Skip to main content

Voetsoolvlak seëvier in Frankryk

In Brittanje is Wills, wat vandag 40 is, troongereed as ‘n monarg vir die millennium. Dit bevestig nuwe denkrigtings en ordes se opbloei oraloor soos die uitslag in die Franse parlementêre verkiesing ook bewys. Van koningshuise tot politieke bestelle word nie gespaar nie in gewone mense se groeiende versugtinge om gehóór en geken te word, skryf Sonnette Lombaard.

“Die mense het gepraat.” Só het ‘n verheugde Marine Le Pen die naweek gesê nadat haar verregse National Rally Party sy stemme in die Franse parlement met meer as tienvoudig vermeerder het. Daarmee het sy haar belofte ná die onlangse presidensiële stryd gehou dat sy nie die Franse volk sal verlaat nie en sal voortveg.

Le Pen het in April teen Emmanuel Macron verloor, wat toe as president herkies is, maar sy het nogtans ‘n rekordgetal stemme getrek. Macron moes egter nou, slegs twee maande later, in die parlementêre kernverkiesing sy volstrekte meederheid in die Franse parlement prysgee.

Dit word as ‘n verdere terugslag gesien vir middelmoot of lou-op-die-kantlyn politieke denke op die vasteland waar die winde van nuwe nasionalisme al sterker waai en die opkoms van veral regse politieke partye bevoordeel.

Die 53-jarige Le Pen, ‘n uitgeslape veteraan van die Franse politiek, het tydig haar en haar soms omstrede regse party se beeld aangepas om meer in pas met veranderde tye en eise te kom. Haar groei in die Franse politiek het selfs Macron genoop om nadat hy as president herkies is, te erken hy lei ‘n gefragmenteerde volk.

Hy is reeds ná sy eerste termyn van vyf jaar wyd gekritiseer vir sy “afsydige arrogansie” van realiteite waarmee sy landgenote daagliks worstel, soos stygende lewenskoste, aftree-ouderdom (pensioen) en ‘n verdeelde volk weens die uitkringende immigrante-kwessies.

Die uitslag in die parlementêre verkiesing toon ‘n groei in stemme na regs en links en bewys dat Macron en sy elitisme nie die steun van die gemiddelde Franse burger het nie.

In ‘n vernederende teregwysing van kiesers by die stembus, moes Macron 63 setels prysgee, wat beteken hy sal sukkel om sy middelpartyagenda deurgevoer te kry. Hoewel sy party met 245 setels steeds die meeste stemme in die parlement van 577 lede het, benodig hy nou die ander partye se steun om die vereiste 289 stemme te haal wat nodig is vir goedkeuring van wetgewing in die Laerhuis.

Macron sal dus sukkel om sy manifesbeloftes te volvoer soos versterkte integrering in die EU, die verhoging van die aftree-ouderdom en nuwe lewe blaas in Frankryk se kernindustrie.

Daarteenoor het sy opposisie aan die regterkantse en linkerkantse flanke gefokus op Alleman se hoop, soos verlaging van lewenskoste en verhoging in minimumlone.

Hoewel vooraf voorspel is dat Le Pen hoogtens 25-50 setels sou wen, het sy nogeens verbaas en spog nou met 89 setels in die parlement – dit nadat sy in 2012 slegs twee setels kon wen en dit na agt vermeerder het in 2017. Die 70-jarige linkse kandidaat Jean-Luc Melenchon van die Nupes Alliansie het na dese 131 lede in die parlement.

“Ons het daarin geslaag om Emmanuel Macron ‘n minderheidspresident te maak en demokratiese vernuwing te bewerkstellig,” het ‘n triomfantelike Le Pen agterna verklaar. Sy meen die uitslag lui ‘n nuwe hoofstuk in die Franse politiek in en het beloof dat haar parlementêre groep “alle patriotte sal verteenwoordig wat ons land van ondergang wil red”.

