Feeste pas aan post-pandemie
Vir baie mense in die uitvoerende kunste was die koms van Covid-19 en die regering se drakoniese regulasies rakende openbare ruimtes en byeenkomste, asook weinige staatshulp amper die einde van die pad. Stadig, egter, word boude nou weer op stoele gesit en die gordyne oopgetrek. Gerald Eloff het gaan hoor by feesorganiseerders van die grootste kunstefeeste hoe die bedryf nou lyk, en wat die toekoms inhou.
Van die bedrywe wat die ergste deur die koms van Covid-19 geraak is, is die uitvoerende kunste. Gedurende die piek van die pandemie het die media wyd en gereeld berig oor kunstenaars, sangers en stalletjiehouers wat met inperkings aan die korste end getrek het. Kunstefeeste was, en is steeds ʼn enorme deel van hul inkomste. Soos die pandemie sy einde nader, begin nou weer ʼn lig skyn en planne word opnuut beraam om die aarde te laat klop, die Vrystaat vry te maak en die Karoo te laat blom. Trouens, dit het reeds begin, met die KKNK wat vanjaar vanaf 29 Maart tot 3 April suksesvol gehou is.
Karoo se dankfees
“Dit het my grootste verwagtinge oortref,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). “Dit was die eerste groot kultuurgeleentheid op nasionale vlak sedert die uitbreek van Covid-19. Dit was ʼn uitdaging om ʼn veilige fees aan te bied maar dit was belangrik vir die bedryf, asook vir gehore.”
Volgens Theart speel die kunste so ʼn belangrike rol in die psige van ʼn samelewing. “Die KKNK het alle verwagtinge oortref, dit kan selfs gesien word as ʼn katarsis. In ʼn baie kort tydjie moes ons die fees bymekaarsit. Die reaksie van gehore en kunstenaars was geweldig positief. Ek sien dit as ʼn fees van dankbaarheid – en dit het hoop gegee, na die trauma van ʼn gekanselleerde fees in 2020”.
Feeste kom na jou
Dit is egter nie net die KKNK wat vanjaar gaan gebeur nie – in ‘n nuwe wending gaan die bekende feeste ook in verskillende stede en op ander datums opwip.
“Ons reël eintlik vanjaar twee feeste,” vertel Corneli van den Berg, feesdirekteur van die Vrystaat Kunstefees. “Vroeg in Julie hou ons ʼn mini-mark en die groter fees van 2 tot 8 Oktober. Na gesprekke met rolspelers is tot die slotsom gekom dat Covid-19 ʼn winterding is, en dat dit gedurende die lentemaand veiliger sal wees om aan te bied. Ons langtermynplan is steeds om dit terug te sluif na ons gewone tydgleuf in Julie. Ook omdat ons die kalender van ons groot nasionale feeste volg en Oktobermaand is Aardklop se tydgleuf.”
Die Momentum Beleggings Aardklop, soos dit voortaan bekend sal staan, wip ook vanjaar by drie plekke op, nadat dit verlede jaar net in Pretoria gehou is. “Meer as 70% van ons kaartjieverkope kom van Gauteng, vertel Alexa Strachan, Momentum Beleggings Aardklop se feeshoof. “Dis hoekom ons die kunstefees na die feesganger toe bring, na Pretoria en Linden. Ons probeer by al die stede ʼn gebalanseerde aanbod in terme van drama, visuele kunste, gesprekke en musiek aanbied. Potchefstroom is die logiese keuse omdat ons daar gesetel is, asook vanweë ons verhouding met die NWU-kampus (wat ook ʼn borg is), en ons wil aanhou vir die plaaslike gehore iets gee. Van 30 September tot 2 Oktober is ons in Potchefstroom, dan skuif ons van 6 tot 9 Oktober na Linden en Pretoria. Die programme sal binnekort beskikbaar wees.”
