Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Inheemse Nama-groep gaan hulle voortaan onder die vaandel van ‘n internasionale beweging en hulp skaar. Die Namaqualand Indigenous Energy, Mineral, Agri and Sea Resources (Niemas) se bestuur het Saterdag ‘n historsiese memorandum van verstandhouding met Undrip 1652-Northern Cape in Concordia in Namakwaland gesluit.

Die sambreelliggaam Undrip1652-Northern Cape is gesetel in Kimberley en funksioneer onder die jurisdiksie van die Verenigde Nasies se Verklaring van die Regte vir Inheemse Mense (Undrip). Die manifes is op 13 September 2007 deur die VN se Algemene Vergadering aanvaar met 144 lande wat ten gunste daarvan was.

Dis die mees omvattende internasionale instrument wat die regte van inheemse mense in internasionale reg en beleid uiteensit, asook die erkenning, beskerming en bevordering daarvan.

Undrip1652-Northern Cape se advokaat in staatsreg, dr. Nico Swart, het tydens die ondertekening gesê dat die minerale-rykdom in die gebied aan die KhoiSan-mense behoort, en nie aan die staat nie, ingevolge Undrip-wetgewing.

“Julle kan daarop aandring om julle self te regeer op julle grond, deur julle eie mense. Derhalwe moet julle die bestaande wette gebruik om julle grondsaanprake te regverdig en te verdedig, veral in die Noord-Kaap.”

Volgens hom is dit nonsens om luidens artikel 5 van die grondwet by die premier aansoek te moet doen vir erkenning van die KhoiSan-mense.

Pastoor Chris Christoffels, onder-provinsiale voorsitter, het bygevoeg dat hoewel Suid-Afrika ‘n ondertekenaar van die VN se manifes is, word dit nie toegepas nie.

“Undrip1652-Northern Cape is ‘n voorstaander van gelykheid, wat tans nie nou in ons land gebeur nie. Diskriminasie is aan die orde van die dag. Ons word genoem “Kleurlinge” pleks van inheemse groepe. Dit moet reggestel word.”

Hy het ook sterk beklemtoom dat die land se hulpbrone nie aan die regering behoort nie, maar aan die inheemse mense, wat eerste hier was. Volgens hom wil Undrip1652-Northern Cape die regte van die inheemse mense laat voortleef.

Die KhoiSan Wet is nie deur ons geskryf nie, maar deur die regering om hulle alleen te pas, het hy ten slotte verklaar.

Na die verrigtinge het Niemas die memorandum onderteken as die enigste inheemse groep in Namakwaland met wie eerste onderhandel moet word. Veral op mynbougebied, asook in landbou, toerisme en marine-ontwikkeling in die gebied, sal Niemas voortaan ‘n belangrike rol speel, het Liz Swanepoel, sekretaris, beaam. Dit sluit in gesprekke met Orion Minerals, De Beers en Alexkor-mynhuise.

Intussen is Undrip1652-Northern Cape reeds in verbinding met verskeie mynmaatskappye regoor die Noord-Kaap om die mynbesture te vermaan oor die groot onreg wat aan inheemse mense hier gedoen word.

Ander lede van die Undrip1652-Northern Cape wat teenwoordig was, is Leonardo Steenkamp (sekretaris) en Vernon Mostert (voorsitter).

One Comment

Leave a Reply