Kenners het gewys op die groter boodskap van die Franse kernverkiesing waarvan die res van Europa moet kennis neem: “die uitslag vertel van ‘n gebrek aan voetsoolvlakkennis en van die arrogansie wat ons dikwels toon”.

Die smagting van gewone burgers om gehoor en geken te word, woed en weergalm wyer op van straatvlak tot die hoogste vlakke. In Brittanje het die Britse volk se versugtinge hieroor juis uitgespeel in die suksesvolle Brexit-stem waarmee die land die EU gegroet het.

Dit kring tot sover as die Britse koningshuis waar winde van verandering ook al sterker waai. Met prins William wat geduldig in die vleuels wag maar slaggereed is om die Britse monargie in ‘n nuwe tydvak in te lui. Diė oudste seun van troonopvolger Charles en wyle prinses Diana vier vandag sy 40ste verjaarsdag.

Dit was immers sy ma wat meesterlik en moeitelooos die kloof van bevoorreg na gewoonweg na behoeftig oorgesteek en só in miljoene harte ingekruip het. Haar vermoë om die stem van die gewone burgerlike te hoor, het van haar ‘n eietydse ikoon gemaak. Dit moes afsmeer want haar oudste seun is gerat en begerig om die Britse monargie ‘n vars, eietydse voorkoms, asook en in- en aanslag te gee. Dit blyk uit ‘n berig in die Britse koerant Daily Mail, getiteld Millenium-monarg, ter viering van William se verjaardag.

Daarvolgens het William, wat na sy pa, prins Charles, aan bewind sal kom, sy eie sterk idees in pas met die tydgsees, oor hoe ‘n moderne monargie in ‘n nuwe millennium moet lyk en oorleef. Met sy ouma, koningin Elizabeth wat tans sewe dekades op die troon vier en op 96 jaar oppad uit is, en troonopvolger-pa Charles wat reeds 73 is, kan William binne ‘n dekade sy kans vir heers kry.

William steun glo ‘n kleiner, stroombelynde monargie wat ook geen plek sal hê nie vir openbare skandemakers soos sy oom Andrew wie se sekskapades met jong meisies die koninghuis om al die verkeerde redes in die nuus gehou en rooi gehad het. Word Wills se wense waar, sal ‘n toekomstige Britse koningshuis minder sprokie en meer in touch wees met die werklike lewe en onderdane se oorleef-versugtinge in ‘n klipharde samelewing.

Voorts aanvaar William ook die strewe en reg van volke om oor hulself te wil regeer en te besluit en meen lidlande wat uit die Britse Statebond wil onttrek, moet eerder aangemoedig en selfs geprys word. Hy en sy Kate se koninklike besoek aan die Karribiese eilande vroeër vanjaar het juis byna in ‘n fiasko ontaard toe plaaslike emosies oorgeborrel het oor Jamaika se planne om koningin Elizabeth as staatshoof te verwyder.

Twee dekades in die nuwe millennium bly die politieke speelveld vloeibaar en getrou aan sy aard dikwels onvoorspelbaar. Want wyl groot dele van die Westerse wêreld tans politieke ingrype na regs en populisme beleef, is die teenoorgestelde waar in Suid-Amerika. Op die vasteland is die voormalige guerrilla-vegter Gustavo Petro pas as die eerste linkse staatshoof van Colombia gekies.

Hy het die populis Rodolfo Hernández, wat met Donald Trump vergelyk word, getroef. Petro se oorwinning eggo soortgelyke linkse seges in Peru, Chile en Honduras.

Die tempo van politieke en ander ordes wat omver gegooi word, of minstens die oproepe daartoe, kring ver uit. Die les uit die pasgelope Franse verkiesing is egter onmisbaar – gewone burgers se stem kan nie geïgnoreer word nie. Die geskiedenis wys bevrydingstryde sal eindelik korte mette maak met uitgediende heerskappye en regeervergrype waardeur die Franse nou ook hul kruisies sekuur getrek het.

Leave a Reply