Skip to main content

GEORGE APRIL

Vier jaar nadat mense aan die Weskus grafstene laat maak het by ‘n begrafnisondernemer en nog niks ontvang het nie, is daar nog nie lig aan die einde van die donker tonnel nie.

Niemand weet wat aangaan nie, en of hulle hul gelde sal terug kry nie.  Mense het duisende rande betaal vir grafstene van geliefdes, en steeds is daar na jare geen spoor van ‘n grafsteen nie. Die Waarheid Media se verslaggewer het onlangs persoonlik by Vredenburg polisie vir antwoorde gaan soek.

Nadat verskeie harde woorde in die polisiekantoor geval het, het ‘n speurder op ‘n rekenaar vir antwoorde gesoek. Toe is Die Waarheid meegedeel dat die saak wel op die streekhof se rol is, en dat vier mense reeds in die hof verskyn het.

Volgens mediaberigte in 2020, het Jasper Hoon, eienaar van die besigheid, in Augustus 2019  bedrogklagtes van R2.3 miljoen teen twee vorige werknemers ingestel.  Die twee werkers, en twee ander mense het reeds in 2014 die besigheid begin besteel. Die vier skurke sal vir ‘n volle 134 bedrogklagtes man moet staan, waaronder grafstene wat nooit opgerig is nie, asook grafstene wat uitmekaar begin val het.

Die beweerde skelms sal op 18de Julie vir die tweede keer in die Vredenburg  streekhof verskyn.

Die polisie het nie gereageer op verdere medianavrae nie en die justisie se streekmediawoordvoerder is blykbaar op vakansie.  Die Waarheid sal die hofsaak bywoon en terugvoering oor die onopgeloste saak aan sy lesers gee.

Leave a Reply