipstiffie die hoogte inskiet. Vanoggend kon ek kies en keur en met ‘n breë glimlag by die voordeur uitstap. Ook bevrydend om die vars oggendlug te kon inasem sonder ‘n masker oor my neus en mond,” deel Charmaine Lourens vanuit die Bosveld.

Ook Petro Vorster van die KZN-noordkus glimlag oor lipstiffie weer die praatwerk kan doen! “Bygesê, ek gaan ook bietjie soos ‘n slak sonder ‘n dop voel tussen ‘n klomp mense, en gaan bes moontlik my nek verstuit wanneer ek wegdeins as iemand naby my hoes.”

Die blye nuus het Charles Thompson, digter/boer van Pretoria, terstond geinspireer. “Gaan dit nie ‘n openbaring wees nie! Daar gaan gesigte wees, monde, lippe. Lippe. Lippe. Mooi lippies, rooi lippies.” Maar, voeg hy vinnig by: “En dit gaan aand wees, dan more. En ons gaan net weer vergeet om te onthou …”

Die dra van ‘n masker het ook prettige voordele gehad. “Nou gaan ek moet kophou om nie meer met myself in die winkels te praat nie. Ek het die lekkerste gesprekke met myself gehad (ėn ‘n paar ape sonder trollieliksensies),” laat weet taalpraktisyn en blokraaiselghoeroe Estelle de Swardt vanuit Midstream.

Meeste landgenote is bloot verlig en meen die afskaffing van die gesigbeperking is hoogtyd en dat die toepassing daarvan later ‘n bespotting was. “Cyril se masker het dan reeds voor die aankondiging by Phala Phala afgeval,” skryf Martin Lombaard uit Modimolle. Kathy Erasmus van Johannesburg is “verlig en verheug”. Ditto Kapenaar Christina Kleynhans wie “voëlvry en  ve(e)rlig” voel”. Karoo-boer Leonard Rautenbach laat hoor verlig: “Moes lankal gebeur het. Voel ek versmoor in die ding.”

 “Grensloos verlig en dankbaar,” beaam kunstenaar Lynette Strauss van Hoedspruit. Gerda van Heerden van die Wes-Rand meen “mens kan nou weer ’n ander persoon se glimlag sien … en nie verstik in jou eie asem nie. Halleluja!” Theresa Schoeler eggo uit Witbank: “Ek kan weer vry asemhaal en mense herken. Dalk is ek ook bietjie bang, want ons het begin wegkruip agter ons maskers.”

Aktrise Lara Lourens van Pretoria weifel ook effe. “Ek het so gewoond geraak aan ‘n masker dra dat ek my nie kan indink om die huis te verlaat sonder een nie.”

Nog ‘n Kapenaar Tommy Thompson meen juis dis soos “iemand wat in huisarres was en skielik hoor dis opgehef”.  Voorts glo hy slap higiene met masker dra kon jou ook siek maak. “So, nou is ek daarvan verlos. “Tog word ons gekondisioneer. Ek vlieg baie en wanneer ek naby mense sit wat erg hoes en siek klink, was ek baie dankbaar oor my masker en wou dit nie eers afhaal om water te drink nie. Ek wonder dus hoe ‘veilig’ ek vorentoe gaan voel.”

Cicile van Dijk is ewe verheug oor ons land weer kan asem skep. maar sal steeds ‘n masker dra vir kort periodes soos in die winkels om haarself te beskerm. “Langdurige dra van maskers is egter nie gesond nie.”

Skrywer/digter Johan Jack Smith, redakteur van die tydskrif Taalgenoot, wil nog nie sy maskers weggooi nie. “Te danke aan maskers het ek drie jaar laas verkoue en griep gehad. Tot mense my vreemd begin aankyk, sal ek steeds myne dra en my hande sanitize.” Ook Elmarie Meyer van Pretoria se Moot gaan as ‘n diabeet aanhou om masker te dra “veral in die winter as almal om my siek is. Maar dis wel lekker om vryheid van keuse te hê”.

Bekende akteur Kaz McFadden is skielik verward. “Bitter bly en bitter verdag. Mense moet nou vir hulself dink … is dit moontlik?” Marli Schulze, Kaapse inhoudspesialis by e.tv, sluit aan: “Dit is nou masker voor die mond verby en tyd vir die ander wagte om aan te tree. Vryheid van spraak was nog nooit so lekker nie! (en nou sal ons mekaar weer behoorlik kan hóór).”

Matty Strydom, skrywer van die Karoo, is in ‘n ewe filosofiese luim. “Die masker is net ‘n simtoom van ‘n epidemie wat die wêreld verander het. Haal die blinddoek af en trek die oorpluisies uit. Ontkenning en samesweringsteorieë skop teen die wetenskap se waarskuwings oor ‘n siek oorbevolkte wêreld. Ons sal weer maskers dra,” voorspel sy.

Oos-Kaapse sitrusboer Sydney Stiemie het vanaand liplekker-vieringsplanne in Kirkwood. “Ek sal die gebruikte en half-gebruikte maskers bymekaar haak en daarmee ‘n braaivleisvuur aansteek. Ek gaan vir my ‘n groot T-bone braai en dit in isolasie eet.”

Leave a Reply