Skip to main content

Mimi Coertse is een van bittermin Suid-Afrikaners wat net op eerste naam-terme volksbesit en volksgelief is. Onse Mimi, wat oor dekades ons patriotiese harte laat bult het met haar sterstem in gesogte operahuise oraloor, het pas ‘n mylpaalverjaarsdag gevier. Die Waarheid is deel van die feesvieringe om haar reuse-bydra te huldig.

Mimi Coertse, ons eie wêreldbekende sopraan, het op 12 Junie die rype ouderdom van 90 jaar bereik. Mimi, bekend as die doyenne van Suid-Afrikaanse opera, word binnkort met ‘n spesiale huldigingskonsert in Pretoria vereer. Die statige en formidabele vrou sien geweldig uit na haar huldigingskonsert op 3 Julie in die Afriforum-teater in Brooklyn, word aan Die Waarheid vertel.

Sy gaan beslis self teenwoordig wees by die spoggeleentheid, wat deur Die Waarheid geborg word, bevestig Lizet du Plessis.

Du Plessis kyk al die afgelope vyf jaar dat alles klopdisselboom gaan met Mimi se versorging en sy word deur twee ander vroue bygestaan.

Na nege dekades geniet Mimi nog goeie gesondheid. Volgens Du Plessis  het die operaster geen gesondheidsprobleme nie, behalwe dat sy met haar geheue sukkel.

Sy sê dit is ‘n geweldige vreugde en voorreg om vir Mimi te ken.

“Haar humorsin is nog fynskerp daar en sy speel steeds daagliks kaart. Sy wen teen almal en dring daarop aan om self die punte op te tel.”

Du Plessis verklap voorts dat Mimi se omvattende woordeskat haar gereeld opval.

“Sy praat steeds vlot Duits en Duitssprekende vriende bel haar nog gereeld. Sy is ook bietjie Italiaans en Frans magtig – sy was met ‘n Italianer getroud en sy moes Frans onder die knie kry om te weet wat sy in Europa sing. En natuurlik kan sy ook Engels praat, maar haar groot liefde bly steeds Afrikaans.”

“Ek ken Mimi al my hele lewe lank. Sy was ‘n goeie familievriend voordat ek na haar versorging begin omsien het,” sê sy.

Volgens haar word baie in Mimi se huis gelag. Haar welbekende humorsin is so skerp soos altyd. Mimi se skalkse glimlag is een van die groot plesiere in haar lewe.

Daar word ook steeds so gereeld moontlik musiek gemaak.

“Ek en Mimi sing gereeld nog FAK-liedjies. Sy sing nie hard nie, maar sy onthou nog al die woorde. Sy korrigeer my dikwels as ek die woorde verkeerd kry. Ek het geen stem om te sing nie en mense het my al gevra hoe ek so voorbarig durf wees om saam met die legende te sing, maar ons sing net.”

Du Plessis vertel die professionele operasangeres Loveline Madumo-Sathekge het onlangs kom kuier en vir Mimi gesing. Toe begin Mimi saam sing.

“Musiek bring alles wat mooi is in ‘n mens uit. Ons speel baie musiek hier. Dis ‘n grootse vreugde en voorreg om hier te wees.”

Coertse is in Durban gebore en het aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer. Haar debuutoptrede in Suid-Afrika was om Handel se Messias te sing in die Johannesburgse stadsaal op 11 Desember 1951.

Sy het Suid-Afrika in September 1953 verlaat.

Coertse het in Januarie 1955 haar internasionale debuut gemaak as die “eerste blommemeisie” in Wagner se Parsifal by die Teatro San Carlo in Napels. Op 17 Maart 1956, het sy haar debuut in die Weense Staatsopera gemaak as die Koningin van die Nag in Die Zauberflöte deur Mozart en het tot 1978 by die Weense Staatsopera gebly.

Sedert sy in 1973 na Suid-Afrika teruggekeer het, was sy ‘n gereelde gas op Suid-Afrikaanse verhoë en ook ‘n gereelde gesig op radio en televisie. Sy het op 14 Desember 1978 teruggekeer na die Weense Staatsopera vir ‘n enkele afskeidsopvoering as Elisabetta in Don Carlo.

Haar ondersteuning vir haar mede-Suid-Afrikaanse musikante was uitstaande – soos weerklink het in haar teaterreeks Debuut met Mimi en deur die Mimi Coertse-beurs.

In 1996 het Oostenryk se Federale Ministerie vir Wetenskap en Kuns aan haar die Oostenrykse eerbewys, eersteklas toegeken,. Dis die hoogste eerbewys wat ‘n kunstenaar in daardie land kan ontvang.

In 1998 het sy ‘n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria en nog een in 2013 van Unisa ontvang.

In 2002 is die Goue Rathausmann van die burgemeester van Wene aan haar toegeken.

In 1998 het Coertse en Neels Hansen The Black Tie Ensemble gestig, ‘n ontwikkelingsprojek wat jong, klassiek opgeleide sangers in staat stel om die gaping tussen opleiding en professionele optrede te oorbrug, Hierdie projek het ontwikkel tot die opwindendste klassieke sangensemble in Suid-Afrika.

Op 26 Januarie 2020, is Mimi ook as ‘n lewende legende in die Suid-Afrikaanse Legende-museum ingehuldig. Sy was een van slegs 20 legendes van wie ‘n borsbeeld ook gemaak is.

Coertse was drie keer getroud. Sy het nie biologiese kinders nie, maar het ‘n seun en dogter, Werner en Mia, aangeneem.

  • Twee lesers van Die Waarheid kan elk twee kaartjies vir Mimi se huldigingskonsert op 3 Julie wen. WhatsApp net die woord MIMI na 061 407 9200 om in aanmerking te kom vir die trekking op Woensdag, 29 Junie.

Leave a Reply