Switserland het in Mei vir die eerste keer sedert Februarie goud uit Rusland ingevoer, het Bloomberg gister berig.
Volgens die artikel dui die stap daarop dat die bedryf se houding teenoor Russiese edelmetale in die lig van die voortslepende Oekraïne-oorlog versag.
Switserland het verlede maand meer as 3 ton goud vanaf Rusland verskeep,. Volgens data van die Switserse Federale Doeane-administrasie verteenwoordig die aankoop sowat 2% van die Switserse goudinvoer in Mei. Die land is ‘n belangrike raffineringstussenganger, wat twee derdes van die wêreld se goud hanteer.
Sedert die begin van Moskou se militêre operasie in die Oekraïne en die aankondiging van internasionale sanksies, het die London Bullion Market Association alle Russiese goud- en silwerraffinaderye van sy lys van goedgekeurde verskaffers verwyder. Die skuif is deur die goubedryf as ‘n de facto-verbod beskou en die meeste raffinaderye het daarna geweier om nuwe goud van Rusland te aanvaar.
Die nuus rondom die Switserse aankoop kom in die lig van bespiegelinge dat die edelmetaal geoormerk is as ‘n moontlike nuwe teiken vir verdere sanksies teen Moskou. Volgens Reuters wil EU-leiers die druk op Rusland behou terwyl hulle vandeesweek vir ‘n beraad vergader.
Dit is nie duidelik of Switserland, wat nie deel van die EU is nie, aan die moontlike verbod op Russiese goud sal deelneem.