Voorts sê Strachan: “Ons wil ons stalletjiehouers ook weer ʼn geleentheid gee. Ek wil dit sterk beklemtoon, die uitvoerende kunste is myns insiens deur ons regering versaak en verraai. Dit is asof hulle van ons vergeet het. Daar is mense wat baie verloor het, hulle waardigheid inkluis.”
Van den Berg bevestig die stalletjiehouers is opgewonde om na feesterreine terug te keer. “Van hulle is wel anti-vaxxers maar is gelukkig dat hulle net ʼn negatiewe Covid-toets kan wys wat hulle sal toelaat om uit te stal,” skerts sy.
Op die verhoog, op jou skerm
Gedurende die pandemie se piek het kunstefeeste steeds vertonings en uitstallings aanlyn aangebied. Dit laat ʼn mens wonder of diė manier voortaan meer gebruik sal word, en of ʼn hibriede model meer ingespan kan word.
“Die Vrystaat Kunstefees sal vir seker ʼn hibriede model gebruik, soos om werkswinkels aan te bied,” vertel Van den Berg. “So bereik ons mense in die buiteland ook, asook mense wat nie die fees self kan bywoon nie.”
Theart stem. “Dit help ook vir bemarking van en blootstelling aan die kunstenaars. Dit bly egter steeds die lekkerste om in die oomblik te sosialiseer. Daar lê nog egter baie gesprekke voor tussen kunstenaars, borge en organiseerders om dit te maak werk. Dis nie net kunstefeeste nie, maar die hele kunstebedryf wat geraak word. Hoe gaan ons dinge doen van hier af? Hoe kan ons aan kunstenaars en die betrokkenes stabiliteit bied? Ek dink dit strek beslis verder as net kunstefeeste.”
Strachan wys daarop hulle fokus is wel anders. “Elke fees se aard verskil – maar as jy nie kan aanpas nie, sal jy nie oorleef nie. Momentum Beleggings Aardklop se fokus bly egter op die in-persoon-teater – en dis nie verfilmbaar nie. Dis ʼn vol sensoriese-ervaring, dis persoonlik, daar is iets tussen die gehoor en die akteurs. Niks kan dit vervang nie. Teater is uniek. Al is dit soms moeilik om die boeke te laat klop.”
Die pad vorentoe
Van den Berg, Theart en Strachan is dit eens dat die groot feeste sal oorleef. “Die Vrystaat Kunstefees sal voortbestaan, solank mense dit ondersteun,” meen van den Berg. “Die gehore is mal daaroor, dit bring die mense saam. Dit bevorder sosiale kohesie. Na ʼn krisistydperk is daar altyd ʼn bloeitydperk. Ek is baie opgewonde oor die toekoms, mense het die laaste twee jaar genoeg tyd gehad om te dink aan nuwe idees.”
Theart stem saam: “Die behoefte vir groot feeste is steeds daar. Daar is beslis ʼn plek vir nis-feeste ook – met ʼn kleiner, gefokusde gehoor. Ons sal egter eers moet kyk wat gebeur.”
“Dis onmoontlik om te bepaal wat voorlê,” sluit Strachan af. “Dis reeds ontsettend moeilik om ʼn fees op so ʼn groot skaal aan te bied, behalwe as jy sakke vol geld het. Mense se besteebare inkomste word minder en mense sien kunstefeeste as ʼn luuksheid.” Boonop het mense se gedragspatrone ook verander. “Hulle kuier nie meer na vertonings in foyers nie – hulle wil huis toe gaan (asof hulle sukkel om die aandklokreël af te skud!). Ons moet die situasie dophou – en moet kan aanpas. My grootste wens is dat alle kunstefeeste sal oorleef.”
Soos dit blyk uit bostaande kommentaar, hoef kultuurdiere nie die einde van groot kunstefeeste te vrees nie. Kunstefeeste is hardnekkig en innoverend, pandemies ten spyt. Solank mense teaters vul, kuns koop en voete stamp by musiekkonserte, is die einde vir lank nog nie in sig nie.