George April
Die gons behoorlik op sosiale media oor ‘n jeugdagfunksie van die Demokratiese Alliansie (DA) van Bergrivier Munisipaliteit wat as ‘n partypolitieke funksie in Velddrif aangebied is, en waarheen net glo sekere mense genooi is.
Asof dit nie genoeg is nie, maak mense ook bors skoon oor ‘n Vadersdagfunksie, wat slegs vir die politieke party se ondersteuners was. Daar is ook ongelukkigheid oor drank wat blykbaar vrylik by die Sondagetes beskikbaar was.
Voorts is opposisiepartye ongelukkig en kla omdat hulle geen uitnodigings na die verrigtinge ontvang het nie. Raadslid Rhime Laubscher van die Patriotic Alliance het die pos hieroor op Facebook geplaas, wat mense rooi laat sien. Baie gaan veral gal af oor wie vir al die funksies moet betaal.
Lee-Roy Joseph skryf onder andere: “Salute is die waarheid, dit is hoogtyd dat hulle ophou partypolitiek speel met ons geld.”
“Hulle wil besluite neem sonder ons, die gemeenskap. Ek is ook besig met my groot profiel, met klagtes oor vrugtelose spandering, wat ook na die Openbare Beskermer en die Ouditeur-Generaal gestuur gaan word.”
“Hulle moet ophou maak asof die munisipaliteit aan die DA behoort, dit word wel deur hulle beheer maar dit behoort nie aan hulle nie,” lui sy kommentaar.
Ivan Mentoor wil in sy FB-pos weet: “het hierdie event enige jeugdige individu uplift? Het dit ‘n impak gemaak of het die jeug ‘n feel good oomblik hieruit gekry …?”
Mathew Sheldon, mediawoordvoerder van die Bergrivier Munisipaliteit, het bevestig dat ‘n amptelike openbare jeugdagfunksie aangebied was. “Dit het plaasgevind in die Velddrif Stadsaal, op Donderdag, 16 Junie 2022. Jeugdiges uit alle dorpe in die munisipale gebied kon die dag gratis bywoon.”
Volgens Sheldon was getalle weens Covid-19-regulasies egter beperk tot 300 mense. “Daarom moes belangstellende jeugdiges aandui dat hulle ‘n uitnodigingskaartjie wou bekom”. En “dit is streng op ‘n first-come first-serve-basis hanteer”.
Die munisipaliteit kan ook verder bevestig dat daar geen politieke veldtog of enige handelsmerk van ‘n politieke aard by hierdie funksie (Jeugdag) was nie. “Dis deur die munisipaliteit aangebied en betaal.”
Oor die Moedersdag- en Vadersdagetes, het Sheldon verduidelik dat dit Wyksraadslede se besluit is om jaarliks saam met hulle Wykskomitees saam Wyksprojekte aan te pak. “Die munisipaliteit betaal nie vir enige alkohol by enige funksies wat aangebied word nie. Hierdie etes (Vadersdag en Moedersdag) is deur Wyksraadslede aangebied en waar wyn by die middagetes bedien was, is dit persoonlik deur die betrokke Wyksraadslede of gaste betaal.”